Luister: ‘Bizzie Lizzie’-rubrieke uitgeknip vir radio

Die Afrikaanse aktrise Lizz Meiring meen sy is gebore om kreatief te wees en mense te vermaak, en rubrieke is een van vele maniere hoe sy dié roeping uitleef.

“As ʼn kunstenaar is ek eintlik maar net een ding en dit is ʼn kanaal om die stories van die mensdom te vertel,” sê sy. “Die goeie en die slegte. Die lig en die donker. Ek is bevoorreg dat mense graag vir my hulle stories vertel.”

Meiring het in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê sy opgewonde is oor “Hoor hier”, ʼn oudioreeks met 52 van haar gunstelingrubrieke wat eersdaags uitgesaai word.

“My rubrieke is nog nie vantevore voorgelees nie, daarom is ek opgewonde om dit in ʼn nuwe formaat met mense te deel,” sê Meiring.

Sy het oor die jare oor ʼn wye verskeidenheid temas geskryf. Stories, of dit ʼn lees- of luisterstorie is, is soos kosmaak.

“Een persoon hou van iets ligter, terwyl iemand anders fynproewerskos verkies. Net so geniet party lesers komedie of satire, terwyl ander mense van iets ernstigers hou. Ek hoop wel dat elkeen van hierdie stories lekker pitkos het, want dit is vir my belangrik.”

Van die stories sluit in “ʼn Liegspieël asseblief”, “Mans genoeg”, “Ma-ligheid”, “Wyse Elsie”, “Adriaan se papawers”, “Innerlike vrede se voet” en “Oorkook”.

Dit duur tussen drie en vyf minute en daarom, meen Meiring, is dit maklik om sommer op enige plek daarna te luister tussen afsprake, op pad werk toe of wanneer jy kosmaak.

Die reeks is saamgestel uit ʼn versameling van Meiring se “Bizzie Lizzie”-rubrieke wat sy vir die leefstyltydskrif rooirose geskryf het, en ʼn paar nuwe stories vir spesiale geleenthede soos Moedersdag, Vadersdag, Valentynsdag en Kersfees.

“Hoor hier” word moontlik gemaak deur die finansiële ondersteuning van Afrikaans.com en word tegnies versorg en versprei deur Maroela Media. Hou gerus Maroela se webwerf dop vir meer inligting oor dié reeks wat in April begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.