Kom jol met boeke en flieks

BoekeJol-Sit-aan-met

Sit aan met ‘n skrywer op 27 Augustus. Kies jou gunsteling skrywer of juis ‘n onbekende een om by te sit en kuierkos te geniet. Stel jouself bloot aan ‘n nuwe ervaring! Foto: Verskaf.

Pretoria is besig om sy stertvere reg te skud vir die Boekejol en Filmrolfees wat in Augustus plaasvind. Kultuurvrate is omtrent in vir ʼn fees met dié vier dag lange viering van Afrikaanse rolprentmakers en skrywers se werk.

Atterbury is een van die kernvennote van dié fees wat van 26 tot 29 Augustus in die Atterbury-teater plaasvind. Die fees is in Maart by die Atterbury-teater met ʼn woord-en-musiekaand bekendgestel. “Ons hou van die idee van ʼn mini-kunstefees in die teater – dit pla ons dat daar, omdat dit so geweldig duur is om toneel aan te bied, minder toneelopvoerings plaasvind as wat ons graag sou wou sien,” sê Zahn Hulme, die Atterbury-trust se bemarkingsbestuurder. “Hierdie is ʼn manier om ʼn wyer verskeidenheid van die kunste tog in die Atterbury-teater te verwelkom, alles in Afrikaans. Ons sien baie uit daarna!”

Die propvol program is vol hoogtepunte, soos Woensdag 26 Augustus se “Boekbohaai” om 19:00, waartydens sanger Chris Chameleon, Solidariteit se Flip Buys en die ATKV se dr. Danny Titus sal deelneem aan ʼn witwarm gesprek met die titel “Die lewensare van Afrikaans”. Die debat sal gelei word deur Tim du Plessis, kykNET se hoof van nuus en aktualiteit. Musiekvermaak is daar ook – “FAK met stiletto’s” wat ʼn heerlike verwerkings van ou geliefde FAK-liedjies is, gesing deur Gisela de Villiers en Robert Brooks. Kaartjies kos R150 elk.

Die volgende aand, Donderdag 27 Augustus om 19:00, is die Atterbury-teater weer die plek om te wees. Hierdie keer om te luister na die reisverhale en -ervarings van drie reisigers in Suid-Afrika en Afrika. Die vertellers is almal manne met wonderlike stories, so ʼn mens kan uitsien na ʼn heerlike vermaaklike aand: Voetspore se Johan Badenhorst, skrywer Johan Bakkes en Huisgenoot-joernalis en skrywer Dana Snyman. Al drie se boeke sal die aand te koop wees en dis net die geleentheid om ʼn handtekening te kry. Anna Davel sal sorg vir die musiekvermaak. Kaartjies kos R150 elk.
Vrydagaand 28 Augustus raak dinge ernstiger met ʼn gesprek oor die knelpunt: “Maak die media nog plek vir die kunste?” Mediakenners Adriaan Basson van Media 24, Kobus Burger van RSG en skrywer en dramaturg Schalk Schoombie vorm die paneel wat die vraagstuk met Freek Robinson gaan bespreek. Amanda Strydom verskaf die musiek vir die aand, wat weer om 19:00 by die Atterbury-teater begin. Kaartjies kos weer R150 elk.

Dinge raak behoorlik warm Saterdagoggend 29 Augustus om 09:30 in die Atterbury-teater wanneer prof. Kobus van Rooyen, voorsitter van die Uitsaaiklagtekommissie, met die skrywer Anemarie Jansen gesels oor haar opspraakwekkende boek oor die berugte ysterhand van die Vlakplaas-moordbende: “Eugene de Kock – Sluipmoordenaar van die staat”. Jansen se boek is deels gebaseer op “Prime Evil” se dagboeke en tronkgeskrifte, sy sielkundige verslae asook baie ure se onderhoude wat sy oor drie jaar in die tronk met hom gevoer het. Die manne van CH2 sal die musikale lafenis verskaf tydens die gesprek. Kaartjies kos R150 elk.

Dit gaan ʼn volgepakte vier dae wees, so maak seker jou dagboek is skoon!

Vir die volledige program en meer inligting oor wat alles by Lynnwood Bridge gebeur tydens die fees, besoek die Boekejol en Filmrolfees se Facebook-blad en die webwerf www.boekejol.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Salome Kotze ·

Twee van my kleinkinders (13 jaar en 10 jaar) woon in Duitsland en een (amper 10) woon in Johannesburg. Ek was opsoek na tiener storieboeke vir hulle verjaarsdae – maar was so teleurgesteld om te sien hoe min beskikbaar is (in albei Ballito en La Lucia boek winkels). Is daar dalk Ouma’s of Oupa’s wat lekker Suid Afrikaanse storie boeke kan skryf? Daar is regtig ‘n behoefte aan tiener Afrikaanse boeke.

JolandaGoede ·

Ek het ‘n 5-, 10- en 13 jarige. My ervaring is dat daar deesdae ‘n groot verskeidenheid van Afrikaanse boeke is. Baie boekwinkels doen egter nie moeite om die boeke aan te hou nie. In Pretoria is ons bevoorreg om nog paar boekwinkels te he wat goeie Afrikaanse kinderboeke aanhou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.