Kampvegter vir Afrikaans tot ATKV-direksie verkies

Marlene le Roux. (Foto: Verskaf)

Marlene le Roux. (Foto: Verskaf)

Marlene le Roux, ʼn bekende kampvegter vir Afrikaans, kultuur, die jeug en gestremdes, is tydens die ATKV se algemene jaarvergadering by die Klein Kariba-ATKV-oord op Bela-Bela verkies tot die direksie van die ATKV-MSW (maatskappy sonder winsbejag).

Luidens ʼn mediaverklaring van die ATKV sê Le Roux, wat sedert 2015 die uitvoerende bedryfshoof van die Kunstekaap-teater in Kaapstad is, dit is haar passie om ʼn verskil te maak. “Ek wil deur kuns en kultuur uitreik na die diverse gemeenskappe in ons samelewing en ʼn platform skep waar almal kan tuishoort, veral die gemeenskappe wat voorheen op kulturele, ekonomiese en sosiale vlakke gemarginaliseer is.”

Sy is betrokke by verskeie organisasies, en is onder meer die voorsitter van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans, die Desmond en Leah Tutu-nalatenskapstigting en die Chrysalis Jeugakademie. Sy dien ook as lid van die presidensiële werkgroep oor gestremdhede.

“Dat Le Roux se werk wye erkenning – ook internasionaal – geniet, blyk uit die talle toekennings op haar indrukwekkende CV,” lui die verklaring. “Dit wissel van die Commonwealth Point of Light Award en ʼn ministeriële toekenning van die Wes-Kaapse provinsiale regering tot toekennings van die Afrikaanse Taalraad en Franse regering (waaronder ʼn ridderskap vir haar bydrae tot die uitvoerende kunste).”

Le Roux het ná haar verkiesing gesê dat die ATKV se lede ʼn baie belangrike rol speel. Sy het ook beklemtoon dat daar op die jeug konsentreer moet word. “Die jeug is nodig om die organisasie vorentoe te neem, die werk van die afgelope 89 jaar verder uit te bou en die organisasie se visie vir Suid-Afrika te implementeer.”

Dirk Lotter is herverkies tot die direksie. Lotter dien die afgelope vier jaar reeds as lid van die ATKV-MSW-direksie in die sakeportefeulje. Hy dien ook op die direksie van ATKV-Sake en Hartenbos Seefront, asook op verskeie komitees van die ATKV.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andreas ·

Lees ek, wat ‘n kampvegter en aktivis vir Afrikaans en die wildlewe is, hierdie berig. Mooi proteas, mooi plesjas.

Andreas ·

Skuus, die letters kom maar nou en dan agterstevoor by my aan, dit moet seker pelsjas wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.