kykNET-Rapport-boekpryse: 2019-kortlyste is hier!

Oudregter Andries Buys wat skryf onder sy skrywersnaam, Lodewyk G. du Plessis. (Foto: Verskaf)

Die 2019-benoemdes vir die kykNET-Rapport-boekpryse is pas bekend gemaak.

Die pryse, wat die Jan Rabie-Rapportprys vir nuwe werk insluit, word toegeken vir die beste Afrikaanse fiksie en niefiksie wat in 2018 verskyn het.

Met hulle eerste romans bevind die skrywers Lodewyk G. du Plessis (Die Dao van Daan van der Walt), Charl-Pierre Naudé (Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey) en Chase Rhys (Kinnes) hulle op die kortlys vir twee pryse. Lodewyk G. du Plessis (die skrywersnaam van oudregter Andries Buys) en Charl-Pierre Naudé is benoem vir sowel die kykNET-Rapportprys vir romans as die Jan Rabie-Rapportprys vir ’n debuut- of tweede fiksiewerk, en Chase Rhys vir beide die filmprys en Jan Rabie-Rapportprys.

“Daar sal teruggekyk word na 2018 as die jaar van die groot debute,” sê die sameroeper van die kykNET-Rapportpryse, Hettie Scholtz. “Mog dit die begin inlei van ’n gans nuwe blomtyd vir ons letterkunde.”

Die sterk veld van debuutinskrywings het ook meegebring dat die kortlys vir die Jan Rabie-Rapportprys vanjaar uitgebrei is tot vier titels.

Die kykNET-Rapport-boekpryse is ingestel as aansporing vir skrywers in Afrikaans om steeds vernuwend en verbeeldingryk gestalte te gee aan verhale wat erkenning verdien as bakens in die Afrikaanse letterkunde.

Die prysgeld beloop R250 000 elk vir die kykNET-Rapportprys vir romans en niefiksie, R125 000 vir die kykNET-Rapport-filmprys, en R125 000 vir die Jan Rabie-Rapportprys.

“Jeremy vannie Elsies” deur Jeremy Veary is benoem vir die kykNET-Rapportprys: niefiksie. (Foto: Verskaf)

Die kortlyste vir 2019 is, in alfabetiese volgorde volgens skrywer:

kykNET-Rapportprys: fiksie (romans)
Die Dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G. du Plessis (Tafelberg)
Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Charl-Pierre Naudé (Tafelberg)
Die troebel tyd deur Ingrid Winterbach (Human & Roussseau)

kykNET-Rapportprys: niefiksie

Ingrid Jonker: ’n Biografie deur Petrovna Metelerkamp (Penguin)
Jeremy vannie Elsies deur Jeremy Veary (Tafelberg)
Bloedbande deur Wilhelm Verwoerd (Tafelberg)

kykNET-Rapportprys: film
Prooi deur Deon Meyer (Human & Rousseau)
Kinnes deur Chase Rhys (Kwela)
Stormkind deur Riana Scheepers (Tafelberg)

Jan Rabie-Rapportprys: romans, novelles en kortverhale
Die Dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G. du Plessis (Tafelberg)
Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Charl-Pierre Naudé (Tafelberg)
Kinnes deur Chase Rhys (Kwela)
Stof deur Alettie van den Heever (Queillerie)

Die kortlyste vir die kykNET-Rapportpryse vir Afrikaanse resensies oor Afrikaanse fiksie en niefiksie, sowel as langer Afrikaanse resensies, word binnekort uitgereik.

Die pryswenners word op Saterdagaand 14 September 2019 in Kaapstad bekend gemaak.

Riana Scheepers se “Stormkind” is benoem vir die kykNET-Rapportprys: film. (Foto: Verskaf)

Kommentaar deur die keurders
Die keurders was verras deur die verskeidenheid en diepgang wat na vore getree het in romans wat in die fiksiekategorie ingeskryf is sowel as die nuwe perspektiewe wat veral aan fiksiekant na vore gekom het. Dit is ook opvallend dat Afrikaans steeds besig is om ’n robuuste kultuur van misdaadromans te ontwikkel met heelwat aandag aan kontemporêre en samelewingsprobleme en ’n goed ontwikkelde sin vir relevante kontekstuele detail. ’n Sintuig vir die historiese kom ook na vore in besonder knap geskrewe historiese romans wat veral boei omdat hulle fokus op relatief onbekende of onontginde geskiedenisse val, of wat die hoofkarakters se huidige gemoedstoestande en geestelike kwellings verbind met gebeure in die verlede.

Keurders

Die keurders vir die kykNET-Rapportprys vir fiksie was prof. Thys Human van NWU, prof. Louise Viljoen van die US, die rolprentvervaardiger Gerrit Schoonhoven en Darryl David van UWK. By niefiksie het die skrywer Valda Jansen, prof. Andries Bezuidenhout (Universiteit van Fort Hare), prof. Herman Wasserman (UK) en die rolprentvervaardiger Hermann Binge die stiplees gedoen en Tina Kruger van kykNET het die geledere van filmkeurders Gerrit Schoonhoven en Herman Binge versterk. Die keurders vir die Jan Rabie-Rapportprys was ouduitgewer Alida Potgieter, prof. Steward van Wyk (UWK) en die skrywer en joernalis Danie Marais.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

ChrisE ·

Die Riana is soos ‘n goeie rooi wyn. Word net mooier hoe ouer sy word. Weg is die vlegsels van skooldae. Geluk.

Therese van Schalkwyk ·

As Charl-Pierre Naudé dieselfde skrywer is wie se artikels so nou en dan in Netwerk24 gepubliseer word, hoop ek Maroela kan hom nader trek, want sy meningstukke staan uit bo die res en laat ‘n blywende indruk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.