Kry Afrikaans tjoeftjaf onder die knie

‘Kortpad-Praatjies 1’ is deur Rina Loader saamgestel. (Foto: Maroela Media)

Hoewel mense dikwels daarvan wegskram om ʼn nuwe taal aan te leer, is dit eintlik binne enige persoon se vermoëns om dit te doen.

“Party mense voel dat hulle nie ʼn talent vir tale het nie, trouens, ek het myself al uitgevang dat ek die verskoning gebruik. Tog is dit eintlik binne die meeste mense se vermoëns om ʼn nuwe taal aan te leer. Ons het dit immers as kinders reggekry,” meen Rina Loader van die Universiteit van Wenen in Oostenryk.

Onsekerheid oor taalvermoë is nie die enigste uitdaging wat ervaar word nie. Loader voeg by dat daar ander faktore is wat ook ʼn rol in die aanleerproses speel. “Een van die probleme wat beginners soms ervaar, is ʼn gebrek aan toewyding.

“Daar is verskeie redes hiervoor, soos byvoorbeeld wanneer iemand gedwing word om ʼn taal aan te leer en nie die regte ingesteldheid het nie. Of wanneer daar nie doeltreffende en toeganklike leermateriaal beskikbaar is nie.”

Loader is al meer as 20 jaar by die Universiteit van Weenen waar sy kursusse vir onder andere Afrikaansvreemdetaalsprekers aanbied. Sy het haar jarelange ervaring gebruik om Kortpad-Praatjies 1, ʼn interaktiewe werkboek wat beginners en taalentoesiaste wil help om Afrikaans onder die knie te kry, saam te stel.

Die gids is daarop gemik om onderwysers, studente, vreemdetaalsprekers en taalentoesiaste se kennis oor Afrikaans uit te brei met inligting oor die belangrikste grammatikale beginsels, woordelyste, leseenhede en aktiwiteite, tientalle stemopnames, en werkkaarte met memoranda.

“Ek het spesiaal stories vir hierdie projek geskryf, en die opnames daarvan is vir my een van die lekkerste dele van die werkboek. Ouditiewe hulpmiddels vorm ʼn belangrike deel van die aanleerproses.

“Ek hoop dat die stemopnames ʼn goeie basis vir die vaslegging van ʼn substansiële aantal woorde sal vorm en dat dit genoegsaam sal wees om ʼn stewige spraakvaardigheidsvlak of beginnersvlak te bereik.”

Die klankopnames is deur Leon van Nierop en ʼn span stemkunstenaars in Maroela Media se ateljee opgeneem. Sprekers wat die boek raadpleeg kry toegang tot meer as 60 aflaaibare klanklêers, wat boonop verduidelikings bevat oor hoe om dit aanvullend tot die werkboek te gebruik.

Nege van hierdie opnames is stories wat Loader geskryf het. “Van die stories gaan oor Jan Rap en die verdwyning van Mevrou Ples, en dit is so half tong in die kies geskryf. Die dialoë vorm die basis waarop van die oefening gebou is.”

Volgens Loader word die gids se inhoud in ʼn informele styl en op lighartige wyse aangebied. “‘Kortpad’ in die titel is toepaslik omdat dit sinspeel op die opsommende styl van die gids. Ons wou graag die verskillende temas so kort, duidelik en eenvoudig as moontlik weergee.”

Kortpad-Praatjies 1 kos R450 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek by Graffiti Boeke aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.