Kortverhale gesoek vir US Woordfeesbundel

skrywers

Foto: 85Fifteen/Unsplash.com

Inskrywings vir die sesde US Woordfeeskortverhaalbundel word tans ingewag. Skrywers het tot 30 September om hul stories vir dié feesbundel in te skryf.

Verhale wat in die bundel opgeneem word, sal na verwagting later vanjaar by dié fees se programbekendstelling vir 2021 aangekondig word. Die wenverhaal word eers volgende jaar tydens die fees bekend gemaak.

Die eerste vyf bundels is goed deur skrywers en kritici ontvang en die leserspubliek het ook hul ondersteuning getoon. Hierdie kortverhaalbundels sal in die komende jare dien as ’n dokument van die tydsgees waarin veral Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners hulself tans bevind.

Du Toitskloof Wyne, ’n gewaardeerde Woordfeesvennoot, borg weer in 2021 die prysgeld van R30 000 wat aan die skrywer van die wenverhaal toegeken word. Die skrywers wat in dié bundel opgeneem word, sal elkeen ʼn bedrag van R5 000 ontvang. Du Toitskloof borg ook die bekendstellingsgeleentheid van die kortverhaalbundel, wat by die Toyota US Woordfees in 2021 aangebied sal word.

ʼn Beperkte aantal bundels word uitgegee en sal aanvanklik slegs by die Toyota US Woordfees te koop wees. Indien enige eksemplare oorbly, sal dit by enkele uitgesoekte boekwinkels beskikbaar gestel word en weer op die volgende jaar se fees te koop wees.

Hier is die lys met kompetisiereëls waaraan inskrywings moet voldoen:

  • Slegs Afrikaanse kortverhale sal aanvaar word.
  • Die kompetisie is oop vir alle skrywers. Werknemers en familielede van Du Toitskloof Wyne en/of die Toyota US Woordfees word nie toegelaat om deel te neem nie.
  • Slegs een inskrywing van 1 500 tot 3 000 woorde word per skrywer aanvaar.
  • Verhale moet nuutgeskryf wees en nie voorheen op enige platform gepubliseer wees nie.
  • Kopiereg van die verhale berus by die skrywers, maar kopiereg van die bundel setel in die Toyota US Woordfees. Indien verhale wat in die bundel verskyn later ook elders gepubliseer word, moet dit geskied met skriftelike kennisgewing aan die Toyota US Woordfees asook volledige erkenning met publikasie.
  • Keuring word streng anoniem gedoen. Die skrywer se naam en kontakbesonderhede moet op die aanlyn inskrywingsvorm ingevul word, maar nie by die verhaal ingesluit word nie. Slegs die titel moet duidelik sigbaar boaan die verhaal verskyn, ten einde anonieme keuring te verseker.
  • Verhale moet in MS Word-formaat aangebied word en elke bladsy moet genommer wees. Gebruik slegs die titel van die verhaal as titel van die dokument (file name). Neem kennis dat geen verhale in .pdf-formaat aanvaar word nie.
  • Indien daar enige blatante verwysing na die skrywer in die verhaal gemaak word waaruit beoordelaars sy/haar identiteit kan aflei, sal die verhaal summier gediskwalifiseer word.
  • Verhale sal geredigeer word voor publikasie, met goedkeuring daarvan deur die skrywer.
  • Hoewel die bundel die feestema as titel sal hê, hoef skrywers dit nie as tema vir die verhaal te gebruik nie. Die tema van die verhaal word geheel en al aan die skrywer oorgelaat.
  • Daar sal ongeveer 25 verhale vir die bundel gekies word.
  • Die skrywers wie se verhale in die bundel opgeneem word, sal elkeen ’n eenmalige betaling van R5 000 teen Mei 2021 ontvang, terwyl die skrywer van die wenverhaal R30 000 ontvang.
  • Die sluitingsdatum vir inskrywings is 30 September 2020 om 16:00.
  • Inskrywings wat ná die spertyd ontvang word, sal nie in aanmerking kom nie. Inskrywings sal met ontvangs erken word.

Aanlyn inskrywings is op die Woordfees se webwerf beskikbaar. Navrae kan per e-pos na [email protected] gestuur word. (Slegs skriftelike navrae sal beantwoord word.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mauritz ·

Hoekom word ‘n Afrikaanse Woordfees by ‘n Engelstalige universiteit gehou?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.