Kom skryf saam aan ’n storie!

Maroela Media wil saam met ons lesers ʼn kortverhaal skryf. Ons plaas die eerste deel van die storie en die publiek skryf telkens die volgende paragraaf.

Ons gaan tot 10 Mei 2019 saam aan dié storie skryf.

Lees die storie en vul dan die onderstaande vorm in om seker te maak dat jou paragraaf in aanmerking kom vir die storie. Maroela Media gaan elke weeksdag die paragrawe oorweeg wat ingestuur word en dit gaan by die storie hier onder bygevoeg word.

Jou paragraaf kan die storie in ʼn speurverhaal, riller, romanse of selfs komedie laat ontaard – dis deel van die pret om só saam te skryf! Een van die deelnemers staan boonop die kans om ʼn heerlike boekpak te wen (die waarde daarvan is R975-00): Om tot verhaal te kom deur Lizette Rabe, Koshuis deur Erns Grundling, Bloedlelie deur Jeanette Ferreira en Strooisuikerliefde, ‘n omnibus van agt RomanzaLiefde-novelles.

Is jy lief vir skryf?

Maak seker dat jy dan sommer ook inskryf vir vanjaar se ATKV-skryfskool wat by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus aangebied word. Klik hier vir meer inligting.

Bepalings en voorwaardes:

  • Alle lesers kry die geleentheid om saam te skryf, maar slegs een paragraaf word daagliks gekies uit die inskrywings.
  • Maroela behou die reg voor om jou skrywe te redigeer en teksversorging te doen.
  • Die boekprys word met ʼn gelukkige trekking bepaal en nie noodwendig uit die paragrawe wat geplaas word nie. Almal staan dus ʼn kans om te wen!
  • Die boekprys kan teruggehou word indien daar nie genoegsame deelnemers was nie.
  • Die boekprys kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Jou data word nie met die ATKV gedeel nie.
  • Jou skrywe word beperk tot 1 250 karakters of 250 woorde.
  • Die wenner sal persoonlik gekontak word en op Maroela Media bekend gemaak word.

Só verloop ons storie:

Sy staan op die breë stoep toe hy by die akkerlaning indraai. Fyn van postuur, maar imposant. Lang, raafswart hare wat haar ouderdom weerspreek. Die een handpalm besitlik gestut teen die pilaar langs haar.

Van die see se kant af het ʼn ligte windjie opgesteek. Gerhardus verkyk hom aan haar; sien byna nie betyds die spelerige basterbrak wat voor sy bakkie oor die pad spring nie en verminder spoed tot hy teen ʼn slakkepas voortkruie. Bly hy kan die oomblik nog ʼn bietjie uitstel.

In sy truspieëltjie sien hy ʼn stofwolk kort op sy hakke. Die persoon in die motor agter hom moet noodgedwonge stadiger ry, tot kort agter hom.

“Kan jy nou meer,” prewel hy verbaas toe hy weer in die truspieëltjie kyk. Hy ken mos dié ou met die welige baard. Ferdinand, as hy reg onthou. Venter? Of Fourie? Vanne maak nie saak as mens ʼn toevallige bier met ʼn ander reisiger in ʼn plattelandse dorpshotel deel nie. Hulle het ʼn paar minute gesels. Albei van hulle was besoekers uit Gauteng, op pad na plase buite die dorpie, Hengelaarskroon, waar hulle onafgehandelde besigheid gehad het. Hulle het nie verdere detail oor hul “besigheid” met mekaar gedeel nie, maar gepraat oor die weer en die droogte en sommer net in reis-voos stilte vir die see gekyk. Nie vir ʼn oomblik het hy gedink aan die moontlikheid dat hulle dieselfde bestemming het nie.

Voor hom maak die oprit ʼn wye draai na regs, tot voor die stoep, sodat hy nie ʼn ander keuse het nie as om skuins voor die trap te parkeer.

Toe hy uitklim, kyk sy af na hom. Skielik is hy oorbewus van sy voorkoms: Sy gekreukelde T-hemp, verbleikte denim en dag oue stoppelbaard.

Langs hom kom die ander motor tot stilstand en Ferdinand vou sy lang lyf uit die motor. Hy lyk nie veel beter nie, merk Gerhardus met genoegdoening op: Wat sy voorkoms gespaar gebly het te danke daaraan dat hy van Gauteng af Kaap toe gevlieg het, het hy prysgegee in die piepklein motor waarmee hy van die lughawe tot hier moes ry.

Dis nou stil. Die hond het sy plek langs die vrou op die stoep ingeneem. Die twee mans staan langs mekaar op die rand van die grasperk en kyk op na haar. Stadig laat sak sy haar hand tot op die hond se kop en kyk van Gerhardus na Ferdinand, en weer terug.

“Welkom,” sê sy.

Gerhardus kry eerste lewe. Hy spring die trappe twee-twee op, stof sy hand aan sy broekspyp af en steek dit na haar toe uit.

“Gerhardus,” groet hy. “Gerhardus Visagie – oupa Manie se erfgenaam. Ek is jammer ons kon nooit ontmoet toe oupa Manie nog gelewe het nie.”

Van agter hoor hy ʼn verontwaardigde kug, en Ferdinand se driftige voetval op die trappe. Hy kom langs hom tot stilstand en steek ʼn netjies gemanikuurde hand na die vrou uit.

“Aangename kennis,” sê Ferdinand. “Ek is Ferdinand Visagie, ons het nog nie ontmoet nie.” Hy gee Gerhardus ʼn vernietigende kyk.

“En ék is oupa Manie se wettige erfgenaam.”

– Deur Susan Lombaard (17 April 2019)

Ná ʼn paar ongemaklike sekondes stel die vrou haarself voor as Es, net Es. As sy briewe skryf, sommer net S. Harvey lyk nog meer ongemaklik met die twee vreemde kalante op sy stoep. Sy vat weer aan sy kop om hom gerus te stel, en nooi die twee in.

Sonder om ‘n woord te sê, verdwyn sy. Jy hoor ʼn ou houtkas se laai oopgaan, en dan weer stadig toe. Haar hakke teen die geelhoutvloer verklap al haar bewegings, voordat sy weer by ‘n ander deur die vertrek inkom en twee bruin koeverte aan elkeen van hulle oorhandig.

Ferdinand se koevert lyk dikker, en dalk selfs ‘n bietjie ouer. Elkeen het sy naam op, en ‘n datum. Ferdinand, 12 Februarie 1959. Gerhardus, 13 Februarie 1959.

“Iets te drinke here?” Vra sy, nog steeds redelik emosieloos en kortaf.

“Ek’s oraait, dankie,” sê Ferdinand.

Gerhardus, of Gerhard, soos sy vriende hom noem, bestel ‘n teetjie, met twee suikers en melk. “Asseblief.”

Beide van hulle kyk haar op en af van agter toe sy weer die kombuis in verdwyn. Mooi was nog nooit lelik nie, al is sy familie.

Beide koeverte is steeds geseël, maar dis duidelik dat daar wel ʼn paar papiere en ‘n stel sleutels in beide se koevert is. Maar wat kan ‘n sleutel uit die 50’s nou oopsluit?

– Deur Hugo Moolman (18 April 2019)

Die twee mans probeer nie eers oor ditjies en datjies gesels nie. Beide weet dat dit vandag hier om baie meer gaan as gemeenplase.

Toe Es instap met Gerhard se tee, gaan sit sy teenoor hulle op ‘n ou afgeleefde fluweelbank en bekyk hulle nou krities, maar ook nuuskierig. Die hond gaan lê langs haar en lyk glad nie tevrede met hierdie twee vreemdelinge in sy midde nie.

Es lyk nie baie spraaksaam nie en dis Gerhard wat eerste die ys probeer breek. “Het Oupa Manie ‘n lang siekbed gehad of is hy skielik dood? Ek het hom vir soveel jare nie gesien of kontak met hom gehad nie.”

“Jy’s ten minste eerlik!” laat hoor Ferdinand nou van hom. “Wat soek jy nou eintlik hier? Jy dink jy’s ‘n erfgenaam, maar het hom in al hierdie jare nooit gekontak nie?!”

Es sit en beskou die twee met ‘n geamuseerde glimlag. Sy kry eintlik lekker om die twee so onseker te sien. Háár Manie, wat hulle nou hier sit en bespreek asof hy ‘n besitting is! Sy dink weer terug aan hul wonderlike lewe saam en word sommer van voor af kwaad as sy aan die inhoud van daardie twee koeverte in die kapokhaantjies se hande dink.

“Menere,” spreek sy hulle formeel aan. “Ek stel voor julle gaan maak jul koeverte in privaatheid oop. Gaan asseblief!”

– Annalie Strauss-Nel (23 April 2019)

Gerhard vat sy koevert en stap na buite. Hy vryf Harvey, wat stertswaaiend op die stoep staan, ietwat in gedagte oor die rug. Hy stap die trappe af en kies koers die tuin in. Hy haal nie sy oë van die koevert af nie.

Hy gaan sit op ‘n groot klip in die tuin, buig sy een been effe en trap met sy sool teen die klip. Hy haal diep asem in en blaas dit stadig uit. Die koevert word oopgeskeur en hy keer dit om sodat die sleutels in sy hand val. Hy kyk vir ‘n oomblik daarna, vryf met sy duim oor die leerbandjie met die inskrywing, “Sonsopkoms”, voor hy dit langs hom op die klip neersit. Hy haal die brief uit die koevert en begin dit stadig oopvou.

Intussen het Ferdinand eers gaan verfris, hande was en sy gesig afspoel voor hy die privaatheid van ‘n kamer opsoek. Met die koevert in sy hand kyk hy die kamer van hoek tot kant deur. Hy trek sy neus op en sê in ‘n gedempte stem: “Hmf, oud en afgeleef.”

Hy gaan sit op die bed en dit kraak. Hy skuif-skuif tot hy gemaklik voel en skeur die koevert oop. Hy skud die sleutels uit op die bed en kyk nie eens daarna nie. Hy haal die brief uit die koevert en vou dit vinnig oop. “Ferdinand, my kleinseun, die waarheid moet uit en jy moet dit weet, voor jy jou erflating kry.”

Leonora Ceronio (24 April 2019)

Ferdinand se hart klop al vinniger, hy raak nuuskierig. As hy net geweet het wat om te verwag. “My dood was geen ongeluk nie. Daar is ʼn groep genaamd ‘Die Rowers’, wat al jare lank na my op soek is. Ek vermoed dit is omdat ek en een van my pelle in ons 20’s een van hulle groepslede vermoor het.”

Ferdinand spring op met verbasing. Hy kan dit nie glo nie… Vermoor? Hy lees verder. “Die woord ‘vermoor’ is dalk te drasties. Dit was nie beplan nie, ek en my pel Gert was jonk, gekuier en toe ons weer sien, tref die bakkie een van die groepslede. Ek wil jou waarsku dat hulle op soek is na jou erflating. Saam met die brief in die koevert is daar ʼn sleutel. Die sleutel is vir ʼn kis wat ek begrawe het.”

Onderaan die brief is koördinate en ʼn skets van die son wat sak.

Ferdinand is sprakeloos. “Wat is in Gerhard se koevert en wat staan op sý brief?” wonder hy skielik.

Gerhard sit rustig op die klip en lees. Min weet hy dat Ferdinand se brief en sy brief identies is. Albei het boonop dieselfde sleutel. Hy kyk op en sien Es wat in die deurkosyn staan.

“Jy is welkom om te bly vir aandete,” roep sy uit. Gerhard glimlag en druk die brief in sy broeksak.

Chavonne Robbertse (25 April 2019)

Heel ingedagte stap Gerhard terug huis toe. Hy sien nie eers die mooi tuin om hom raak nie en ook nie eers die mooi ou huis waarheen hy stap nie. Wat beteken die woord “Sonsopkoms”? Is dit ‘n plek of ‘n plaas se naam? Moet seker ‘n plaas wees want dit is die tipe naam wat mense vir hulle plase sal gee.

Toe hy in die huis instap, praat Ferdinand ewe skielik hier voor hom en hy skrik half. “Wat staan toe in jou brief, kastige erfgenaam?”

Gerhard voel die vyandigheid aan wat vanuit Ferdinand uitstraal en besluit om hom nie die waarheid te vertel nie. “Nee jong, ek het my so verkyk aan alles hier dat ek nog nie eers gelees het nie; sal dit maar later doen. Ek gaan net gou hande was.”

In sy kamer sit Gerhard die brief in sy tas en sluit die slotjie. In die en suite-badkamer was hy gou sy hande by die wasbak. Sy oog vang ʼn beweging in die spieël bo die wasbak. Hy skrik en roep uit: “Wie’s daar?” Geen antwoord.

Hy loer in die kamer en sien sy tas lê skeef op die bed. Hy gee twee vinnige treë tot by sy tas en slaak ‘n sug van verligting. Die slotjie is nog in plek.

Nou weet hy hier is iets aan die gang.

Liezel van der Walt (29 April 2019)

Gerhard wonder of hulle die enigste gaste is. Hy twyfel of Ferdinand so blatant sal wees om sy tas te deursoek. Terwyl hy sy tas onder die bed versteek, beplan hy om meer te wete te kom aan tafel.

Gerhard sit oorkant Ferdinand, Es sit aan die hoof van die tafel, Manie se plek is leeg.

Daar is gedek vir drie mense. Op die tafel is ‘n opskepbak met ‘n deksel en die reuk van Kaaps Maleise kerrie prikkel Gerhard se speekselkliere. Hongerig in afwagting vir die maal om te begin, hoor hy voetstappe in die aangrensende kombuis. Hier is dus nog mense.

“Aan wie het ons hierdie maaltyd te danke?” Hy probeer sy agterdog verdoesel en reik na ‘n dik sny plaasbrood.

“Dis Benita,” antwoord Es. “Sy is hier op die plaas gebore en getoë. Alles wat sy weet van lekker kos maak, het sy by haar ma geleer, wat ook nog hier bly.”

Hy probeer uitpluis of Benita ‘n belang sou hê by die inhoud van sy brief.

Ferdinand smeer egte plaasbotter oor sy sny brood, “Spook dit in hierdie huis?”

Es kyk hom onthuts aan; sy hou die deksel in haar hand – stoom en ‘n heerlike geur ontsnap uit die opdienbak. “Hoekom vra jy, het jy besoek gehad?” vra sy met ʼn skalkse glimlag.

Gerhard kyk hom stip aan, hy weet wat Ferdinand volgende gaan sê.

– Sonet Jansen van Vuuren (2 Mei 2019)

Ferdinand besluit om nie die vraag te antwoord nie en trek sy skouers ongeërg op. Hy kyk honger na die opskepbak. Es skep vir hom ʼn ruim porsie in, daarna vir Gerhard en toe vir haarself.

“Sal jy die seën vra, asseblief?” Sy kyk direk na Gerhard en hy knik en buig sy kop vooroor.

Hulle eet in stilte. Elkeen besig met hul eie gedagtes.

Ferdinand vee sy mond behaaglik af met die blou lapservet. “My komplimente aan die kok.”

“Ja, dankie, dit was lekker,” beaam Gerhard. Hy skuif sy stoel agteruit en staan op. “Verskoon my, ek gaan bietjie skuinslê.”

Es en Ferdinand kyk vir mekaar.

“Verbeel ek my of …”

Es val hom in die rede. “Sjuut … wees versigtig wat jy sê. Die mure het ore.” Ferdinand kyk haar verslae aan. Hier is beslis iets nie lekker nie.

Sonder ʼn verdere woord maak Gerhard verskoning en verlaat die eetsaal. Sy kamer voel bedompig en dit voel of iemand heeltyd vir hom kyk. Hy moet vars lug kry. Hy maak seker dat sy tas nog gesluit is. Dan vat hy sy selfoon en stap voorstoep toe. Verbaas steek hy in die voordeur vas.

Driekie Grobler (3 Mei 2019)

Hy is doodseker hy het ʼn beweging agter een van die bome gesien. Dit voel vir hom of daar duisende pare oë is wat hom dophou. Dalk verbeel hy hom, maar hy besluit om tog te gaan kyk.

Hy gee ʼn paar treë vorentoe en sien in die hoek van sy oog hoe ‘n perd en ruiter om die hoek verdwyn met ‘n geweldige spoed. Nou is hy seker dat hier werklik ‘n slang in die bos is.

Gerhard besigtig die omgewing en besluit om ‘n bietjie die grond te gaan verken sodat hy kan dink wat om volgende te doen staan. Hy wonder of Es dalk meer inligting kan gee, maar dit lyk nogal of sy ‘n rissiepit op haar eie is. Dalk moet hy homself gaan voorstel aan Benita en haar ma. Haar ma is mos nou al lank deel van hierdie huismense en behoort baie te weet.

Dan hoor hy skielik ‘n geluid in die oorkant van die erf en haas hom daarna. Daar is geen aanduiding wat die geluid kon maak nie, maar hy weet verseker alles is nie pluis nie.

Hy neem plaas op ‘n klip agter die okkerneutboom en wonder wat die volgende paar dae vir hom gaan inhou. “Sonsopkoms.” Waar het hy dié naam voorheen gehoor?

Lizette Bronkhorst (6 Mei 2019)

Agter hom hoor hy takkies kraak, dan is dit stil. Weer kraak daar ʼn paar takkies. Dit klink of iemand versigtig nader stap en eers sy reaksie toets voor die volgende tree. Hy voel ʼn koue rilling teen sy ruggraat afloop. Moet hy omkyk of opstaan en net vorentoe aanbeweeg en dan die area rondom hom bekyk?

“Goeiemôre!” sê ʼn vrouestem skielik agter hom.

Verlig kyk hy om en sien ʼn jong meisie met kort hare soos ʼn seun. Sy lyk na ʼn regte rabbedoe.

“Dagsê,” groet Gerhard met ʼn glimlag.

“Wat maak jy hier? Dit is tannie Es se plaas en ek het jou nog nooit hier gesien nie,” peper sy hom met vrae.

“Ek is Gerhard Visagie en is sommer hier vir besigheid. En as ek mag vra, wat is jou naam?” probeer hy die gesprek in ʼn ander rigting stuur.

“Ek sien jy is van Gauteng en daar is nog ʼn ander motor ook van Gauteng. Jammer, ek is Luzaan en ons bly op die plaas hier langsaan,” verduidelik sy.

Gerhard antwoord nie en wens eintlik sy wil net loop. Hy het so baie om aan te dink en dit sluit in Ferdinand waarvoor hy baie versigtig moet wees. Hy ruik ʼn rot en weet nie hoekom dit vir hom voel hier skuil meer agter hierdie erfporsie as wat hy besef nie.

“Wil jy na die kerkhof gaan kyk op die plaas?” ontbreek Luzaan skielik sy gedagtes.

Gerhard dink dit kan dalk antwoorde gee.

Susan van der Walt (7 Mei 2019)

Gerhard dink hy kan onder die dekmantel van verveeld na grafte kyk dalk uitvind watter waardevolle goed op die plaas toegesluit word.

“Ja, graag, kan ons nou soontoe gaan?”

Luzaan knik instemmend.

Daar is net enkele grafte. Die een in die verste hoek is ‘n hoe imposante struktuur. Dit moet die patriarg se graf wees, dink hy heimlik. Hy lees die naam “Gerhardus Petrus Smit de Kock” en die datum wat al baie dof geword het. Hy lees nie verder nie, want iets besonders trek sy aandag. Dit is ‘n praalgraf met trappies wat na onder lei, met ‘n swaar deur voor soos voor die ingang na ‘n bank se kluis. Hy wonder of die sleutel in sy sak daarin sal pas.

“Ek neem aan dis ‘n praalgraf. Hy moes stinkryk gewees het. Sulke mense is gewoonlik in ‘n loodkis daarin begrawe.” Hy vertel haar hy is ‘n argitek in Johannesburg en stel in allerhande boustrukture belang. Hy vra belangstellend: “Wat word op die plaas só veilig toegesluit?”

“Niks nie.” Sy sien hy beskou die grafstene en trappies nie eintlik as argitektonies inspirerend nie. Hulle stap algaande geselsend terug huis toe.

Ná ete maak hy verskoning, skakel sy selfoonflits aan en sluip stilletjies om te gaan kyk of daar dalk skatte agter slot en grendel in die praalgraf is.

Jacques van den Berg (9 Mei 2019)

Op ‘n stofpaadjie stap hy stilletjies die donker in. Daar is geen nagdier in die omtrek te hore nie; dit is abnormaal stil. Hy sien skielik uit die hoek van sy oog hoe ‘n groot figuur uit die bos op hom afgestorm kom.

“Ek het geweet jy is besig met iets onheilspellend. Hoekom kruip jy so skelm rond in die donker, wat steek jy vir my weg?” blaas Ferdinand.

Hy merk op dat Ferdinand met sy gepoleerdeleerskoene saam met hom in die stof staan – nie juis die beste stapskoene nie.

“Hoekom agtervolg jy my, Ferdinand?”

“Ek wil weet wat steek jy vir my weg, jy weerhou duidelik inligting. Wat het jou brief gesê?”

Gerhard besluit hy het niks te verduidelik aan Ferdinand nie. Hy voel ongemaklik hier in die oopte. So ontbloot, so onveilig. Sy hare op sy nek rys; hy moet hier weg kom, nou dadelik. “Ons moet hier wegkom, kom Ferdinand!”

Gerhard drafstap terug huis toe, die ongemaklike gevoel bly by hom. Iets is groot fout, iemand hou hom dop, of spook dit werklik hier?

Hy verminder spoed toe hy in die verte die huis se ligte sien brand, nou is sy kans.

“Waarom het jy aan tafel gevra of dit spook” vra Gerhard verleë.

Ferdinand kom langs Gerhard tot stilstand, hy hou sy hand op terwyl hy asem skep.

Melanie van Rooyen (10 Mei 2019)

**Hierdie kompetisie het nou gesluit. Maroela Media sal ‘n slot skryf en die volledige verhaal publiseer. Dankie vir elkeen se deelname! -Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae