Kultuurerfenis in die nuwe Suid-Afrika

monumente

As ‘n gemeenskap eienaarskap en verantwoordelikheid neem vir hulle kultuurerfenis se bewaring kan dit behoue bly vir die nageslag. Dit kan selfs ‘n inkomste maak en selfonderhoudend word. Argieffoto.

Deur Esté Meyer Jansen

Byna 23 jaar later en die toekoms van Afrikaners se kultuurerfenis lyk nie aldag so rooskleurig in die nuwe Suid-Afrika nie.

Tog meen Alana Bailey, die burgerregte-organisasie AfriForum se adjunk uitvoerende hoof vir internasionale skakeling, taal en kultuur, daar is vele ligpunte op die terrein, maar dit verg ʼn passievolle gemeenskap wat self verantwoordelikheid neem vir die bestuur en behoud van hulle gedenkwaardighede.

“Dit is ongelukkig so dat erfenis maar altyd ʼn saak is wat laer op die prioriteitslys afgeskuif word omdat daar altyd eerste aandag gegee word aan dit wat lewend is. In Suid-Afrika is die saak nog meer ingewikkeld met Afrikaner-geskiedenis wat nie meer gewild is nie en politici wat daarby baat om dit omstrede te hou. Boonop is geld ook altyd ʼn kwessie as dit by die bewaring van erfenis kom,” sê Bailey.

Gedenktekens en instansies wat verklaar is, is veronderstel om deur die regering hetsy nasionaal, provinsiaal of op munisipale vlak finansieel ondersteun te word. “Dit is ongelukkig so dat die begroting maklik gesnoei word of dat die geld soms lank neem om uitbetaal te word. Ander instellings maak staat op donateurs wat beteken hulle is uitgelewer indien daar nie ʼn sterk bemarkingskomitee is wat na hulle omsien nie,” sê Bailey.

Daar is egter talle suksesstories in die sektor. Bailey verwys na die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting wat uitstekende werk op die terrein doen. “Hulle bestuur ook terreine soos Bloedrivier en is bekwaam en uiters kundig. Boonop is hulle altyd bereid om advies te gee en beskik oor ʼn hoë vlak van kundigheid.”

Nog ʼn baken van lig in die wêreld van kultuurerfenis is die Taalmonument en -museum in die Paarl, Wes-Kaap. Die staat het in ʼn stadium gedreig om die monument en museum se finansiële steun heeltemal af te skaf. “Nie minder as 20 mense nie, waarvan baie bruin mense is, se werksekuriteit was in gedrang. Ek dink die grootste uitdaging is om mense in die regering te oorreed om vir ʼn geskiedenis te begroot wat hulle nie eintlik ken nie,” het dr. Pieter Mulder, lid van die parlementêre komitee vir kuns en kultuur, het gesê die komitee het dié monument aanvanklik as ʼn “bose” monument afgemaak, maar ná die komitee se besoek aan die Taalmonument het hulle dit as ʼn “eerlike” monument beskryf wat die verskeidenheid invloede van Afrikaans se, van Maleisies tot Zoeloe, vier en erken.

Volgens Mulder is die gedenkwaardighede en museums wat afhanklik is van die staat vir ʼn inkomste en onderhoud onder geweldige druk. “Die Vrouemonument in Bloemfontein is nog ʼn voorbeeld waar daar ook baie gedoen is om ook die geskiedenis van swart konsentrasiekampe te belig. Die komitee sê dit is ʼn monument vir Afrikaners, terwyl daar al selfs ʼn monument vir agterryers opgerig is. Die Gelofte-kerk in Pietermaritzburg het onder die staat geval en sedertdien is daar bitter min van Geloftedag-geskiedenis oor en die uitstallings daar handel nou net oor apartheidsgeskiedenis.”

Bailey meen suksesstories soos dié van die Vegkop-monument en -museum in Heilbron, Vrystaat, waar die Anglo-Boereoorlog-begraafplaas mooi in stand gehou word, is omdat passievolle mense van die plaaslike gemeenskap ingegryp het ter wille van erfenisbewaring. “ Die provinsiale regering het aanvanklik nie die museum op die dorp goed bestuur nie. Die plaaslike gemeenskap het die museum teruggeneem, dit herstel en bedryf dit nou self. Hulle is mense wat met kundigheid en min hulpbronne die meeste reggekry het.”

As ʼn gemeenskap sy erfenis slim gebruik, kan dit ook ʼn inkomste genereer en het dit die potensiaal om selfonderhoudend te word. Bailey verwys na Matjiesfontein waar die publiek ʼn app by die hotel kan aflaai, wat inligting omtrent ʼn begeleide staptoer deur die dorp verskaf en wat ʼn mens die hele geskiedenis van die dorp vertel. “So word jy ingetrek by die geskiedenis van die dorp. Boonop maak ʼn mens dan ook makliker ʼn draai by die plaaslike geskenkwinkel waar jy ʼn aandenking of boek oor die dorp koop.”

Hoekom is dit belangrik om kultuurerfenis te bewaar? “Dit is waar ons wortels lê. Dit is deel van ʼn gemeenskap, volk, nasie en land se identiteit. Die internasionale strafhof het onlangs beklemtoon dat wanneer ʼn kultuur se erfenis verlore gaan dit nie net skade is vir die spesifieke gemeenskap waaraan dit behoort het nie, maar eintlik verloor die hele wêreld ook iets – dit is ʼn gedeelte van ons menswees wat verlore gaan.”

Mense vra ook dikwels hoekom is dat dalk nie net beter om gedenkwaardighede soos standbeelde na ʼn veiliger plek te skuif nie, veral in die lig van wat die afgelope paar jaar met die standbeeld van Paul Kruger en Cecil John Rhodes gebeur het. Bailey meen egter die konteks van gedenkwaardighede gaan verlore en boonop kan dit beteken dat die stuk van die geskiedenis uit die openbare oog verwyder word omdat dit as’t ware weggesteek word.

Bailey verduidelik dat die publiek ʼn goeie waghond is wat kan help om kultuurerfenis te bewaar. “Ons het ʼn geval in Bloemfontein gehad waar ʼn erf te koop aangebied is. Die verkoper het egter nagelaat om te noem dat ʼn Victoriaanse huis uit 1890 op die erf staan en by navraag het die verkoper gesê die ou huis kan maklik platgeslaan word. As die publiek dit nie by die regte owerhede aangemeld het nie, kon dié stukkie erfenis maklik verlore gegaan het.”

Sy moedig mense aan om moeite te doen om vas te stel watter erfenis en gedenkwaardighede in hulle eie omgewing is. “Is daar besonderse geboue of straatname met ʼn interessante geskiedenis? Moenie van bejaardes vergeet met goeie herinneringe oor die omgewing se geskiedenis nie. Onthou dit hoef nie altyd net die stoflike te wees nie, dit kan ook geestelike erfenis wees soos iemand se herinneringe en ʼn familieresepteboek want dit alles skakel ons met die verlede. Almal het toegang tot iets unieks en ons almal kan iets doen om dit te bewaar.

“Ek dink daar is steeds mense wat dink kultuurerfenis is stowwerig en vervelig, maar as ʼn mens eers betrokke raak besef jy hoe lewendig en interessant die terrein is. Dit is ook interessant om te sien hoe almal se stories op die ou einde op ʼn manier aanmekaar skakel. Mense wat betrokke raak by erfenisbewaring sal beslis nie verveeld raak nie.”

  • Besoek die Erfenisstigting en FAK se geskiedenisblad vir meer inligting oor bewaring.
  • Luister na die volledige onderhoud met Alana Bailey boaan hierdie berig. Sy gesels met Esté Meyer Jansen van Maroela Media oor die uitdagings en susksesstories van kultuurerfenisbewaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

JC ·

Dankie Alana, dankie Afriforum, julle is hengse oulik:)
Ongelukkig is baie Afrikaners vandag traak-my-nie-agtig, nie net oor hul kultuur en taal nie, maar ook sommer oor hul erfenis, en sweer baie as’t ware letterlik hul taal en kultuur af, vir watter voordeel of doelwit sal NUGTER ALLEEN WEET, veral indien bv. gekyk word na ‘n kwessie soos DIE WETENSKAPLIK BEWESE VOORDELE EN WAARDE van moedertaal onderrig in ons pragtige en unieke taal Afrikaans!
Gelukkig is daar die meerderheid Afrikaners wat beslis weer opnuut (veral na dese se aanvalle op hulle kultuur)hulle trotse, ryk en gevarieerde geskiedenis en erfenis leer ken ,en BESONDER trots is daarop wat SO verblydend is. Ons hou die vlam nog hoog, lank lewe Afrikanerkultuur(die ENIGSTE blanke stam van Afrika) EN Afrikaans, ons en ons bruin broers en susters se gemeenskaplike taalskat wat van ONSKATBARE waarde is.

Henriette Jacobs ·

So dankbaar oor die verskeidenheid inisiatiewe oor soveel terreine waarop Afriforum en ons ander kultuurorganisaies fokus en hul onvermoeide ywer. Bid ook daagliks vir hulle.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.