Lees jou spruite slim met stories

Argieffoto (Foto: dassel, Pixabay)

Deur Marisa Haasbroek

ʼn Jong operasanger, Gabriel Wyner, het die wêreld aan die gons oor die spoed waarteen hy nuwe tale aanleer en hulle vlot leer praat. Frans? Ses maande. Duits? Ook ses maande. Hongaars? Wel, dit neem ʼn bietjie langer … nege maande. Japannees? Twaalf maande.

Só fenomenaal is Gabriel se taaltalent dat hy deesdae nie meer in operas optree nie, maar ʼn boek geskryf en toe ʼn app en kursus ontwikkel het om sy Fluent Forever-model vir ander te leer. Alhoewel hy dit nie so noem nie, gebruik Gabriel ʼn konsep met die naam van fonologiese bewustheid om tale te bemeester. Dis dieselfde manier waarop jong kinders tale aanleer.

Fonologiese bewustheid vind plaas as mens die klanke, woorde en sinskonstruksies van ʼn taal in oormaat hoor totdat jou brein self die reëls hoe hulle gevorm word, kan aflei.

Gabriel begin by die klanke van die taal en geen wonder nie, want soos spraak- en taalterapeut, Hannekie Verwoerd dit stel: “Taal kan jou net op een manier bereik en dit is deur jou ore.”

Nadat mens die klanke van die taal en daarna ʼn basiese woordeskat opgebou het, sê Gabriel moet jy jou brein deurdrenk met modelsinne uit die taal.

Ouers kan baie van Gabriel se idees net so oorneem om ook hulle kinders se moedertaal te versterk. Dit is oor en oor die moeite werd, want volgens Hannekie is fonologiese bewustheid die belangrikste faktor wat jou kind se lees- en uiteindelike studiesukses verseker.

Hannekie Verwoerd, spraak- en taalterapeut (Foto verskaf deur Marisa Haasbroek)

Lees hardop vir jou kind uit storieboeke voor

Hierdie passievolle spraakterapeut met bykans twintig jaar se ervaring het egter ʼn voorstel waarmee mens jou kinders se taalvermoë ʼn ekstra hupstoot kan gee. Dit sluit aan by Gabriel se idee van modelsinne. Hannekie se raad? Lees hardop vir jou kinders voor. Uit storieboeke!

Natuurlik moet mens met jou kind praat en gereeld ook, sê Hannekie, maar voorlees stel jou kind bloot aan ander woorde en uitdrukkings as wat jy as ouer gebruik. Voorlees leer jou kind ook om goed aandag te gee en te luister.

Storiesinne is dikwels ook langer en ingewikkelder as praatsinne – goeie voorbereiding vir latere akademiese handboeke. As ons praat, val ons onsself boonop gedurig in die rede. Omdat storiesinne volledig is, is hulle daarom van die perfekte grammatikale modelle wat meneer Wyner se model so geslaagd maak.

Hannekie het ʼn paar wenke om seker te maak die voorlesery werk goed. As sy vir haar eie kinders – en sy het vyf! – voorlees, skep sy ’n goeie luisteromgewing. Daarom is daar nie geraas of geluide in die agtergrond wat steurend inwerk op dit waarna die kind moet luister nie. Haar kinders mag hulle hande besig hou terwyl sy lees of hulle kan bloot agteroorsit en die storie geniet. Wanneer daar prenteboeke voorgelees word, het almal beslis ’n sitplek wat ’n uitsig op die bladsy verseker.

Hoe gemaak as jou kind ʼn gunstelingstorie het wat jy oor en oor moet voorlees?

“As dit gebeur, moet ouers baie bly wees,” sê Hannekie. “Dit beteken jou kind se brein hou baie van wat hy hoor en wil nog daarvan hê.” Die belangrike is dat jy die storie dan elke keer op presies dieselfde manier voorlees. Dan kan jou kind voorspel wanneer jy wat gaan sê. Dit is vreeslik bevredigend vir sy brein.

Voorlees maak kinders beslis nie lui om self te leer lees nie, beklemtoon sy. Om die waarheid te sê, maak beter fonologiese bewustheid dit vir hulle makliker om self te leer lees.

Wil jy graag vir jou ʼn kind ʼn tweede taal aanleer? Voorlees is een van die beste maniere. In Suid-Afrika hoor kinders Engels dikwels as ʼn tweede taal, maar dit is meestal gesprekstaal wat informeler is. Boeketaal uit Engelse stories berei hulle beter voor om eendag akademiese Engels baas te raak.

Met die voorlees van ʼn tweede taal, moet mens net eers seker maak jou kind se moedertaal is goed genoeg gevestig sodat daar nie taalverwarring plaasvind nie. Vir die meeste kinders beteken dit so teen drie jaar, sê Hannekie.

Slaaptydstories is beslis nie voorlees nie. Alhoewel slaaptydstories wonderlik is weens die warm emosionele tydjie wat dit saam met die ouer beteken, wil jy hê jou kind moet op en wakker wees as jy vir hom voorlees. Om met aandag te luister is harde werk vir sy brein, al is dit iets wat sy brein baie geniet. Jy wil nie hê jou kind moet boeke net assosieer met aan-die-slaap-raak nie.

Omdat baie ouers sukkel om geskikte voorleesboeke uit te soek het Hannekie ʼn webwerf, Luistervinkstories, begin waar sy self, boek in die hand, stories voorlees. Die kind volg dan die storie saam met haar, kan die illustrasies geniet en sien wanneer sy omblaai. Illustrasies wat die storie ondersteun is kunswerke, voel Hannekie. Sy vind dat ouers soms bang is om stories met illustrasies te kies, maar sy raai hulle aan om juis prenteboeke uit te soek, veral aan die begin.

Hannekie het toestemming by skrywers en uitgewers gekry om van die ouer Afrikaanse boeke, wat reeds uit druk is, te kan voorlees. Boonop het Protea Boekhuis onlangs vir haar toestemming gegee om van sy splinternuwe boeke, wat tans op die rakke is, ook voor te lees. Die kostelike Langenhoven storie, Kootjie Totjie is een van hulle.

Sy vind dat stories voorlees soms vir die kinders so lekker is dat ouers begin twyfel of dit regtig so goed werk. Dis ʼn fout, maan sy. Voorlees bly een van die maklikste en aangenaamste maniere om jou kind se fonologiese bewustheid en daarmee saam sy uiteindelike akademiese sukses te verseker.

Luistervinkstories het gratis stories beskikbaar en vir ʼn geringe intekenfooi kry mens ook toegang tot die volle skatkis van Afrikaanse stories op die webwerf. Daar is nou al bykans dertig van hulle.

Luister op Marisa Haasbroek se YouTube-kanaal na die volledige onderhoud met Hannekie.

Marisa Haasbroek

Meer oor die skrywer: Marisa Haasbroek

Marisa Haasbroek is ʼn Afrikaanse skrywer en tuisskoolma. By oolfant.com blog sy gereeld oor moedertaalonderwys en onderrig in Afrikaans.

Deel van: Ouerskap, Só maak mens, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Basjan ·

Dankie Marissa Haasbroek en Hannekie Verwoerd! Dit is verblydend om nog sulke passievolle mense soos julle te hê om die liefde vir ons Afrikaanse taal te kweek en te vestig.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.