Lenteskool vir liefdesverhaalskrywers

Argieffoto (Foto: Maria Godfrida/Pixabay)

Vir liefdesverhale raak die mensdom nooit moeg nie. Verliefraak is immers een van die opwindendste én ingrypendste avonture wat ’n mens kan beleef en daarom is daar voortdurend ’n behoefte aan nuwe skrywers van romantiese fiksie.

Die Lenteskool vir liefdesverhaalskrywers wat jaarliks op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit plaasvind, bied jou die geleentheid om die eerste treë te gee op so ’n skywersloopbaan!

Soos in die verlede, word die Lenteskool aangebied deur die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit in samewerking met Lapa Uitgewers. Lapa gee ongetwyfeld die toon aan in die uitgee van romantiese fiksie in Afrikaans.

Personeel van Lapa en die ATKV-Skryfskool sal eerstehandse, praktiese raad aan kursusgangers bied by dié geleentheid, wat vanjaar van 12 tot 14 September op Potchefstroom plaasvind. Ook die bekroonde romanseskrywers Elsa Winckler en Magdaleen Walters sal daar wees om kursusgangers touwys te maak in hoe om ’n meesleurende liefdesverhaal te skep.

Skryf die eerste hoofstuk (tussen 3 000 en 5 000 woorde lank) van jou eerste liefdesroman. Doen terselfdertyd navraag per e-pos by [email protected] – voor Vrydag 6 September 2019 – oor hoe om in te skryf vir Lenteskool 2019.

Die kursuskoste beloop R3 000. Dit sluit verblyf by die PUK Astro Villas vir twee nagte (selfsorgeenhede geleë by die kampus van die NWU), oggend- en middagverversings, middagetes en ’n geselligheid op Vrydag 13 September 2019 in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.