Lesers se kortverhale: Hier is ons wenverhaal

Die wenner van Maroela Media se kortverhaalkompetisie is pas bekend gemaak.

Baie geluk aan Helena Mellet van Robertson in die Wes-Kaap wat met haar spanningsverhaal ʼn heerlike boekpak losgeslaan het! Helena wen ʼn boekpak ter waarde van R1 130. Dié boekpak bestaan uit 30-minute-resepte, wenke en wyshede deur Herman Lensing (NB Uitgewers), Laat u Naam geheilig word deur Esté Geldenhuys (NB Uitgewers), 100 beste blokraaie van 10 jaar! II (Lapa Uitgewers) en Hoe supercool goed werk (Lapa Uitgewers).

Lesers moes een van die volgende sinne kies as ʼn inleidingsin en dan ʼn kortverhaal van sowat 250 woorde skryf. Die kortverhaal kon ʼn speurverhaal, riller, romanse, tragedie of selfs komedie wees!

Hier was die sinne waaruit lesers kon kies:

  • Dit neem ʼn rukkie vir my oë om aan die donker gewoond te raak. Iewers lag ʼn hiëna.
  • Toe sy vir ontbyt aansit, lê die briefie langs haar bord. Die handskrif lui ʼn klokkie.
  • Dit was nie sommer net ʼn gewone “totsiens” nie.
  • Ek moes my pa dié dag by die fees ontmoet het.
  • Tsjwie-tsjwie is die enigste geluid wat sy motor se enjin nóú maak …

Wenner

Hier volg Helena se wenverhaal (en vyf verhale, wat die lys van finaliste gehaal het, volg onderaan).

Argieffoto (Foto: Hans Benn/Pixabay)

Dit neem ‘n rukkie vir my oë om aan die donker gewoond te raak. Iewers lag ‘n hiëna.

Die brandpyn in my been is erg en ek ruik bloed. As ek net by Sara kan uitkom, maar ek weet nie waar sy is nie en dit kan ons al twee dalk net in groter moeilikheid laat kom. Paul en Barry is hier naby. Enige geluid sal hulle agterdogtig maak.

‘n Verdwaalde duif roep sy maat in die donker. Vir al wat ek weet, kan dit Paul en Barry ook wees wat met mekaar kommunikeer. Hulle ken die bosveld en al die truuks om te survive in die nag. ‘n Klapgeluid laat die hare op my lyf regop staan. Dis nie ver van waar ek sit nie. ‘n Manstem eggo deur die lug en geweerskote volg kort op mekaar. Dan is dit stil. Sara! Ek wil na haar roep, maar daar kom nie ‘n geluid by my mond uit nie. Meteens is daar ‘n geritsel in die bosse agter my. My borskas sukkel om my hart binne te hou. Dit kan netsowel een van húlle wees of die hiëna.

“Johan!” Dis Sara se stem.
“Sara!” roep ek na haar.
“Johan, waar is jy?”
“Ek’s hier, Sara. Beweeg in die rigting van my stem.”
Die geritsel in die bosse kom nader en dan is sy by my.
“Sara, is jy oukei?”
“Ja, ek’s fine.”
“Waar’s Paul en Barry?”
“Ek het hulle geskiet. Jy was toe al die tyd reg, Johan. Hulle was die stropers.”

Finaliste

Hier volg vyf finaliste se stories wat ook vir die prys in aanmerking gekom het. Die stories word nie in enige volgorde gepubliseer nie.

Narissa van der Merwe van Waverley in Pretoria se verhaal (spanningsverhaal):

Toe sy vir ontbyt aansit, lê die briefie langs haar bord. Die handskrif lui ‘n klokkie.

Sy blou oë het haar van hul eerste ontmoeting af vasgevang. Elke oomblik saam hom het gevoel asof dit uit ‘n sprokiesverhaal kom. Hy het vir haar alles gebied waarvan sy ooit kon droom, maar daardie droom het vinnig in ‘n nagmerrie verander. Haar geliefde prins het ontaard in ‘n monster, met ‘n smaak vir geweld.

Sy streel haar hand oor haar bors, en voel steeds die pyn van ‘n gebreekte sleutelbeen. As sy na haar refleksie in ‘n spieël kyk sien sy nog steeds die bloukolle op haar wange. Sy het later nie eers meer geluister na die redes waarom sy hulle “verdien” het nie. Sy het net om verskoning gevra. Nie dat dit enigsins gehelp het nie, want daar was altyd iets waarvoor sy gestraf moes word.

Sy het altyd geweet dat hy haar eendag sou vind. Vir ses jaar het sy gewag vir die dag wanneer sy weer aangesig tot aangesig met haar monster sou kom. Maar hierdie keer is sy voorbereid en dáárom is dit nie vrees wat aan haar vasklou nie, maar moed. Dit is moed wat haar laat opstaan en kamer toe loop. Dit is moed wat die bedkassie se laai ooptrek. En dit is moed wat haar vingers om die koue metaal van die geweer laat vou.

Hierdie keer baklei sy terug.

Elizabeth Jordaan van Sasolburg in die Vrystaat se verhaal (riller):

Dit neem ’n rukkie vir my oë om aan die donker gewoond te raak. Iewers lag ’n hiëna. Ek gaap en sit regop. Koel Kalahari-naglug stroom na binne toe ek die Jeep se venster laat afrol.

My iPhone wys dis elfuur en steeds is daar geen selfoonsein nie. Waar bly Paul so lank? Polentswakamp is mos nie so vêr nie. Hy’s al vanmiddag weg om hulp te gaan soek. Ek hoop nie hy’t verdwaal nie.

Ek lek oor my droë lippe en voel na die waterbottel; gee dit ’n skud. Leeg. Gelukkig is daar ‘n drinkplek so entjie terug. Ek kyk rond. Sê nou net hier’s leeus? Ons hét vroeër vanmiddag vars leeuspore in die tweespoorpad gesien. Sal liewer môreoggend gaan water haal.
Dis nog skemer toe ek wakker word. My tong kleef aan my verhemelte vas. Ek gaan nóú water haal, leeuspore of te not. Ek drafstap in die rigting van die drinkplek, al met die padlangs. Naby die drinkplek, vang my oog ’n beweging in die gras.

Groen brommers gons om ’n bebloede hand. Daar’s ’n trouring aan die halfgevrete ringvinger. Ek herken dit. Dis dieselfde ring wat ek eergister in die kerk daaraan gesteek het.
Duiselig sak ek op my knieë neer. Dis nie waar nie … Paul kan nie dood wees nie.
’n Geluid laat my opkyk, vas in die amber oë van die leeuwyfie …

Riana Botha van Randfontein in Gauteng se verhaal (komedie):

Ek moes my Pa die dag by die Nampo-fees ontmoet. Dit wemel van mense en ek groet hier en daar al die bekende gesigte uit my omgewing. Die geselsie gaan verseker oor my ongehude status as vier-en-dertigjarige “straight” man sonder vrou of meisie; die enigste vroue in my lewe tans is die varksôe en stoetkoeie op die plaas. Die ou kêrel raak kriewelrig, het sowaar nou die dag in die stalle so half en half geskimp of ek dalk nog “in die kas is”.

Pa sit rustig vir my en wag en toe ek neersak op die bankie, val hy sommer met die deur in die huis. “Ou Seunie, Pa het iets gedoen wat ek seker maar eerder moes gelos het, maar dis nou gedane sake. Sien, ek het namens jou ingeskryf vir die Landbou Weekblad se Opsitkers, wragtig ‘n klomp briewe gekry en een het my oog gevang, haar skuilnaam is Steenbokkie. Ag, ek sien die ou meisietjie al daar op die plaas. Sy is op pad hier na ons toe en jy moet uitkyk vir ‘n meisie met ʼn rooi rokkie en wit blommetjie op die skouer.”

Ek wil-wil my net vererg, maar nou ja, ‘n man is nuuskierig en ek loer rond en sowaar daar kom meisie met die rooi rokkie en ek stamp aan Pa. Daar is sy!

Pa kyk en kyk. ” My goeie genugtig, Steenbokkie se gat, dis mos ‘n Koedoekoei daai!”

Stefan Venter van Erasmuskloof in Pretoria se verhaal (spanningsverhaal): 

Dit neem ʼn rukkie vir my oë om aan die donker gewoond te raak. Iewers lag ʼn hiëna. Altans dink ek so, daar is so baie nuwe klein bendes wat ronddwaal. Die gelag klink wel soos een van ons ou bekendes.

Dit maak ook nie saak nie, maak dit? Alle Na-bendes is dieselfde. Ek kan nog die lewe Voor onthou. Voor die Covid-19-virus die land verwoes het. Voor feitlik alles van my weggeneem is. Nou, Na COVID-19, is daar net vrees en honger.

“Darem is ma nog hier,” prewel ek en druk weer haar hand teen my wang. Ek ruik nog ‘n sweempie van die laaste handeroom wat ons vir haar kon opspoor. Haar vel is nie meer so sag soos Voor nie. Haar aanraking het wel nog dieselfde uitwerking op my en die laaste spanning dreineer weg.

“Ma moet nou rustig wees,” sê ek sag. “Dinge kan dalk rof raak vir ‘n rukkie, maar na die tyd kan ons eet. Ons kan selfs ‘n paar rusdae vat. Daai plek waar ons laas week was? Agter die Parlementsgebou? Veilig. Genoeg water daar gebêre. Hoe klink dit? Maar wees nou stil, dit sal nie lank vat nie. Daar is net ‘n paar van hulle vandag.”

My regterhand druk ma se hand terug onder my hemp waar dit styf teen my lyf aan ʼn riem hang, en ek glimlag toe die eerste hiëna ophou lag. 

Suzanne Swart van Equestria in Pretoria se verhaal (riller): 

Toe sy vir ontbyt aansit, lê die briefie langs haar bord. Die handskrif lui ‘n klokkie…

Sy tel die teepot op en skink met ‘n bewende hand tee in haar koppie. Die koppie sans oor.

Sy kyk stip voor haar. “Here nee…” Probeer die papiertjie op die tafel ignoreer. Dalk as sy nie kyk nie verdwyn dit. Of sy verbeel haar. Die koppie is vol. Sy sit die pot neer. Die son skyn deur die venster. Die koppie stoom. Die koppie sonder ‘n oor.

Sonder om te kyk steek sy haar hand uit en voel-voel na die tafel langs haar. Sy vat die papiertjie raak. Dit is werklik. Sy is nie mal nie. Sy tel die koppie op en vat ‘n sluk. Haar hand brand. Haar mond brand. Haar hart klop. Die tee is warm. Sy kyk af, het jare laas die skrif gesien – kinderlike gekrap. Asof in ‘n droom staan sy op, haal nog ‘n koppie uit. ‘n Funky koppie wat uitbasuin “I HATE MORNINGS ” met ‘n simpel prentjie van ‘n kat wat te breed glimlag.

Sy skink tee in sy koppie. Stadig gaan sit sy by die tafel, haal diep asem. Die vertrek is koud ten spyte van die oggendson. Sy tel weer die papier op. Lees. Lees Weer. Maak seker. “Ek is terug mamma.” Sy sluk. Forseer ‘n glimlag. Kyk op na die leë stoel langs haar. “Môre my engel, drink jou tee voor dit koud word. Ek het jou gemis.”

Is jy lief vir skryf?

Maak seker dat jy dan sommer ook inskryf vir vanjaar se ATKV-skryfskool wat by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus aangebied word. Klik hier vir meer inligting (hou asseblief in gedagte dat die Skryfskool vir eers uitgestel is. ‘n Datum sal later bekend gemaak word wanneer die Skryfskool voortgaan).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.