Kom ons skep ’n taaltweeling

hans-du-plessis-02

Hans du Plessis. (Foto: NWU)

My taalgeveg is nie ʼn oorlog teen Engels nie, maar een vír Afrikaans. Dit gaan vir my uiteindelik miskien eerder om ʼn stryd téén eentaligheid en vír meertaligheid. My geveg is ʼn geveg vir Afrikaans in ʼn meertalige omgewing. Dit is immers wat grondwetlik onderhandel is. Om Afrikaans teen Engels te probeer afspeel, is soos om ʼn betonmuur kaalhand storm te loop.

ʼn Afrikaanse fliek met ʼn begroting van een miljoen kan byvoorbeeld nie kompeteer met ʼn Amerikaanse rolprent met ʼn begroting van ʼn miljard nie. ʼn Fiets jaag tog nie reisies teen ʼn Mercedes nie. Dit beteken egter glad nie dat ons moet ophou om fietse te maak nie.

Die vraag is daarom nie of Afrikaans Engels kan wen nie, maar of Afrikaans in ʼn meertalige land gaan oorleef. Ek wil Afrikaans bly tussen ʼn verskeidenheid ander tale met dieselfde regte en voorregte. Die goeie nuus is dat ek nie Engels hoef te word om Engels ordentlik te kan praat nie – miskien nie sulke goeie nuus vir die joiners nie… Ek kan Afrikaans wees en steeds goeie Engels praat waar dit nodig is. Jy hoef ook nie in ʼn Engelse skool of universiteit te gewees het om effektief in Engels te kan werk nie. Die jonger geslag Afrikaanses het dit al klaar bewys.

Dit lyk vir my dit is net hier waar ons probleem eintlik begin: Ons wat Afrikaans is, het tog só bang geword iemand dink ons is dalk van huis uit Afrikaans. Party van ons verkies om liewer vrot Engels te praat (en soos Donald Duck se kleinkinders te klink) as om te laat blyk dat ons eintlik Afrikaans is. Of nog erger, prop genoeg Engelse woorde in jou Afrikaanse gesprek in, al kan niemand verstaan wat jy eintlik wil sê nie. Ek praat nie van spontane en bona fide-dialekte, soos sommige variëteite van Kaaps of van ʼn sosiale dialek soos tienertaal nie. Dit is natuurlik en deel van Afrikaans. Ek praat van sogenaamde intellektuele wat Afrikaans verkrag omdat hulle dink hulle klink byderwets. Nee, jy verstaan my verkeerd, dit is nie wat meertaligheid beteken nie, dis gemengde ontaligheid. Met ander woorde, jy het eenvoudig geen respek vir Engels óf Afrikaans nie. Respek beteken dat as jy Engels moet praat, praat dit tog net asseblief ordentlik. En as jy Afrikaans praat, probeer om dit nie met Engelse woorde te besoedel nie. Ek hoor nie ʼn klomp Afrikaanse woorde as jy Engels praat nie…

Nee, dit is nie ʼn kwessie van suiwerheid nie, want ware taalsuiwerheid is ʼn mite. Hoe suiwer is “My hand is in warm water”? Wag, ek bedoel die Engelse sin, nie die Afrikaanse een nie. Die feit is dat sowel Engels as Afrikaans in oorsprong Germaans is, maar Afrikaans is in sy ontstaan en ontwikkeling uit Afrikabodem vandag ʼn Afro-Germaanse taal, wat sonder die hulp van niksseggende vreemde woorde tussen ander tale sy mond sonder hakkel kan oopmaak.

Onthou nou net, ek het grootgeword toe ʼn tuinslang ʼn houspaaip was, ʼn trui ʼn djirsie en ʼn kraan net ʼn têp. ʼn Sin vir suiwerheid het Pa gemotiveer om ons te leer dit is ʼn tuinslang en Ma het jou mond met rooiseep uitgewas as jy “oukei” of “magtag” durf sê het. Maar as ek nou weer daaraan dink, het dit om respek vir jou eie gegaan eerder as om taalsuiwerheid.

Engels is ʼn wêreldtaal, maar dit is nie die wêreld se enigste taal nie, selfs nie die grootste of die mooiste nie. Natuurlik is dit goed om Engels te ken, want dit is die digitale toegang, net soos wat dit goed is om Sepedi te kan praat as jy in die Noorde woon, maar nie ten koste van jou moedertaal nie. Jy hoef nie Engels te word om Engels te kan praat nie.

Ons Grondwet maak net voorsiening vir Engels én ander tale, nie vir Engels óf ʼn ander taal nie. Daarom moet Afrikaans naas Engels en die ander tale kan bestaan.

As die digitale wêreld digitale tweelinge (digital twins) kan skep, hoekom skep Afrikaans dan nie meer Afrikaanse digitale tweelinge nie? Naas die handelsbank se toonbank en sy lang rye, skep Absa toe ʼn Absa-toepassing as digitale tweeling en in plaas daarvan om in jou kar te klim en bank toe te ry, sit jy jou foon aan en gebruik die digitale tweeling. Wat is ʼn Afrikaanse kunstefees anders as ʼn tweeling vir die ontslape kunsterade? Aan kreatiwiteit het dit ons nog nooit ontbreek nie, soos die kerke wat die virus ʼn digitale streep kon trek. Daarvan getuig die bestaan en sukses van inisiatiewe, soos Maroela Media, kykNET, RSG, Viva, Afrikaans.com, Akademia en selfs ʼn suksesvolle maatskappy soos Lekkeslaap.

Ek wonder nie of Afrikaans kan oorleef nie, want dit oorleef al vir byna vier eeue. Die vraag is eintlik of die Afrikaanse mense genoeg selfrespek het om meertaligheid te oorleef. Net iemand met selfrespek kan respek vir ander hê.

Afrikaans sal in ʼn veeltalige wêreld net in die monde en harte van sy gebruikers bly leef. Die vraag is net wat dit is wat moet oorleef. Dit is beslis nie die Engels-besmette gebrabbel van dié onder ons wat tog so beangs is dat iemand sal dink hulle is van huis uit dalk Standaardafrikaans.

Hoe oorleef Afrikaanse kindertelevisie in die digitale oerwoud van uitstekende kinderprogramme in ander tale? Bring ʼn oorklankingshuis tot stand, klank goeie programme oor in Afrikaans en jy het ʼn digitale tweeling en jy skep boonop werk vir Afrikaanse stemkunstenaars.

Afrikaans sal oorleef in ʼn veeltalige Suid-Afrika, mits dié van ons wat Afrikaans is, ons ophou skaam vir ʼn kultuurtaal wat oor eeue heen taalprodukte van wêreldgehalte kon lewer. En as ons tog net wil ophou hoop dat iemand anders dit vir ons sal doen!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Hans Du Plessis

Meer oor die skrywer: Hans Du Plessis

Hans du Plessis is ‘n woordmens van formaat: taalkundige, skrywer, digter, navorser, akademikus en dramaturg. Hy het groot bekendheid verwerf met sy bundels Griekwapsalms.

Deel van: Meningsvormers, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stof

Hans, jy behoort ‘n erepenning te kry. Ons klomp wat aan chroniese griffelgriep ly, het helde soos jy nodig. Welgedaan!

Anne'

Trots Afrikaans. Laat ons dit verder uitbou!

Johannes

Volgens Hans du Plessis is taalsuiwerheid ‘n mite en ons moet tog nie dink hy is teen (die heilige koei) Kaaps nie. Kaaps het egter ‘n groot Engelskomponent. ‘n Mens moet Afrikaans en Engels ken om Kaaps te verstaan. Die meertaligheid wat Du Plessis bepleit, bv ook kennis van Engels, moet liefs nie in Afrikaans, soos reeds in Kaaps, uitdrukking vind nie. As Du Plessis minder polities byderwets probeer wees, bv minder pro-1996-Grondwet (wat baie skadelik vir Afrikaans is), sou hy die heil van Afrikaans beter kon bevorder.

Sarel

Afrikaans want dit is my Moedertaal