[Luister] Chris Chameleon: “Die FAK is soos my ma”

Foto: fak.org.za

Foto: fak.org.za

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is besig om sy baadjie af te stof en die skeure en gaatjies van jare se dra, met helder nuwe garing te stop.

Chris Chameleon en Daniella Deysel het voor ʼn vertoning by die Atterbury Teater met Maroela Media gesels oor wat dit beteken om Afrikaner te wees en die sleutelrol van ’n Afrikaner-organisasie soos die FAK.

Chris, wat as beskermheer van dié organisasie se liedjietuin dien, sê die FAK vernuwe homself nou en hoewel hy ʼn rukkie in ʼn bepaalde tydvak vasgesteek het, verander hy dié persepsie spoedig.

“Die FAK is soos my ma – ek het met hom grootgeword. My ma is op 78 nou baie meer op en wakker en oopkop as wat sy nog ooit was. Dit maak haar lekker, hoor! En dis dieselfde met die FAK – hy is besig om nuwe, pragtige blomme te laat ontluik.”

Chris sê ook dat die waarde van ʼn ou organisasie soos die FAK (wat reeds in 1929 gestig is) nie onderskat moet word nie. “Net so dom soos wat dit is om ʼn nuwe idee summier af te skiet omdat dit ʼn nuwe idee is, net so dom is dit om ʼn ou idee summier af te skiet omdat dit ʼn ou idee is. Om asem te haal is ook maar ʼn baie ou idee, maar gaan probeer bietjie om dit nie te doen nie, en ons kyk hoe lank hou jy.”

En as dit kom by die groei en verandering van Afrikaans?

Daniella vergelyk dit met ʼn boom. “Dis goed dat nuwe woorde bygelas word, maar die reeds bestaande woorde moenie vervang word nie. Ons moet verder groei en rank en takke uitspruit, maar ons moenie ontwortel word nie.”

Luister gerus na die Podsending waar Chris verder gesels oor wat dit beteken om Afrikaner te wees en oor sy kommentaar op Facebook oor diensverskaffing in Afrikaans.

Besoek gerus die FAK se webwerf vir meer besonderhede oor dié organisasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae