Karoo-kinders bevorder Afrikaans speel-speel

Sowat 50 tuisonderrigleerders van Graaff-Reinet het deelgeneem. (Foto: Verskaf)

Kaarte, dobbelstene of letterblokkies? As jy op soek is na ʼn bordspeletjiekampioen wat enige hiervan lag-lag kan kafdraf, het die jongste aanbieding van die grootste speletjieolimpiade in die land verskeie kampioene opgelewer.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het die afgelope naweek in samewerking met die bordspeletjievervaardiger Spoetnik weer gasheer vir ’n groep leerders gespeel tydens nóg ʼn aanbieding van sy gewilde speletjieolimpiade.

Sowat 50 tuisonderrigleerders van Graaff-Reinet is uitgedaag om hul kennis oor geskiedenis, taal én sake op die proef te stel deur aan vier van Spoetnik se gewilde speletjies, Tel jou woorde, Boereplaas, TydToer en Patriot-troefkaarte, deel te neem.

Sedert Spoetnik in 2015 unieke Afrikaanse bordspeletjies begin vervaardig en versprei het, is meer as 13 speletjies al bekendgestel.

Die FAK wil ‘n liefde vir die Afrikaanse taal, kultuur en geskiedenis onder die jeug met dié olimpiade kweek. (Foto: Verskaf)

Gautengse tuisskoliere het in Maart die geleentheid gehad om aan die eerste aanbieding van hierdie speletjieolimpiade by die Voortrekkermonument in Pretoria deel te neem. Hier het die 11-jarige Maya van Schalkwyk van Irene, Centurion, uiteindelik met die louere as eerste Afrikaanse bordspeletjiekampioen weggestap.

Marno Strauss, projekkoördineerder van die FAK, sê dat die FAK met die olimpiade poog om nie net die Afrikaanse taal, kultuur en geskiedenis te bevorder nie, maar ook om weer ’n trots en liefde vir hul kulturele erfenis onder Suid-Afrikaanse jongmense te kweek.

“Ons het die speletjieolimpiade aangebied om Afrikaans te bevorder deur vir die tuisskoolleerders ’n geleentheid te gee om te speel én te leer in Afrikaans,” verduidelik hy.

“Die speletjies is só ontwerp om verskeie vaardighede te ontwikkel en geskiedkundige gebeure te leer ken terwyl jy jou ook geniet. Die olimpiade het breë glimlagte onder die kinders veroorsaak en hulle het dit baie geniet.”

Na ’n daglange stryd is Janko Malan gekroon as die algehele wenner en hy het weggestap met al vier van die bordspeletjies as prys.

Dié jong kampioen sê Tel jou woorde is sy gunstelingspeletjie en hy kan ook nie wag om sy eie gesin met die speletjie uit te daag nie.

Vier van Spoetnik se gewilde speletjies is tydens die olimpiade gespeel. (Foto: Verskaf)

“Ek het die speletjies baie geniet. Dit was vir my baie spesiaal om speletjies soos ‘Top Trump’ waarvan ek nog altyd hou, in Afrikaans te kon speel.”

Nico Steyn, operasionele bestuurder van Spoetnik, sê die olimpiade kweek bewustheid onder jongmense oor watter Afrikaanse speletjies deesdae op die mark is.

“Ons waardeer die FAK se rol in hierdie soort projekte. Dit is baie belangrik dat ons weer ons jongmense betrek by ons taal-, kultuur- en geskiedkundige erfenis,” sê hy.

Die Karoo-kuier is afgesluit met ’n talentkompetisie waar oud en jonk hul kreatiwiteit op die verhoog kon uitleef.

  • Vir meer inligting oor die volgende speletjieolimpiade, kontak Lieandri Ackermann by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Groen Ghoen ·

Fantasties! Afrikaans doodkry met sulke kreatiwiteit? Neewat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.