Kompetisie vir voornemende skrywers en digters

Argieffoto (Foto: StockSnap/Pixabay)

Die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit bied van Maandag 3 Junie tot Vrydag 7 Junie 2019 ’n Winterskool vir opkomende fiksieskrywers aan.

Bekende skrywers, toonaangewende uitgewers van Afrikaanse fiksie en personeel van die ATKV-Skryfskool tree as sprekers, werkswinkelaanbieders en groepsessieleiers op. Die skryf van verhale, gedigte en toneelstukke staan in 2019 in die kollig. Die werkswinkels in die drie skryfgenres word gelei deur Sophia Kapp (verhaalkuns), Louis Esterhuizen (digkuns) en Harry Kalmer (toneelkuns) – aldrie bekroondes op hulle terreine.

Hierdie vyfdaggeleentheid is ’n praktiese slypskool vir enigiemand wat verhale, gedigte of toneelstukke wil skryf. Dit word aangebied op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit en die inskrywingsgeld beloop R3 250 per persoon (sonder verblyf; R4 700 per persoon indien 4 nagte deelverblyf ingesluit word). Dié bedrag dek kursusgeld, asook kostes vir verversings gedurende oggend- en middagteepouses, ’n openingsonthaal op Maandagaand 3 Junie en ’n afsluitingsfunksie op Donderdagaand 6 Junie. ’n Beperkte hoeveelheid verblyfplekke is beskikbaar vir kursusgangers wat die opsie vir ingeslote verblyf wil uitoefen. Skakel met Kobie van Aswegen by [email protected] (tel. 018 299 1783) vir meer besonderhede.

Kompetisie

Die ATKV-Skryfskool bied, in samewerking met Maroela Media, vanjaar weer ’n kompetisie vir skryfwerk in die genoemde genres aan.

Die wenner in elk van die kategorieë (vir ’n kortverhaal, ’n gedig of ’n eenbedryf) sal die Winterskool GRATIS kan bywoon (met verblyf geborg deur Maroela Media).

Vir meer inligting hieroor, skakel met Kobie van Aswegenby [email protected] (tel. 018 299 1783) vir meer besonderhede.

Sluitingsdatum vir ontvangs van kompetisie-inskrywings: 8 April 2019.

Kom put uit die ervaringskat van bekroondes by dié Winterskool – vir ’n wegspring op jou skrywerspad soos min!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.