Laat daar boeke wees …

boeke 2

Argieffoto.

Deur Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum vir internasionale skakeling, taal en kultuur

Twee weke gelede stel die personeel van Kraal Uitgewers ons jongste publikasie, Kultuurvryheid en selfbestuur: Keuses van klein groepe wêreldwyd, bekend as deel van die Woordfees se program in Stellenbosch. Die bekendstelling vind in Stellenbosch se biblioteeksaal plaas. Die redakteur van die boek, dr. Heinrich Matthee, lei die gesprek oor die boek in deur te noem dat sy kennismaking met die groter wêreld van boeke jare tevore op presies dieselfde plek was, naamlik toe sy pa hom die eerste keer na die einste biblioteek gebring het om boeke te kom uitneem.

By die aanhoor van dié woorde verdwyn Stellenbosch skielik om my en is ek weer ʼn laerskoolkind wat saam met my ma in die donker ou Marksaal in Krugersdorp dwaal.  Ons is besig om tussen krom en skewe rakke wat hoog bo ons uittoring, leesstof uit te snuffel. Die vloerplanke kraak asof ʼn bataljon soldate verbymasjeer. Op plekke is die planke al deurgeloop of stukkend, sodat die donker wêreld onder die vloer effe sigbaar word. Ek het my verbeel dat dit is waar nuwe stories ontspring en stadig na bo syfer om nóg boeke te word. Ek onthou die reuk, daardie unieke mengsel van stof en papier en die blioteektannie se parfuum, iets tydloos en toweragtig.

So het ons almal seker stories oor ons eerste biblioteekbesoeke, ook boeke en karakters wat ons daar onherroepelik leer liefkry het en feite wat ons daar raakgelees het, wat die koers van ons lewens dikwels help bepaal het.

Dan is daar ook die mense wat boeke deel van ons wêreld gemaak het. In my geval was daar my ma, wat van kleins af vir my voorgelees het. Krugersdorp was nou nie juis ʼn kulturele mekka nie en Afrikaanse kinderboeke was skaars. Sy het gereeld Engelse storieboekies in die reeks Sunny Stories vir my gekoop en dan al lesend in Afrikaans vertaal. Toe sy een aand agterkom sy begin die Bybel vir haarself in Engels vertaal, het sy geweet sy moet eerder meer Afrikaanse boeke vir my soek – waarskynlik die stadium waarop ons die newelagtige Marksaal betree het. Die wonderlike feitetydskrifreeks, World of Wonder, het in die tyd ook vir my horisonne geskep, wat gestrek het van die lewe in antieke Griekeland en Rome, tot by moderne wonders van daardie jare, soos die Concorde-vliegtuig.

My niggie, Yvonne Arnold, nou helaas oorlede, het my groot liefde vir selflees laat vlamvat met Enid Blyton se reekse, plus natuurlik Trompie en Saartjie en later die mense van Maasdorp en Keurboslaan wat in my Kerskous verskyn het. By Laerskool Kenmare was daar die dierbare juffrou Steenberg, wat my toegelaat het om my werk vinnig klaar te maak en dan in haar stoorkamer ʼn boek te gaan soek om te lees.

Vandag is daar letterlik boeke in elke vertrek van my huis. Sommige wag hoopvol om eendag gelees te word, party is voos geblaai, ander is meer as ʼn boek – dit is ʼn herinneringsvlug terug na dié een wat dit vir my gegee het, of daardie plek waar ek dit gekoop het. Soms val ʼn tarentaalveer of treinkaartjie uit ʼn boek en sluit ʼn hele kassie herinneringe oop.

Onlangs is heelwat geskryf oor die sukses van Nicol Stassen. Hy is beslis ook hoog op my lys van boekhelde, omdat hy die Afrikaanse leser van 2017 aan ʼn wyer wêreld van Suid-Afrikaanse, maar ook Europese boeke, bekendstel. In ʼn tyd toe almal begrafnis wou hou vir gedrukte boeke, het hy sy hart gevolg en hulle verkeerd bewys. Binne ʼn kwarteeu het sy boekebedryf van ʼn tafel op ʼn straathoek in Hatfield tot 15 boekwinkels regoor die land gegroei tot ʼn uitgewery wat sowat ʼn honderd boeke per jaar publiseer. Hy is ook die welverdiende wenner van onder meer AfriForum se 2017 Tinteltong-toekenning vir die beste Afrikaanse Uitgewer.

In die lig van uitgewers soos Protea se sukses, hoe lyk die toekoms vir gedrukte boeke? Dit is moeilik om te sê. Mense wat my twee jaar terug verseker het Kindle en e-boeke is die pad van die toekoms, loop ek deesdae maar weer tussen boekwinkels se rakke raak, of ons leen oor en weer leesstof by mekaar.

Van 2008 tot 2010 het die verkope van e-boeke wêreldwyd dermate gestyg, dat daar met groot sekerheid voorspel is gedrukte boeke gaan soos papirusrolle en perkamentvelle in onbruik verval. Teen 2015 is egter berig e-boekverkope beleef ʼn geringe daling en in 2016 het die BBC selfs verklaar die verkope het nou ʼn plato bereik. Selfs die plato is steeds ʼn baie groot volume boeke wat jaarliks so verkoop of gratis afgelaai word, maar nie genoeg om die voorspellings oor die einde van die drukbedryf te bewaarheid nie.

Benjamin Trisk, uitvoerende hoof van Exclusive Books, vergelyk e-boeke met die mikrogolfoond – vinnig en handig onder sekere omstandighede, maar geen plaasvervanger vir ʼn kersligete wat met sorg en liefde gekook is nie. Met ander woorde, hy sien ruimte in die mark vir beide gedrukte en e-boeke, maar voorsien nie dat die een die ander binnekort sal vervang nie, omdat ʼn gedrukte boek ʼn ander ervaring aan die leser bied.

Mede-uitgewers van Afrikaanse boeke verseker my hulle belê min in oudio- of e-boeke, omdat lesers eenvoudig gedrukte boeke verkies. Dit was ook die bevinding van ʼn peiling wat Kraal Uitgewers in 2015 gedoen het. Slegs 9% van die respondente het aangedui hulle lees e-boeke en ʼn skrale 0,3% dat hulle oudioboeke verkies.

Sommige navorsers meen e-boeke het ʼn negatiewe invloed op die brein se reaksie op teks, wat ʼn gebrek aan analitiese denke oor geleesde materiaal tot gevolg het, terwyl ander deskundiges weer beweer e-boeke help kinders juis met leer- en leesprobleme om dit te oorbrug. Of e-boeke dus ʼn seën of ʼn sonde is, is hoegenaamd nie duidelik nie. Nog minder of ons werklik oor ʼn dekade nog boek in die hand in feite en fiksie vasgedraai sal sit.

Persoonlik hoop ek harstogtelik regte egte boeke sal voortbestaan.

Geen e-boek kan ʼn Familiebybel vervang nie.  Van kantaantekeninge in ʼn bewerige handskrif, tot ʼn beskuitresep en familiefoto duik tussen die blaaie op om ʼn gestorwe geliefde vir ʼn vlietende oomblik weer langs my te laat staan. Geen e-boek kan my oupa se Tennyson-digbundel vervang nie. Langs die bekende “Tis better to have loved and lost // Than never to have loved at all” is die enkele potloodwoord “Why?” ʼn stil getuie van sy eerste groot liefde wat hom ʼn eeu gelede verlaat het.

ʼn Ma of pa kan nie vir die kleutertjie leer van “saggies blaai” met ʼn e-boek nie. Dit laat ook geen herinneringe van die voorkoppie wat in konsentrasie plooi en die vet handjie wat o, só stadig, ʼn bladsy omblaai nie.

Het ons in ʼn era van e-boeke grootgeword, het Heinrich se optrede by die Woordfees geen spoor terug na ʼn seuntjie en sy pa, of dan ook ʼn dogtertjie en haar ma se eerste besoek aan ʼn biblioteek gebring nie.

Ter wille van al hierdie wonderlike herinneringe, maar ook nog nuwes wat gemaak moet word, sê ek dan maar: “Laat daar tog eendag nog boeke wees!”

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Alana Bailey

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Rita ·

Kan iemand my dalk help. Ek is opsoek na audio boeke. Did soos boekvoorlesing op die radio. Ek wil dit op my rekenaar of ipad download sodat ek dit vir my 87 jarige moeder kan speel. Haar oe het so verswak dat sy nie meer kan lees nie, ook nie met ‘n bril nie. Ek wil graag audio boeke vir haar speel om na te luister. Waar kan ek dit download…???
Baie dankie

Alana ·

Hallo Rita, ek dink Bandhulp vir Blindes kan help. Ek hoop hulle bestaan nog, ander lesers sal dalk beter weet, maar loer by http://www.tapeaids.com. Hulle het volgens die webwerf take deur die land en lewer ook die diens aan mense wat swak sien. ‘n Blinde vriend van my het hulle diens baie geniet, maar hy is so twee jaar gelede oorlede. Hoop dit help! Jy kan ook op die potgooie van radiostasies soms heerlike stories kry wat jy gratis kan aflaai, dis lekkerder want dan is daar nie net ‘n voorleser nie.

Johann ·

Goeienaand Rita, kontak gerus vir Schalk Hugo by: pioneerprinters.org.za jy sal daar geholpe raak.

E.K. ·

Regte, egte, gedrukte boeke is nog die heel beste. Vra enige boekomaan/leesomaan – die Kindle en e-boeke werk nie vir ons nie. Die reuk, die gevoel van ‘n gedrukte boek …nee wat niks kom by regte boeke nie. Mooi kunsboeke of dan koffietafelboeke is juis net dit ‘n versiering en ‘n plesier vir mens op donker f afdae. Ook daar vir as jy gaste het en dalk gou moet kombuis toe glip of iets en hul kan lekker deur ‘n pragboek blaai terwyl hul wag; mens kan tog nie ‘n simpele Kindle op jou koffietafel neersit nie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.