Kaartjies verkoop soos soetkoek vir US Woordfees

Vinette Abrahams en Christo Davids is te sien in "My naam is Ellen Pakkies"

Die Universiteit Stellenbosch (US) Woordfees begin Vrydag en daar is reeds meer kaartjies vooraf verkoop as wat by die 2011 fees in geheel verkoop is, berig die Universiteit se webblad.

Heelwat aanbiedings is reeds uitverkoop en kaartjies is slegs vir enkele aanbiedings beskikbaar. Dié fees, wat daarvoor bekend is dat hy van Suid-Afrika se grootste skrywers byeen kry, stel dié jaar nie teleur nie. Die bekende Belgiese digter Leonard Nolens en die Amsterdamse skrywer Kees Hart sal ook die fees bywoon.

Daar is ook talle uitstekende dramaproduksies wat aangebied word. Drie ekstra vertonings is reeds geskeduleer vir Nag, ma met Sandra Prinsloo en Antoinette Louw, wat ook ʼn wegholsukses by die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees was. Vaselinetjie, Agterplaas (reeds uitverkoop), en  My naam is Ellen Pakkies is van die produksies wat feesgangers sal bekoor. Ander treffers sluit in Mooi Maria, Die rebellie van Lafras Verwey en TaMiem van Swellendam van Bettie Kemp. Amanda Strydom is terug op die verhoog in Voor ek vergeet… Sandra Prinsloo se nuwe drama, Buitepos, maak ook sy debuut tydens die fees.

Kunstenaars span dié jaar saam om luisteraars se ore te streel en harte te steel. Kurt Darren en Koos Kombuis, Chris Chameleon en Kaleidoskoop, Karen Zoid en Zolani Mahola is van die kunstenaars wat saam op die verhoog sal verskyn. Amanda Strydom se Binnekamer, Coenie de Villiers se Hart van glas, en Hier huil jy net twee keer met Dana Snyman en Klopjag is reeds uitverkoop.

Die US Woordfees se bemagtigingsprojek, Woorde Open Wêrelde, bied ’n reeks werkswinkels aan vir leerders en onderwysers van alle ouderdomme. Nanette van Rooyen, Fanie Viljoen en Carina Diedericks-Hugo is by die WOW-Karnaval op 9 en 10 Maart betrokke.

Vir meer inligting en die volledige feesprogram, besoek die Woordfees se webwerf. Kaartjies is by Computicket beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.