Kokertoekennings bedank Afrikaanssprekendes vir hul bydraes

Die Kokertoekennings van die Afrikaanse Taalraad (ATR) is Vrydag op die Zevenwacht Landgoed in Kuilsrivier oorhandig. Die Kokers is die hoogtepunt van die ATR se jaar en ʼn geleentheid om ʼn groep baie spesiale mense te bedank vir wat hulle die afgelope jaar vir Afrikaans gedoen het.

Conrad Steenkamp, hoof van die Afrikaanse Taalraad, verduidelik die Kokertoekennings weerspieël die ATR se fokus op die bevordering van Afrikaans in sy volle diversiteit binne ʼn meertalige bestel. “Die reikwydte van die toekennings, vanaf voetsoolvlak tot teaters en lesingsale, simboliseer die vervlegting van Afrikaans se sprekers, en die samewerking en kreatiwiteit wat nodig is om Afrikaans vir sy sprekers te laat werk.”

Die volgende Kokers is vanjaar toegeken:

  • Twee Kokers vir lewenslange bydraes tot Afrikaans.
  • Drie Kokers vir bydraes tot bemagtiging deur Afrikaans en die beskerming en bevordering van Afrikaans.
  • Drie erepennings vir die jeug.

Die hoofdoel van die ATR is om Afrikaans in sy volle diversiteit binne ʼn meertalige verband te bevorder. Die ATR bevorder ook versoening tussen Afrikaanssprekendes asook Afrikaanse moedertaalonderrig op skool- en universiteitsvlak. Die ATR werk ook saam met die land se ander inheemse tale om meertaligheid sterker op die beleidmakers se agenda te plaas. Die ATR is ʼn konfederale liggaam met meer as twintig groot en klein Afrikaanse taal- en kultuurorganisasies as lede.

Suzie Matlhola

KOKERTOEKENNINGS
Suzie Matlhola: Bemagtiging deur Afrikaans

Suzie se pad met Afrikaans het 29 jaar gelede in Junie 1988 begin toe sy op pad na ʼn werksonderhoud by die ATKV se ou kantore in Braamfontein verbygestap en ʼn ATKV-werknemer gegroet het. ʼn Gesprek het begin en sy is dieselfde dag nog by die ATKV aangestel. Toe sy die aand haar vriendin vertel dat sy werk by die ATKV gekry het, vra die vriendin of sy Afrikaans kan praat. “Nee,” het Suzie geantwoord, “maar ek gaan Afrikaans leer praat.”

Tien jaar later, en met ʼn kort Afrikaanskursus by die UP agter die blad, het sy begin om haar seuns en sy vriende in die middae met hulle Afrikaans te help. Uiteindelik besluit sy om vir hulle ekstra klasse op Saterdae te gee. Hiervoor het sy ʼn kleuterskool gebruik en moes na ’n rukkie nog iemand kry om te help.

In 2002 stig sy ʼn damestak van die ATKV in Soweto wat begin het om kombersies vir vigs-sentrums te maak. Drie jaar later sien Biblionef ʼn artikel oor die skool in die Taalgenoot, die ATKV se tydskrif, raak. Hulle wou vir Suzie boeke geskenk. Suzie het egter nie ’n plek gehad waar hulle die boeke kon bêre nie. Kort daarna skenk Breadline Africa ʼn vraghouer aan Suzie om hiervoor te gebruik. In hierdie stadium was daar al by die 40 kinders wat die Saterdagskool bygewoon het.

In 2006 sterf Suzie se man en seun in ʼn groot motorongeluk. Na ʼn jaar van rou het sy die ATKV-tak herstig onder die nuwe naam “Vorentoe”, waarmee die Saterdagskool toe ook ʼn projek van die ATKV geword het.

Die projek het aanhou groei, en in 2013 het Suzie saam met haar projek na die taalafdeling van die ATKV verskuif. Sy en haar kollegas het klasse by die Departement Afrikaans (UJ) begin bywoon en geleer hoe om Afrikaans vir die kinders aan te bied. Tot vandag toe besoek die Departement die projek gereeld om Suzie en haar sewe medevrywilligers ondersteuning te gee.

Daar is nou ook klasse in Ennerdale, Turffontein en Roodepoort wat altesaam meer as 200 kinders per week bereik. Suzie leer mense nie net Afrikaans nie, maar verander ook mense se houding jeens Afrikaans. Wanneer kinders en grootmense nuwe geleenthede in of deur Afrikaans kry, word hulle lewens daardeur verander.

Partykeer is net een mens nodig om verandering teweeg te bring. In haar eie woorde: “Dit vat een mens om ’n klip op te tel en opstande mee te begin. Dit kan ook net een mens vat om iets goeds te doen en ’n gemeenskap te verander.”

Diana Robertson

Diana Robertson: Bevordering van Afrikaans

Eldoradopark, of Eldos, soos die inwoners daarna verwys, is ʼn woonbuurt wat in die vorige bedeling ontwikkel is as blyplek vir bruin mense. Verskeie verskilmakers kom uit hierdie gemeenskap: Mense soos Bianca Le Grange, Liesl Laurie, Debra Meyer en Diana Robertson. Nie net het Diana in Eldoradopark grootgeword nie, sy en haar man Innocent en dogtertjies Zoe en Ava woon steeds daar. Die gemeenskap van Eldoradopark is ʼn baie hegte gemeenskap, ten spyte van swaarkry en sosio-maatskaplike probleme soos dwelms, geweld en werkloosheid. Die gemeenskap deel in mekaar se swaarkry, maar ook vreugde, en toe Diana in Oktober 2017 aangewys is as die eerste prinses in die Mev. Afrika-kompetisie, het die vreugdevure hoog gebrand. By dieselfde geleentheid het Diana ook met die toekenning Mev. Afrika Toerisme Aarde weggestap.

Diana het haar laerskooldae aan Eldoradopark Primêr deurgebring en het in 1999 aan Kliptown Sekondêre Skool gematrikuleer. In 2012 het sy ʼn Nagraadse Onderwysdiploma behaal en in 2014 haar B Ed Honneursgraad in Onderwys. Sy is tans besig met haar Meestersgraad in Opvoedkunde: Kurrikulumstudies aan die Universiteit van Johannesburg waar sy ook ʼn senior tutor is.  Diana se ma, Patricia Robertson, is in Maart 2016 oorlede. Diana vertel graag dat dit haar ma is wat ’n onblusbare liefde vir Afrikaans by haar vasgelê het.

Aan die begin van 2017 het sy ’n doelbewuste besluit geneem om terug te ploeg in Eldoradopark se gemeenskap, en die deelname aan die Mev. Afrika-kompetisie was vir haar die ideale geleentheid daarvoor. Hierdie kompetisies se oogmerk is om aan vroue erkenning te gee en ook die geleentheid om ’n verskil in hulle plaaslike gemeenskappe te maak.

Een van Diana se projekte van die afgelope jaar was die oprigting van ’n biblioteek by Eldoradopark Primêr. Sy was tot aan die einde van 2016 ’n onderwyseres aan hierdie skool, en dit was duidelik dat die skool dringend ’n groter biblioteek nodig gehad het. Met borgskappe van Standard Bank en die Universiteit van Johannesbrug, is daar ’n skeepshouer op die skoolterrein opgerig, en dit is reeds gevul met talle boeke wat verskeie organisasies en individue geskenk het. Dit sal toenemend volgemaak word met die hulp van weldoeners.

Diana, wat ook ’n ballerina is, het al vir jare lank ’n dansprojek in Eldoradopark, “A Leap of Faith” in Eldoradopark, wat jongmense konstruktief deur middel van dans, besig hou. Diana het ook die beweging Own your own Destiny gestig om jong vroue te bemagtig. Enige jongmeisie wat nie haar skoolloopbaan kon voltooi of verder kon gaan studeer nie, kry hier die geleentheid om as skoonheidsterapeut opgelei te word. Sodoende word ʼn beter toekoms vir hierdie jong vroue verseker.

Die manier waarop die hele Eldoradopark, wat geskiedkundig grootliks Afrikaanssprekend was, tans verengels, is vir Diana ’n reuseprobleem. Sy werk tans hard om Afrikaans se vuurtjie in Eldoradopark te laat brand, en gebruik die kunste as haar instrument. Afrikaanse dramas en vertonings, boeke, gedigte, sang en dans is alles maniere hoe Diana Robertson haar storie in Afrikaans vertel. Afrikaans is vir haar die verfkwas waarmee sy kleur aan haar omgewing gee.

Werner Human

Werner Hugo: Beskerming van Afrikaans

Werner glo dat die antwoord vir Afrikaans se voortbestaan nie neerkom op een spesifieke oomblik of uitweg nie, maar op ʼn voortdurende strydvoering, veral vanuit jonger geledere.

Werner is reeds vanaf 2014 aktief besig om Afrikaans vanuit ʼn regsperspektief te beskerm.

In 2014 staan hy talle Afrikaanse skole by met litigasie en regsadvies rakende die inmenging in skole se taalbeleide vanaf makrovlak. Danie Malan se saak draai in die hof en Werner vorm deel van dié skool se regspan.

In 2015 het hy verder, in opdrag van die Federasie van Suid-Afrikaanse Skoolbeheerliggame (Fedsas) ʼn suksesvolle interdik teen die huidige LUR vir onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, sowel as die Gautengse departement van basiese onderwys, bekom oor die implementering van sekere aspekte van dié departement se e-aansoeke, onder meer die taalopsie op dié stelsel.

Nie net bied hy regsadvies en -hulp aan skole met betrekking tot taal nie, hy word ook vanaf 2016 deur AfriForum en Solidariteit as prokureur aangestel in die hofstryd teen die rade van die Universiteit van Suid-Afrika en die Vrystaat se onderskeie Engelse taalbeleide.

Sedertdien word hy gereken as ʼn kenner op die gebied van linguistiese regte met betrekking tot Afrikaans in die Suid-Afrikaanse onderwys en word hy vanuit verskillende geledere versoek om regsmenings te skryf oor sekondêre en selfs tersiêre taalbeleide.

Werner kan definitief beskou word as ʼn voorbeeld vir almal, maar spesifiek vir die jeug, as iemand wat die beskerming van Afrikaans as ʼn roeping, eerder as deel van sy dagtaak, sien.

Mercy Kannemeyer

EREPENNINGS
Mercy Kannemeyer

Mercy Kannemeyer is ʼn honneursstudent in drama en teaterstudie aan die Universiteit Stellenbosch (US) en spesialiseer in Toegepaste Teater. In haar dokumentêr Die ander kant vra sy die vraag wat ons gaan verloor as Afrikaans aan die US as onderrigtaal afgeskaf word en belig sy dus ʼn kwessie waarvan daar dikwels weggeskram word.

Met Die ander kant het Mercy ’n geleentheid gebied vir versweë bruin stemme oor ’n breë spektrum heen – onder meer akademici, skrywers en studente – om gehoor te word oor die onderrigtaalkwessie aan die US. Die film toon dat alle Afrikaanse studente, ook en veral bruin studente, negatief geraak sal word indien Afrikaans aan die US afgeskaf sou word.

Onderhoude met die US-studente het gedui op ’n wegbeweeg van ’n onderrigtaalpraktyk van 50% Afrikaans en 50% Engels na een wat merendeels Engels aanbied, ʼn situasie wat die Afrikaanse studente negatief raak.

Mercy wou met Die ander kant ook die waarde van moedertaalonderrig belig. Verskeie persone het hulle juis ten gunste van moedertaalonderrig uitgespreek, ʼn beginsel wat wêreldwyd deur opvoedkundiges as beste praktyk beskou word. By die Taalraad se jeuggesprek oor die verskuiwing van onderrigtaal van Afrikaans na Engels vroeër vanjaar, argumenteer sy dat Afrikaans behou moet word omdat dit reeds oor die infrastruktuur as akademiese taal beskik, terwyl die ander ampstale ook tot akademiese tale ontwikkel moet word.

Mercy is uitgesproke oor haar liefde vir Afrikaans. Terwyl sy haar voorberei vir ’n beroep in die teaterbedryf, leef sy haar ook uit as skeppende skrywer en skryf sy veral poësie. Haar veelsydigheid hou egter nie daar op nie, want sy doen ook radiowerk. Sy glo dat teater, veral toegepaste teater, mense se lewens en denke kan verander. Dit is juis belangrike dryfveer vir die dokumentêr Die ander kant waarin sy met haar fokus op ʼn spesifieke dimensie, die heersende denke en praktyke oor onderrigtaal in hoër onderwys wou beïnvloed.

Sue Pyler

Sue Pyler

Sue Pyler is ʼn gewilde omroeper by RSG. Haar Afrikaans is kleurvol, want sy hou daarvan om sover as moontlik elke streek se Afrikaans deel te maak van die Afrikaans wat sy praat. Die egtheid en eiesoortigheid van streekstaal soos dié van die Noord-Kapenaars, die mense van die Kaap en die Karoo onder andere, bekoor haar en in haar middagprogram op RSG deel sy interessante nuusbrokkies en doen sy veral moeite om streektaal, dialek en variante te vier en te verken.

Sue Pyler se droom was om eendag ’n mediese dokter te word. Maar nadat haar graad 12-onderwyseres van die Hoërskool Outeniqua in George, haar vir ’n nasionale dramakompetisie ingeskryf het en sy dit gewen het, het haar kop radio se kant toe gestaan.

In haar oorbruggingsjaar het sy gemeenskapsradiowerk gedoen, toneel gespeel en toe besef sy is nie vir die hospitaalteater bestem nie. Sue het ingeskryf vir ’n dramagraad aan die Universiteit Stellenbosch en in haar finale studiejaar by gemeenskapsradiostasies begin uitsaai. Na ses maande het RSG haar genooi om die program Befonk aan te bied, en sy het haar uitstekend van haar taak gekwyt. Soveel so dat sy haar aan die begin van 2015 in Johannesburg gaan vestig het toe sy aangestel is as aanbieder van Middag op RSG. In Middag op RSG, trakteer sy, saam met mede-aanbieder Ettienne Ludick, die luisteraars op ʼn potpourri van heerlike, opwindende nuusbrokkies uit die Suid-Afrikaanse leefwêreld. Selfs die berugte Hoëveldse donderstorms kry dit nie reg om vir Sue, ʼn kletskous by uitstek, stil te maak nie.

Sue doen ook gereeld boekvoorlesings op RSG. Sy het al uit Chris Karsten se Die dood van ’n goeie vrou en Anastasia de Vries se Taxi huis toe voorgelees.

Dat sy versot is op en haar uitleef in die radiowese en teater is te herlei tot haar passie vir kommunikasie, vir kontak met mense. Van kleins af reeds het sy gereeld na die radio geluister, en geen wonder nie. Want van haar grootworddae af was sy lief vir praat, soms te veel erken sy, want sy is gereeld stilgemaak. Sy kommunikeer ook graag deur middel van dans, haar eerste liefde. Maar dis in die radiowese waar Sue se liefde vir toneelspel en vir kommunikasie mekaar vind, en sorg vir heerlike luistergenot. Maar hoe ook anders: Vir haar draai die wêreld om praat en is haar lewe een groot drama.

Met haar erkenning en viering van die verskillende vorme van Afrikaans, demonstreer Sue die veelkantige aard van Afrikaans en dra sy by tot die skep van ʼn positiewe beeld van Afrikaans se streekstale.

Sue Pyler is ʼn ambassadeur vir Afrikaans by Afrikaans.com.

Marelize Swanepoel

Marelize Swanepoel

Marelize se eerste onderwyspos was aan Florida Park High School, waar sy verantwoordelik was vir die onderrig van Afrikaans Addisionele Taal. Sy het spoedig onder die indruk gekom van die ernstige leemtes wat daar in die onderrig van Afrikaans as Eerste Addisionele Taal bestaan. Sy het die uitdaging aanvaar om op hierdie terrein ’n verskil te maak en het daarom reeds in haar eerste jaar by die skool ’n Afrikaans-werkswinkel vir haar kollegas aangebied.

Haar ontdekking van die min hulpbronne wat daar vir Afrikaans Eerste Addisionele Taalonderwysers en -leerders beskikbaar is, het haar voorts aangespoor om die webwerf, www.swanies.co.za, te ontwerp. Hierdie webwerf dien as platform om gratis Afrikaanse Huistaal- en Eerste Addisionele Taal-hulpbronne en -metodiek aan onderwysers en leerders te verskaf. Die webwerf is binne ’n tydperk van twee maande 14 000 keer besoek. Marelize voel sterk dat Afrikaans soos ’n Wiskundeformule werk en glo ook dat leerders met inhoud gebombardeer word wat hulle moet memoriseer, terwyl dit veel beter sal wees om hulle met metodes te bemagtig wat hulle in staat sal stel om enige inhoud te kan baasraak.

Marelize leef haar liefde vir Afrikaans uit as onderwyser en spreker. Sy skryf gedigte wat sy op haar blog, https://omsintemaak.blogspot.co.za/ publiseer en hoop om nog eendag haar droom van ’n eie digbundel, waar te maak.

Sy werk as spreker saam met die ATKV se Skitter-in-Afrikaans-werkswinkels en was ook mede-aanbieder by die UJ/ATKV-Meertaligheidsweek-werkswinkel vir Afrikaans-onderwysers wat in Soweto klas gee. Sy is tans besig met haar BA Honneurs (Afrikaans Taalkunde) aan die UJ.

Marelize is verbonde aan Hoërskool Roodepoort waar sy Afrikaans Eerste Addisionele Taal en Huistaal onderrig.
Marelize is ’n ambassadeur vir Afrikaans by Afrikaans.com.

Sandra Prinsloo

Spesiale Kokertoekennings: Lewenslange bydrae tot Afrikaans
Sandra Prinsloo

Sandra Prinsloo is ʼn Suid-Afrikaanse legende, ikoon, rolmodel en huishoudelike naam in die wêreld van die teater, film, TV en kultuur. Haar loopbaan, wat oor meer as vyf dekades strek, word in beide Engels en Afrikaans uitgevoer. Sandra het in September vanjaar 70 geword, en sy werk nog steeds in belang van Afrikaans en Afrikaanssprekers.

Sandra se talent word nie net telkens plaaslik met lof besing nie, maar ook internasionaal. Op filmgebied is dit veral met Jamie Uys se rolprent The Gods must be Crazy, wat nog steeds in oorsese filmteaters en op TV vertoon word. Sy is ook geprys vir haar uitstaande spel teenoor Anthony Quinn as sy verliefde meisie in Tigers don’t Cry.

Op teatergebied het sy met haar tweede besoek die Edinburghfees in 2013 oorrompel met haar voortreflike solospel in The Sewing Machine wat vyfster-resensies ontvang het. Plaaslik is hierdie stuk, in Engels en Afrikaans, landwyd al meer as 500 keer opgevoer en is sy daarvoor met altesaam 9 toekennings bekroon.

Sandra wou eintlik ʼn ballerina geword het, maar nadat sy sekere karakterrolle in ballet met groot sukses aangepak het, het sy besluit om aan die Universiteit van Pretoria drama te bestudeer. In haar dae aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria, het sy in die Breytenbachteater plekke aangewys. Na voltooiing van haar honneursgraad in drama het haar loopbaan vlam gevat in groot wêrelddramas soos onder andere The Crucible van Arthur Miller, Cat on a Hot Tin Roof van Tennessee Williams en Athol Fugard se People are Living There.

Die Taalraad vereer Sandra vir haar lewenslange bydrae tot die kunste, wat ʼn diepgaande impak gemaak het op die uitvoerende kunste, tale, kultuur, letterkunde en erfenis, en merkwaardig bygedra het tot die verryking van die Afrikaanse kultuurbelewenis.

Shaleen Surtie-Richards

Shaleen Surtie-Richards

Shaleen Surtie-Richards is ‘n gevierde Afrikaanse aktrise en ikoon in die Afrikaanse kultuurlewe. Sy is gebore en getoë in Upington in die Noord-Kaap, die dogter van ouers wat albei diep spore in die onderwys getrap het. Haar skoolopvoeding het sy deels in Upington en Kaapstad ontvang. As gebore en getoë Noord-Kapenaar het sy ʼn bekoorlike tongval wat haar Noord-Kaapse wortels verklap.

Shaleen het in haar ouers se voetspore gevolg deur haar as onderwyser te bekwaam. Tydens haar jare as voorskoolse onderwyser in Upington en Kaapstad het sy aan talle amateur-verhoogproduksies, onder meer aan die onderwysdepartement se Teater-in-Opvoedingprogram deelgeneem. In 1984 begin sy met haar professionele akteursloopbaan.

Shaleen het oor baie jare wye bekendheid en gewildheid verwerf as rolprent-, verhoog- en TV-aktrise. Die lang lys optredes op haar kerfstok is indrukwekkend, en die rolle waarmee sy bekendheid en geliefdheid verwerf het, het haar ʼn huishoudelike naam gemaak, haar byna tot volksbesit verhef. Rolprente waarin sy verskyn het, is onder meer Fiela in Fiela se kind (1988), gebaseer op Dalene Matthee se trefferroman met dieselfde naam; Maxi in Nag van die negentiende (1992); die burgemeesteres in Mama Jack (2005); Nenna in Egoli: Afrikaners is plesierig (2010); Susanna van Biljon (2010); Jimmy in pienk (2013), juffrou Schutte in Agent 2000 (2014); en Katie in Treurgrond (2015)

Haar lys TV-optredes is ewe indrukwekkend. Hieronder is daar die enigmatiese Nenna in Egoli: Plek van Goud, wat agt jaar lank TV-kykers behoorlik aan die praat gehad het, beoordelaars van Supersterre op SABC 2, Mattie in die eerste seisoen van Generations, Dorothy Daniels in die eerste seisoen van 7de Laan en onlangs as Fran in Villa Rosa op kykNET.

Die Taalraad vereer Shaleen Surtie-Richards vir haar lewenslange bydrae tot die Afrikaanse kultuurbelewenis en vir haar voorbeeld waarmee sy talentvolle plattelandse Afrikaanse mense inspireer om nie toe te laat dat hul omstandighede in hul pad staan om hul drome te verwesenlik en sterstatus te bereik nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Leeutjie ·

Het sy nie ook pas 70 geword nie? Genade, maar sy dra haar jare goed!

Niklaas ·

Sy is tydloos. Werklik so ‘n merkwaardige mens en aktrise. Ek het net bewondering vir haar.

Boerseun ·

Hoeveel van die kastige sterre het opgestaan vir Afrikaans op universiteite? Afrikaanse taalraad, wat n klug

kat ·

Boerseun jy is 100% reg – Nie een nie!!!
Ek voel ‘n veer vir hulle.
Dit gaan net oor hulself – dis al.
Dis die blond dis die blou.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.