Kom skryf jou boek onverpoosd in Somerset-Oos…

Die Gerwel-huis in Somerset-Oos (Foto: Jakes Gerwil Stigting)

Tyd om onverpoosd te skryf, is ’n versugting van menige skrywer. Die oorgrote meerderheid skrywers kan nie wegkom van hulle dagtake nie en vind dikwels nie genoeg tyd om ordentlik te sit en skryf nie. Boeke bly só ongeskryf en waardevolle talent word nie ten volle benut nie.

Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans is opgewonde om vanjaar ’n skrywersresidensie van stapel te stuur wat aan skrywers die kans gee om vir ’n maand lank in die Gerwel-huis tuis te gaan om aan ’n skryfprojek te werk.

Dié historiese huis, langs die Bosberge in die skilderagtige Somerset-Oos, is pas gerestoureer. Met sy sjarmante ouwêreldsheid, ruim kamers, houtvloere en lowergroen tuin, bied die huis die ideale geleentheid vir skrywers om in ’n inspirerende omgewing aan hul manuskripte te werk.

Opbetaalde lede van PEN Afrikaans word hiermee hartlik uitgenooi om aansoek te doen vir die Jakes Gerwel Stigting se skrywersresidensie, aangebied in samewerking met PEN Afrikaans.

Die fokus van die residensieprogram is veral op skrywers wat nuwe stories na die Afrikaanse letterkunde bring en leefwêrelde oopskryf wat nog nie voldoende in die letterkunde gehoor is nie. Voorkeur sal gegee word aan skrywers wat aan die begin van hul loopbane staan. Alle genres sal oorweeg word.

Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans dek die kostes van die skrywers se verblyf vanaf 8 Julie tot 5 Augustus 2019, insluitende internet, skoonmaakdienste, etes (drie maaltye per dag), retoerkaartjies na Port Elizabeth en vervoer van en na die lughawe. Vervoer in Somerset-Oos sal ook aangebied word.

Aansoeke moet bestaan uit:

  • ’n Brief ter motivering waarom die aansoeker van die residensie gebruik wil maak
  • ’n Opsomming van die aansoeker se loopbaan as skrywer. Gepubliseerde skrywers moet ’n lys van publikasies insluit, terwyl ongepubliseerde skrywers bestaande skeppende skryfwerk (30 bladsye prosa of 10 bladsye poësie) by die aansoek moet insluit.
  • ’n Projekuiteensetting wat aandui waaraan die skrywer tydens die residensie sal werk.

Aansoeke moet Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting, teen 12 April 2019 by [email protected] bereik, waarna verteenwoordigers van die Jakes Gerwel Stigting en die bestuur van PEN Afrikaans die aansoeke sal oorweeg.

Die Jakes Gerwel Stigting het ten doel om die werksaamhede en belangstellings van Gert Johannes “Jakes” Gerwel voort te sit in die ontwikkeling en bevordering van die opvoedkunde, kuns en kultuur en die sosiale geregtigheid in Suid-Afrika in die algemeen. Die stigting fokus veral op die bevordering en uitbouing van die Suid-Afrikaanse letterkunde.

PEN Afrikaans is ’n vereniging van skrywers, joernaliste, uitgewers en belanghebbendes wat, deur lidmaatskap aan PEN Internasionaal, sy lede in ’n internasionale konteks verteenwoordig. PEN Afrikaans is gerig op die bevordering van die Afrikaanse letterkunde en die reg tot vryheid van uitdrukking.

Klik hier om aansoek te doen om ’n lid van PEN Afrikaans te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.