Lank lewe Afrikaans as moedertaal!

afrikaans

Argieffoto.

Suid-Afrika vier soos die res van die wêreld vandag (21 Februarie) Internasionale Moedertaaldag.

Die tema is: Op pad na ʼn volhoubare toekoms deur veeltalige onderwys.

ʼn Mens kan met reg vra hoeveel daar werklik te vier is, gegewe die knaende en volgehoue aanslag op Afrikaans as onderrigmedium vanuit regerings- en ander oorde. Nie net Afrikaans word toenemend misken nie. Ook die land se ander inheemse tale word nie bevorder, ontwikkel of ʼn plek in die son gegun nie.

Suid-Afrika het vir alle praktiese doeleindes Engels as enigste ampstaal wat in die kele van 50 miljoen mense afgedruk word. Boonop is dit uiters ironies dat die ANC-regering alles in sy vermoë doen om alles in Engels te doen, terwyl dít as die taal van gehate kolonialiste bestempel word.

Al kry die land se inheemse tale nie die behandeling wat dit moet nie, kan die belangrikheid van ʼn mens se moedertaal en onderrig in dié taal nie afgemaak of onderskat word nie. Gelukkig is daar nog baie taal- en onderwyskundiges, sosiolinguiste en talle kultuur- en ander organisasies wat hulle beywer vir die erkenning en uitbouing van inheemse tale en moedertaalonderrig – ook in Afrikaans.

As burgerregte-organisasie fokus AfriForum veral op die beskerming en behoud van Afrikaans as onderrigtaal. Die organisasie was verlede jaar en vanjaar by verskeie hofstryde en veldtogte betrokke ter behoud en bevordering van Afrikaans.

AfriForum het ook die woord “moedertaalonderrig” eksklusief aangekoop as deel van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se fondswerwingsprojek, “Borg ʼn Woord”. Die WAT – kroonjuweel van Afrikaanse woordeboeke – dokumenteer die Afrikaanse woordeskat in sy wydste omvang en is die grootste projek ooit rondom Afrikaans. Fondse is nodig om hierdie groot taak voort te sit.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het AfriForum “moedertaalonderrig” aangekoop om alle Suid-Afrikaners bewus te maak van die voordele wat hierdie internasionaal erkende reg vir mense inhou.

In lande waar moedertaalonderrig geredelik beskikbaar is, is daar oor die algemeen meer politieke stabiliteit, minder werkloosheid en hoër vlakke van geletterdheid. Leerlinge is meer geneig om hul skoolloopbane en studies te voltooi wanneer hulle onderrig in hul moedertaal ontvang. Hulle vaar beter in vakke soos wiskunde en wetenskap, omdat hulle abstrakte konsepte assimileer in hul moedertaal en nie net memoriseer in ʼn tweede taal nie. AfriForum se ideaal is dat elke Suid-Afrikaner uiteindelik toegang tot hoë gehalte onderrig in sy of haar moedertaal moet kry.

Suid-Afrikaners is volgens Bailey nog veels te onbewus van hul taalregte. Hulle besef nie dat die erkenning daarvan deel vorm van die erkenning van hul menswaardigheid soos gewaarborg in die Grondwet nie.

“Taal is nie bloot ʼn kommunikasiemedium nie – dit is ʼn onlosmaaklike deel van elke mens se identiteit. Ons moet die toepassing van moedertaalonderrig in Suid-Afrika aktief bevorder. Dit is ook noodsaaklik om projekte soos die WAT te ondersteun en ons moedertale so uit te bou,” het sy gesê.

Carien Bloem, projekkoördineerder van onderwys by AfriForum, verduidelik dat projekte soos Dink of Sink (onvoorbereide debatskompetisie vir hoërskoolleerlinge regoor die land) en SLIM (ʼn veldtog om moedertaalonderrig te bevorder) ook daarop gemik is om mense oor Afrikaans bewus te maak. Met die SLIM-veldtog word die Slimkoppe-produksie, geskryf deur die akteur en dramaturg Chris Vorster, vanjaar in skole in Noordwes opgevoer.

Ander projekte en instansies wat Afrikaanse bevorder, sluit in:

Afrikaans.com: Dit is ʼn saamkomplek vir alles Afrikaans. Hier kan die verskillende variante en dialekte soos Kaapse Afrikaans, Swartland-Afrikaans, Bolandse Afrikaans, Weskus-Afrikaans, Oos-Kaap-Afrikaans, Karoo-Afrikaans, Oranjerivier-/Griekwa-Afrikaans, Boesman-Afrikaans, Richtersveld-Afrikaans, Ghoema, Soweto-Afrikaans en nog meer ontdek en gevier word.

Die ATKV: Dié organisasie het ook vanjaar ʼn kompetisie aangebied en wou van mense weet wat hul moedertaal vir hulle beteken. Hulle kon deelneem deur ʼn kort sin of slagspreuk hieroor te skryf waarmee hulle pryse kon wen.

Die FAK: Die organisasie het sy myAfrikaans-app, ʼn eenstop-Afrikaanse taal, kultuur en geskiedenis-toepassing, ontwikkel wat gratis afgelaai kan word. Die nuutste FAK-Sangbundel is ook elektronies op die myAfrikaans-app beskikbaar.

Die Afrikaanse Taalraad: Die ATR help met die saamstel van moedertaalinligting vir skole en bevorder Afrikaans en haar sprekers in hul volle diversiteit, deur erkenning te gee aan alle sprekers van die taal, van Standaardafrikaans deur tot by Kaaps.

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA): Die instituut het in 2016 ʼn Varsgebek-kompetisie gehou, waarin mense gevra is om hul unieke woorde en uitdrukkings in te stuur sodat dit in ʼn databasis opgeneem en vir die nageslag bewaar kan word. Die kompetisie word weer vanjaar aangebied.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afikaanse Skole (Fedsas): Dié organisasie steun ook vanjaar Internasionale Moedertaaldag en het by monde van Paul Colditz, uitvoerende hoof, gesê dit kan nie genoeg beklemtoon word dat leerlinge in die eerste paar jaar van hul skoolloopbaan in hul moedertaal onderrig moet word nie. “Ouers maak ʼn fout om hul kinders van die begin af in Engelse skole te plaas, omdat Afrikaans op universiteitsvlak onder druk is. Kinders moet minstens in die eerste sewe jaar van onderrig in hul moedertaal onderrig word.”

Die Vereniging van Regslui vir Afrikaans (VRA):  Die VRA stel vandag sy Landdroshofreëls in Afrikaans in Pretoria bekend.

Tiaan van Dyk, voorsitter van die VRA, het gesê die vertaling van die Landdroshofreëls in Afrikaans is die vereniging se bydrae tot die behoud van Afrikaans as regstaal. Die projek is finansieel ondersteun en moontlik gemaak deur die dr. Marie Luttig Trust en het nagenoeg R70 000 gekos om te voltooi. “Dit is belangrik om die gebruik van die taal in ons howe te bevorder en te behou omdat Afrikaans, naas Zoeloe en Xhosa, die taal in Suid-Afrika is wat die meeste mense praat. Sensusdata toon dat daar in vergelyking met Engels, meer mense in Suid-Afrika is wat Afrikaans as huistaal praat, maar tog word wetgewing dikwels slegs in Engels gepubliseer en gladnie in Afrikaans nie.”

Die VRA het al verskeie ander stukke wetgewing vertaal en beplan om nog talle projekte om Engelse wetgewing in Afrikaans te vertaal, aan te pak. Daarby gaan die VRA vanjaar ook met ʼn proses begin om die vertalings amptelik te laat erken.

Die VRA doen ʼn beroep op die reëlsraad en die parlement om die VRA-vertaling van die Landdroshofreëls as amptelike vertaling te erken, sodat regspraktisyns dit ook amptelik kan gebruik.

Afrikaans-Vriendelik: Dié inisiatief van AfriForum is daarop gemik om Afrikaans as taal onder sakelui en in ondernemings te bevorder. ʼn Webtuiste is beskikbaar waar ondernemings gratis hul produkte en dienste in Afrikaans kan bemark. Afrikaans-Vriendelik bied ook vanaand sy Tinteltong-toekennings aan ter viering van Internasionale Moedertaaldag.

Volgens Sanderien van der Walt is Afrikaans lewendig in die sakewêreld en AfriForum het verlede jaar vasgestel tot 30% van die Suid-Afrikaanse mark en ondernemings wil hul dienste in Afrikaans aanbied. “Daar is ʼn enorme aantal entrepreneurs wat werklik hard werk om kop bo water te hou in die moeilike ekonomiese omstandighede van vandag. Met die toekennings wil ons graag erkenning gee aan dié ondernemings wat inisiatief neem en Afrikaans deur hul werksaamhede bevorder. Ons sien hierdie ondernemings en die verskil wat hulle maak, beslis raak.”

Solidariteit: Die vakbond vier ook vandag Internasionale Moedertaaldag en het in ʼn verklaring gesê twee strategieë word gevolg om Afrikaans te beskerm en as onderrigtaal te behou. Dit is saam met AfriForum by verskeie regsprosesse betrokke wat primêre, sekondêre en tersiêre onderwysvlak raak en die instellings gebruik die hofsake om die status van Afrikaans as onderrigtaal te beskerm en te behou. Die tweede strategie wat gevolg word, is die bou van alternatiewe private Afrikaanse opleidingsinstellings, soos Sol-Tech en Akademia.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JC ·

LANK LEWE AFRIKAANS en AFRIKANERS! Ek is lid van die ATKV, Afrisake, Afriforum, en dra by tot die Solidariteit Helpende Hand fonds vir verdienstelike Afrikaanse studente en ook Akademia, ook is ek lid v/d FAK, en maak donasies aan die Afrikaanse Protestantse Akademie en is ook lid van die Afrikaner Vryheidsbeweging, oftewel Orania.
Wanneer doen jy jou deel? Indien ek kan kan jy ook ;-)

Daan Mulder ·

Langenhoven se woorde pas vandag nog: ” Afrikaans is ‘n pêrel van groot waarde!” So ook
Gustav Preller wat gesê het dat ons erns moet maak van ons taal. Hy het by geleentheid
gevra: “Is dit ons erns?” Nee, nie meer in 2017 nie – ons icecream en swiets en kiddies en
boooodiful en buddefly (imagine daai liedjie!) en worship en en en .. toemaar, ons het darem nog ATKV-redenaars en Afriforum en die FAK wat die geveg vir ons veg. Laat ons
maar lekker agteroor sit. Dankie vir Steve, Laurika, Amanda, Chris C. en vele ander uit wie se monde ons beskrywende taal soos (Langenhoven se) pêrels vloei!

Ampie ·

Goeie inisiatief, jammer die artikel het bietjie laat verskyn.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.