Luister: Dié skryfskool ʼn móét vir voornemende skrywers, digters

Argieffoto (Foto: Pexels, Pixabay)

Al vir langer as drie dekades bied die ATKV-Winterskryfskool – vroeër die Herfsskryfskool – jaarliks ʼn wegspringplek vir voornemende skrywers om die skrywersmark te betree. Vanjaar word dié skryfskool vir die 33ste keer tussen die akkerbome op Potchefstroom aangebied.

Benewens die geleentheid wat voornemende skrywers het om aan hul vaardighede te slyp, rus dié kursus skrywers ook toe met kennis oor wat uitgewers van manuskripte verwag én dit bied ook vir jong skrywers ʼn geleentheid om skouers te skuur met sommige van die gewildste skrywers op Suid-Afrikaanse bodem.

Vanjaar is ʼn rits bekende skrywers by die skryfskool betrokke om hand by te sit en praktiese raad te lewer: Etienne van Heerden, Jolyn Phillips, Jaco Kirsten, Martie Swanepoel, Gerda Taljard, Jan Vermeulen, Martie Swanepoel en Valda Jansen gaan gesigte by dié weeklange skryfskool wys.

Prof. Bernard Odendaal, wat die werksessiegroepe in digkuns gaan lei, sê dié skryfskool is ʼn móét vir jong of voornemende skrywers wat reeds jare lank dreig om hul werk te publiseer. “Naas die aandag wat die kursusgangers ontvang vir hul skryfkuns, is die persone wat in die verlede danksy dié kursus hul werk gepubliseer het of tot die bedryf toegetree het, vir ons een van die belangrikste aspekte van die skryfskool,” sê hy.

Kursusgangers kan uit die spreekwoordelike perd se bek hoor wat uitgewers verwag van skryfwerk wat die paal gaan haal by die manuskripkeurders. Dié jaar maak verteenwoordigers van die Afrikaanse hoofstroomuitgewers weer ’n draai by die winterskool. “Vanjaar is daar vyf uitgewers wat eerstehandse inligting kom gee oor die geleenthede wat hulle bied en meer vertel oor waarin hulle spesialiseer,” sê Odendaal.

“Kursusgangers kan dus uit dié gesprekke meer hoor oor waarheen hulle hul manuskripte kan stuur. Boonop gee die uitgewers ook duidelikheid oor die eise wat gestel word voordat ʼn manuskrip ingehandig word. Skrywers wat praat oor hulle eie ervarings en die deelname van kundiges wat die kursusgangers begelei is ʼn baie belangrike element van die sukses wat die skryfskool oor dekades heen gehad het.”

Die Winterskryfskool fokus oudergewoonte op verhale (gelei deur Hans du Plessis), digkuns (gelei deur Bernard Odendaal en Jolyn Phillips) en rubrieke (onder leiding van Jaco Kirsten).

Vir diegene wat op liedjieskryf wil fokus is daar ook goeie nuus: “Die skryf van poësie en liedjies is eintlik ʼn Siamese tweeling,” terg Odendaal. “Dié persone sal baie baat by die kursus vir die skryf van gedigte. Vanjaar fokus ons egter nie op drama nie, maar ons het juis daaraan gedink om spesifiek volgende jaar weer aandag te gee aan die skryf van dramas en radiodramas.”

Odendaal sê hy is jaar na jaar verbaas oor die “dosyne” skrywers wat die skryfskool oplewer. Sommige van die bekendes wie se wegspringplek ook dié skryfskool was, is onder andere Jaco Jacobs, Chanette Paul en Carina Stander. Selfs Irma Joubert het ná haar aftrede as onderwyseres ook die kursus bygewoon.

Die ATKV-Skryfskool se skryfkompetisie in samewerking met Maroela Media het reeds op 9 April gesluit. Die wenners van dié kompetisie, wie se skryfwerk op Maroela Media gepubliseer word en wat die skryfskool gratis gaan bywoon, word op 9 Mei bekend gemaak.

Oor dié kompetisie het Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, gesê: “Ons kry soveel e-posse van ons lesers wat sê hulle wil skryf of dat hulle ʼn passie daarvoor het, maar nie weet waar om te begin nie. Ek verwys dié mense altyd na die skryfskool. Ek dink nie daar is ʼn beter plek om jou vir daardie vyf dae in Potchefstroom met sy pragtige akkerbome af te sonder nie. Daar is nie ʼn beter plek vir ernstig skryf nie.

“Ek dink ons almal is skuldig daaraan dat ons te min belê in die dinge wat vir ons ʼn passie is. Die waarde wat ʼn kursus soos hierdie vir jou op die langtermyn het, is werklik baie groot. En wie weet – dalk is jy die volgende André P Brink.”

Die ATKV-Winterskryfskool word vanjaar tussen 4 en 8 Junie op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit aangebied. Die sluitingsdatum is 18 Mei.

Vir meer inligting hieroor, skakel Kobie van Aswegen by 018 299 1783 of stuur e-pos na [email protected] vir meer besonderhede. Klik hier om vir die Winterskool in te skryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.