Koester jou moedertaal

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Wêreld-Moedertaaldag word sedert 17 November 1999 oor die ganse aarde jaarliks op 21 Februarie gevier ten einde taalkundige en kulturele verskeidenheid en veeltaligheid te bevorder. Vir my is Moedertaaldag Afrikaansdag omdat ek Afrikaans is en Afrikaans gaan bly. Daarmee saam gun ek al die ander moedertaalsprekers die reg om hul onderskeie moedertale te koester.

Hoekom ’n Moedertaaldag? mag jy vra. Omdat die taal waarin ek leer dink en praat het, nie net op my tong bly sit het nie, want ek ís die taal waarin ek my diepste sê kan sê. Ek huil die seerste in my moedertaal en ek lag die lekkerste in die taal van my eerste huis.

Daar is twee goed wat ek slegs in my moedertaal ordentlik kan doen, en dit is om te bid en te vloek. Miskien is ordentlik dan nie heeltemal die regte woord nie, maar al ken ek al die woorde van ’n tweede of ’n derde taal, bid ek in die taal wat ek kleintyd by my ma geleer het en ek vloek in die taal wat my slegte maters kleintyd by hul ma’s gehoor net.

Dit is hoekom dit moedertaal genoem word: Jou identiteit spreek uit die woorde wat jy geken het lank voordat jy jouself geken het. Navorsing bewys nie verniet, op grond van empiriese data, die onskatbare voordeel van moedertaalonderrig nie.

As jy die basiese vaardighede vasgelê wil hê, vestig dit by die kind in sy of haar moedertaal en jy gee jou kind van die begin af die voorsprong wat hy of sy nie later met enige geld sal kan koop nie.

Dit geld nie net vir Afrikaans nie, maar vir elke ander moedertaal. Die grootste onreg wat steeds in ons onderwyspraktyk aan ons kinders gedoen word, bly die feit dat verreweg die meerderheid leerders in ’n taal anders as hul moedertaal matriek moet skryf – asof die 1976-opstand vir niemand ’n les was nie …

Ek is uit huis uit Afrikaans. Ek eet selfs in Afrikaans en daarom koop ek my kos in Afrikaans. Soos nou die dag in die Spar. Kom die jongman by my waar ek voor die speseryrak staan, op soek na kaneel.

“Oom,” vra die jongeling met ’n botteltjie turmeric in sy hand, “ek soek kaneel, maar ek weet nie wat dit in Engels is nie en hier is net Engels op die speserye.”

“Nee, swaerie,” sê ek met ’n botteltjie cinnamon in my hand, “ek soek self na kaneel, die vrou wil pannekoek bak, want die kleinkinders kom kuier en selfs die Engelse bak pannekoek in Afrikaans.”

“Ja,” beduie hy na die papier in sy hand, “ek is ook gestuur, maar die resep is in Afrikaans, oom.”

“Net so,” sê ek grimmig, “en seker tagtig persent van die resepteboeke in Suid-Afrika is Afrikaans!”

“Die speserymense kan seker nie lees nie, Oom.” Dis toe dat die netjiese vrou tussen ons kom staan.

“Menere, kan ek julle help?”

“Asseblief,’ sê ek, “ons soek kaneel, maar g’n mens weet wat kaneel in Engels is nie.”

Sy glimlag. “In my taal is dit sinamone, maar dis Sesotho.”

“Dan moet dit seker cinnamon wees,” verklaar die jongman en kyk op sy selfoon.

Vandag se jongmense druk mos ’n knoppie vir als. “Ek kon op Google Translate gekyk het,” sê hy en soek verder op die rak.

Ek draai die botteltjie in my hand so dat hulle nie cinnamon op die etiket kan sien nie en neem verleë die botteltjie kaneel wat die kêreltjie vir my aangee. Sal maar by die kleinkinders moet hoor wat die translate-ding is.

Eers toe hulle weg is, sit ek die orige botteltjie kaneel sommer op die naaste rak neer met die etiket na agter. Hoe moes ek nou weet dat kaneel in ’n ander taal nie kaneel is nie? En dit boonop nog op Moedertaaldag. En Engels is tog sekerlik nie die enigste moedertaal in Spar nie?

Moedertaaldag is die viering van elkeen van ons se moedertaal. Dit moet net nie gevier word as ’n dag van eentaligheid nie! Om jou moedertaal te respekteer, beteken nie dat ’n mens nie ander tale nodig het nie, want daar is voortdurend situasies wat die kennis van ’n ander taal voordelig, indien nie onontbeerlik, maak nie. Dink maar aan Engels en die digitale wêreld of Mandaryns as jy in China tevergeefs iets op straat probeer koop. Hier by ons wen jy harte as jy met iemand in sy of haar moedertaal kan praat, al kan jy net ordentlik groet.

Moedertaaldag is mý dag vir Afrikaans, terwyl ek verstaan dat dieselfde dag ook Moedertaaldag vir anderstaliges is.

Praat en lees Afrikaans op Moedertaaldag, maar onthou terselfdertyd: Elke taal wat jy ken, is ’n nuwe vriend wat jy wen!

Maar vir ons wat Afrikaans is, is 21 Februarie Afrikaansdag. Gaan koop dus vir jou en jou mense elkeen ’n Afrikaanse boek!

Meer oor die skrywer: Hans Du Plessis

Hans du Plessis is ‘n woordmens van formaat: taalkundige, skrywer, digter, navorser, akademikus en dramaturg. Hy het groot bekendheid verwerf met sy bundels Griekwapsalms.

Deel van: Afrikaans, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eclectus ·

Die grootste bedreiging vir Afrikaans is nie die ANC of Lesufi nie, maar die sogenaamde Afrikaanssprekende self. Hy behandel sy taal soos ‘n stout kind sy speelgoed. Hy mishandel en verniel dit, maar word daar gedreig om dit weg te neem, wil hy ‘n vloermoer gooi. Ek krimp daagliks ineen wanneer ek aanhoor hoe die taal vernietig word, selfs op RSG. Iemand het eendag te kenne gegee dat ek moet onthou taal “evolve”. My reaksie was dat ek saamstem dat taal voortdurend ontwikkel, maar hy kan dit nie doen deur met ander tale uit te baster nie. Statisties is Afrikaans na Zoeloe en Xhosa die derde grootste taal in Suid-Afrika. Meer as 13% van die bevolking praat Afrikaans. Engels is die vierde grootste met minder as 10% van die bevolking wat dit gebruik. Daar word geraam meer as 8 miljoen mense praat Afrikaans wêreldwyd. Indien slegs moedertaal in ag geneem word, is Engels nie eers die grootste taal in die wêreld nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.