Luister: ‘Afrikaans is nie dood nie’

(Foto: Maroela Media)

Nog ʼn woordeboek vir Afrikaans? Is dit werklik nodig? En wat op aarde is ʼn tesourus?

Dít is van die vrae wat Leon en Amanda de Stadler onlangs in ʼn onderhoud met Maroela Media oor die hersiene uitgawe van die Tesourus van Afrikaans beantwoord het.

“Kyk, daar is sommige mense wat amper so hande wringend praat oor Afrikaans wat doodgaan, maar dit is beslis nie wat ons ervaar nie,” sê Leon. “Ons sien ʼn taal wat daagliks groei en lewe. En ʼn taal groei omdat mense dit gebruik.”

ʼn Woordeboek soos dié is deels  ʼn ode aan gebruikers van die taal, meen Leon. “Dit is immers in die mond van taalsprekers waar die woorde ontstaan.”

Die De Stadler-egpaar bring ook hulde aan voorgangers wat ʼn uitsonderlike bydrae in die optekening van taalskatte gelewer het.

“Met ʼn projek soos hierdie gee ons erkenning aan ʼn groot groep mense wat voor ons aan woordeboeke gewerk het,” sê Leon. “Ek het besef dat ʼn mens nederig en beskeie moet bly, want ons bou eintlik net voort op ander leksikograwe se werk.”

Die De Stadler-egpaar het ongeveer twee jaar aan die heruitgawe van die Tesourus van Afrikaans gewerk. Dit is die eerste keer sedert 1994 dat ʼn volwaardige tesourus in Afrikaans verskyn.

’n Mens sou kon sê dat ’n volmaakte tesourus se omvang (dit wil sê die aantal inskrywings in daardie tesourus) die som moet wees van die aantal woorde of uitdrukkings in die taal vermenigvuldig met die aantal betekenisse wat daardie woorde of uitdrukkings kan hê. – Tesourus van Afrikaans (heruitgawe)

Sedert Leon en Amanda se studentedae is Afrikaans deel van albei se leefwêreld.

Leon het aan die Universiteit Stellenbosch studeer waar hy in 1977 sy meestersgraad en in 1983 ʼn DLitt verwerf het. Van 1976 is hy verbonde aan dié universiteit se Departement Afrikaans en Nederlands. Hy het as junior lektor by die departement aangesluit en is later bevorder tot lektor, senior lektor en medeprofessor. Hy beklee sedert 1993 die pos as professor, met dokumentanalise en -ontwerp as sy spesialisterrein.

Amanda het van 1972 tot 1976 aan die Universiteit Stellenbosch studeer en in onderwys vir kinders met leeruitdagings gespesialiseer. Sy het in 1981 ʼn vertalersdiploma aan dié universiteit verwerf en het ook vryskutwerk gedoen totdat sy in 2002 aangestel is as uitvoerende beampte van die vereniging Vriende van Afrikaans. Amanda het in 2009 haar MPhil in dokumentontwerp voltooi.

“Leon is die akademikus en ek meer aktivisties,” skerts Amanda. “Ons verskil en stry dikwels, maar die feit dat ons dit saam kan doen is vreeslik lekker.”

Die hersiene uitgawe van die Tesourus van Afrikaans bevat meer as 140 000 inskrywings wat in 855 betekenisvelde gerangskik is; verwante woorde en uitdrukkings vir elk van die betekenisvelde; ontsluiting van nuanseverskille tussen sinonieme, byna sinonieme en teenoorgesteldes; oorkoepelende terme en woorde wat betekenisverhoudinge uitwys soos woorde wat verwys na die onderdele van ʼn saak en na die persoon wat ʼn bepaalde handeling uitvoer; spreekwoorde en ander vaste uitdrukkings wat met bepaalde konsepte verbind word; ʼn uitgebreide indeks en handige kruisverwysings en gebruiketikette.

  • Die Tesourus van Afrikaans word deur Pharos, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, uitgegee. Klik hier om die woordeboek aanlyn te koop.
  • Luister bo-aan dié berig na die volledige onderhoud met Leon en Amanda de Stadler. Hulle het met Maroela Media gesels oor die verskil tussen ʼn verklarende woordeboek en ʼn tesourus, sowel as die waarde van slengwoorde en nuutskeppings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.