Karel Schoeman: Die ou gesegde oor ’n goeie skrywer

Karel Schoeman

Karel Schoeman (Foto: kykNET)

’n Persoonlike waardering – Karel Schoeman (26 Oktober 1939 – 1 Mei 2017)

Deur Nicol Stassen

Die ou gesegde dat ’n goeie skrywer meer van die persoonlikheid van sy hoofkarakters onthul, terwyl die swak skrywer meer van homself onthul, is maar alte waar. Van Karel Schoeman is die eerste deel van dié gesegde selfs nog meer waar.

Karel Schoeman was in sy latere lewe enersyds iemand wat vreeslik min van sy persoonlike lewe onthul het, maar andersyds in Die laaste Afrikaanse roman ongelooflik baie van homself onthul het, en wel heel eerlik en openlik.

Oor sy werk sal nog baie geskryf word, maar die belangrikste kommentaar daarop is dit wat hy self geskryf het. Die ongeveer 130 werke van allerlei aard wat gedurende sy lewe gepubliseer is, en ander wat nog gepubliseer sal word, is waarskynlik sy eie, grootse Afrikaanse taalmonument.

Omdat hy in sy eie lewe so ’n privaat persoon was en sy privaatheid hoog geag het, is ’n mens dus huiwerig om iets van hom bekend te maak wat jy nie gedurende sy lewe bekend sou maak nie. Hy was in sy private lewe ’n besonder hartlike, geliefde en gelukkige man, soos wat in sy Sotho-naam Ntate Thabo (vader van vreugde) weerspieël word. Hy sou dus ongetwyfeld verras gewees het as hy op 2 Mei kon sien watter leemte hy in die persoonlike lewe van baie kennisse, korrespondente of uitgewerspersoneel gelaat het en hoeveel trane oor hom gestort is. Hy was ’n persoon wat intens meegelewe het in die persoonlike lotgevalle van die mense met wie hy te doen gehad het, hetsy redakteurs, administratiewe personeel en bodes by uitgewers en selfs die skoonmakers by die aftreeoord waar hy gewoon het.

Hy sal dus ongetwyfeld voortleef, nie net in die boeke wat reeds gepubliseer is nie, maar ook in dié wat later vanjaar en in komende jare gepubliseer sal word. Solank Afrikaans gepraat sal word, en selfs langer, sal Karel Schoeman se naam gehuldig word. Sy plek in die Afrika-letterkunde en die wêreldletterkunde sal nooit gevul kan word nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Afrikaans, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Henry ·

Baie dankie Nicol Stassen vir ‘n kort en in-die-kol huldeblyk aan een van ons heel grootste en nederigste Afrikaanse skrywers.

Saartjie B ·

Dankie vir hierdie bondige, opregte huldeblyk. Karel Schoeman se omvangryke bydrae tot die Afrikaanse literatuur en sy ‘vermensliking’ van die vroeë Suid-Afrikaanse geskiedenis verdien eintlik ‘n staatsbegrafnis … maar nou ja, dit sou totaal onvanpas wees. Eerder die Nobelprys …

Teresa ·

Sy deurdagte selfmoordbrief gryp aan die hart en ons word ‘n kykie gegun tot in sy siel en als voel soos ‘n massiewe ondeurdagte tragedie! Baie hartseer..

John ·

Deurdag ja, ongelukkig… en ‘n slegte nalatenskap en voorbeeld as dit mense aanmoedig om doelbewus ek-is-die-baas-oor-ek skokgolwe te laat weergalm vir doelbewuste effek en nalantenskap van ‘n grootheidswaan… briewe en gesprekke van ‘n gewone sterfeling en sy behoefte aan beroemdheid… Studente wat sy werk bestudeer moet nou blootgestel word aan sy verwronge denke op sy oudag. En geleerde Afrikaners spring nou sommer self op die bootjie saam met Pluto na die onderwereld so asof ons die nadoodse ook kan kies as ons op aarde glo so gesiene was en help gretig andere opklim.

Downunder. ·

Tragies. Ek ken die man gladnie. Ek verwys na die vorige komentare. Daar is baie verwyder. Dit was skokkend om te sien op die vorige komentare hoeveel ge reageer het en dat mense gese het dat hulle ook selfmood sal pleeg as hulle ouer word indien siekte intree. Ruk julle reg. God is in beheer van elkeen se lewe en mag nie self geneem word nie. Dit is selfsugtig om familie en kinders in sulke omstandighede agter te laat. As daar siekte is, bid tot genesing. Jammer om te hoor. Rip.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.