Koop ‘n Afrikaanse boek-dag

As deel van die jaarlikse Afrikaansweek word 14 Augustus bevorder as die dag waarop mense aangemoedig word om ‘n Afrikaanse boek aan te skaf. Dié projek is deur die Vriende van Afrikaans van stapel gestuur, maar word nou ook deur onder meer die Afrikaanse Taalraad bevorder.

Die eerste Afrikaanse Taalbeweging het op 14 Augustus 1875 begin toe die Genootskap van Regte Afrikaners onder die leiding van ds. AJ du Toit in die Paarl gestig is. Dit is dus ‘n baie gepaste herdenkingsdag om Afrikaanse skrywers, boeke, uitgewers en boekwinkels te ondersteun. Sedert die eerste “Koop ‘n Afrikaanse Boek-dag” in 2005 het tegnologie behoorlik “ingeskop” sodat ook e-boeke die mark met mening getref het.

Terwyl baie mense steeds die gedrukte boek verkies, verkies al hoe meer mense die e-boek, waarvan sommer ‘n hele klomp op ‘n e-leser gelaai, en saam strand toe geneem kan word.

Onthou dat jy al jou nuus oor die jongste Afrikaanse boeke op Maroela Media se Boekrak kan kry.

Hier is ‘n paar bekendes se aanbevelings:
’n Man van min belang deur Chris Karsten (Malene Breytenbach, Leon de Stadler, Henry Jeffreys)
Die Aanspraak van lewende wesens deur Ingrid Winterbach (Theo Kemp)
Kennis is mag deur Malene Breytenbach (Wannie Carstens)
Die laaste Afrikanerleiers deur Herman Giliomee (Henry Jeffreys, Gaggi Biesenbach)
Die Fees van die Ongenooides deur PG du Plessis (Justa Niemand en Amanda de Stadler)
Dwarstrekkers, dwepers en dokters deur JC (Kay) de Villiers (Jan Lochner)
Kaap van slawe deur Marthinus van Bart (Jan Lochner)
Die blou van onthou deur Marita van der Vyver (Alana Bailey en Willem Botha)
Drif deur Irma Joubert (Alana Bailey)
Hanna deur Rachelle Greef (Diana Ferrus)
Die stukke wat ons sny – kortverhale (Charlyn Dyers)
Eilande deur Dan Sleigh (Charlyn Dyers)
Plaasmoorde deur Karin Brynard (Frikkie Lombard)
Vlieger deur Harry Kalmer (Willem Botha)
Die Groot Verlange deur Eugene Marais (Albert Geldenhuys)
Vierkant van die wraak deur Peter Aspe vertaal deur Daniel Hugo (Willem Botha)
Abel, Die afreis van Abel Lotz en Seisoen van sonde deur Chris Karsten (Frikkie Lombard)
Philida deur A.P. Brink (Gaggi Biesenbach)
Aan die stuur deur Brand Pretorius (Christo van der Rheede)

Boekwinkels wat vanjaar deelneem is geselekteerde takke van Exclusive Books, Bargain Books, Wordsworth, Protea Boekhuis, Van Schaik, Kalahari.com, CNA en “Office National”, “Christian Books and Gifts” en “Painted Words” in Modimolle (Nylstroom) asook PNA in Bela Bela (Warmbad). Almal bied afslag aan op Afrikaanse boeke aan op 14 Augustus of vir ‘n langer tydperk. LAPA Uitgewers en Phambili Agentskap ondersteun ook hierdie dag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.