Kyk uit vir dié nuwe Afrikaanse-inisiatiewe

Hartklop vir Afrikaans!

Maroela Media het tydens die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees in Oktober vanjaar die feesterrein deursoek vir oorspronklike, Afrikaanse produkte wat taalliefhebbers se harte vinniger sal laat klop. Ons kon slegs drie vind – maar dié drie het behoorlik ons harte warm laat klop.

Kraakvars Kinderstories

Kraakvars Kinderstories is die werk van skrywer en veelsydige stemkunstenaar, Johan Cilliers. Daar is reeds drie CDs met stories beskikbaar. Die stories handel grootliks oor die versterking van Christelike en morele waardes onder die jeug. Johan het al die stemme van die karakters vir Maroela nagemaak, en ons het aan sy lippe gehang!

Die stories laat kinders toe om weer hul kreatiwiteit te ontdek – om hulle te leer hoe om na ʼn storie te sit en luister en hul verbeelding te gebruik hoe die karakters lyk. Johan se veelsydige stemtalent verleen genoeg stof om hulle verbeelding vrye teuels te gee!

Kraakvars Kinderstories sluit stories in soos Boggom en die krokodille, Gevleueldes, en Dorfontein se kaasdief. Dit kan by [email protected] bestel word of skakel 072 680 7746.

Kikabu

Professor Speloek en die Hik-Hop is Stefan Potgieter se skepping. Die Kikabu-produkte is kleurvol: die oorgrootte boek en reuse legkaart is enige kind se droom! Professor Speloek is ʼn slim blou ‘toek’ wat hou van ‘wartelbessies’.

Die taalgebruik in hierdie fantasie-verhaal is oorspronklik en propvol pret. Dit lees lekker en sal oud en jonk inspireer.

Stefan skryf en illustreer self die verhale, en daar is reeds ʼn hele paar ander verhale wat lê en wag om gepubliseer te word, Die avonture van Bongi en Fielies, Kol Kater en die Nostersaurus en Kikabu, om maar ʼn paar te noem.

Kikabu se boek, Professor Speloek en die Hik-Hop (A3-grootte) is beskikbaar teen R120-00. Die A1-grootte 50-stuk legkaart van Professor Speloek is teen R100-00 beskikbaar en kan by Stefan Potgieter by 082 514 5439 of Johann Honniball by 076 186 1911 bestel word, of stuur ʼn e-pos aan [email protected]. Die webwerf is www.kikabu.co.za.

Kontak gerus vir Stefan indien julle belangstel in jeugkampe, avontuurspeletjies of seminare vir volwassenes.

Flutterby Productions

Lang gras en Simson het nie muscles gehad nie is twee van die DVD’s wat deur akteur Jacques Gombault vervaardig word. Elke DVD bestaan uit die film met ʼn toepaslike geestelike boodskap. Lang gras handel oor die belangrikheid dat ons na ons Hemelse Pa moet luister. Die storie handel oor laerskoolseuns wat op veldskool deur wilddiewe ontvoer word. Simson leer ons hoe om ons Hemelse Pa se stem te kan hoor. Die storie handel oor Otto wat moet leer hoe om boelies in sy lewe (sonder geweld en met selfbeheersing) te hanteer. Besoek gerus www.simson.co.za vir meer inligting oor hierdie DVD.

Die DVD’s kan by Johan Pretorius by 081 364 8945 bestel word of deur ʼn e-pos aan [email protected] te stuur. Die koste per DVD beloop R180 plus R25 vir posgeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.