King James kraai koning in Afrikaans by Pendorings 2015

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Die reklamemaatskappy King James het by vanjaar se Pendoring-reklametoekennings koning gekraai deur weg te stap met die prestigeprys, ʼn oorsese studiereis ter waarde van R100 000, vir hul Sanlam Musiekfees-veldtog.

Vanjaar se Pendoring-toekenningsgeleentheid, ʼn jaarlikse hoogtepunt op die agenda van Afrikaanse adverteerders, media-eienaars en bemarkingsagentskappe, is Vrydagaand by Vodaworld in Midrand aangebied. Vanjaar se geleentheid was veral spesiaal omdat dié organisasie sy 20ste bestaansjaar vier.

Die beoordelaars het die wen-veldtog vir die Sanlam Musiekfees se lof besing: “Dit was lekker om ’n Afrikaanse veldtog te sien wat op ’n uiters moderne manier beplan en uitgevoer is. Dit het ʼn outentieke gevoel gehad, was moeilik om te ignoreer, glad nie verkoperig nie en het ʼn mens lus gemaak om deel te neem,” het Leon Jacobs, hoofbeoordelaar en uitvoerende skeppende hoof van Havas Boondoggle, Kaapstad, gesê.

Kaartjieverkope vir die Sanlam Musiekfees het vanjaar, danksy dié kreatiewe veldtog, met 77% toegeneem teenoor verlede jaar se verkope.

Die algehele wenner in die studentekategorie is Casper Schutte van die Stellenbosch Academy of Design and Photography met sy inskrywing “Ja Oom, Nee Oom” in die kategorie Kommunikasie-ontwerp. Volgens die beoordelaars was Schutte se werk goed genoeg dat dit selfs in die professionele afdeling sou kon wen. Schutte het twee goue Pendoring-toekennings, R22 000 en ʼn internskap by Etiket Reklame-agentskap vir 2016 ingepalm.

Die Pendoring-toekennings se 20ste verjaardag is in styl gevier met topvermaak deur kunstenaars soos Bongi, Riana Nel, LeAnne Dlamini en die Mzanzi Youth Choir. Nadat die Pendoring-toekennings in 2015 teleurstellende werk in veral Afrikaans opgelewer het, was die beoordelaars oor die algemeen vanjaar uiters beïndruk met die gehalte van die werk wat in Afrikaans ingeskryf is. Die prestige-prys van R50 000 is nie in 2014 toegeken nie, maar is oorgedra na 2015, sodat die prysgeld vanjaar op R100 000 te staan gekom het.

Altesaam 50 goue en silwer Pendoring-trofeë is toegeken: 39 aan professionele agentskappe en 11 aan studente. Van die nege goue Pendorings wat aan die agentskappe toegeken is, is twee aan TBWA\Hunt\Lascaris, Johannesburg, Baie-Lingual Concepts en Promise Brand Specialists toegeken en een elk aan die agentskapsgroep King James, Etiket en FCB, Kaapstad.

Die agt silwer wenners in die studentekategorie is die Noordwes-Universiteit (5), Universiteit van Pretoria (1), AAA School of Advertising, Johannesburg (1) en Vega School of Brand Leadership, Pretoria (1).

Volgens Karen Meiring, hoof van KykNET wat een van die platinum-borge van Pendoring is, is dié reklametoekennings onmisbaar. “Goeie reklame genereer nie net nodige inkomste vir Afrikaanse organisasies nie, maar dit het ook die vermoë het om met mense se harte te praat en hulle tuis te laat voel,” het sy gesê.

Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV-groep, ook ʼn platinum-borg, meen daar is vanjaar veral ook klem gelê op reklame in ander inheemse tale, omdat mense meer positief regeer op reklame in hul moedertaal.

Kliek hier om die volledige lys toekennings te sien.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.