Luister: Gerhard van Huyssteen gesels oor taboewoorde, konteks en taalgebruik

Gerhard van Huyssteen (Foto: Christa Steyn/Maroela Media)

“Ek het een oggend in die kombuis gestaan toe die gedagte om navorsing oor vloektaal in Afrikaans te doen, by my opgekom het,” vertel Gerhard van Huyssteen. “Ek het heel eerste my ma gebel en vir haar gevra of sy gemaklik sal wees daarmee voor ek voortgaan.”

Sedertdien het verskeie instansies uit ʼn wye spektrum akademiese velde, insluitend die Noordwes-Universiteit (NWU) en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK), hulle steun by Van Huyssteen se projek gevoeg.

Van Huyssteen is ʼn buitengewone professor in taalkunde aan die NWU. Hy is ook voorsitter van die taalkommissie én was al in verskeie seisoene van Op die Spel die mede-aanbieder.

“Ek wil graag glo dat baie mense by my navorsing sal baat,” sê hy. Hoewel die studie vanuit ʼn multidissiplinêre en wetenskaplike perspektief benader word, behoort dit vir Jan Alleman ook van waarde te wees.

“Een van die bene waarop my navorsingsprojek staan, behels kognitiewe taalkunde, soos byvoorbeeld wat in jou brein gebeur wanneer jy taal gebruik,” verduidelik Van Huyssteen. “Die ander been staan op taaltegnologie, met ander woorde spraakherkenning en speltoetsers.”

Spraakherkenningstoestelle soos Siri of Alexa word reeds wêreldwyd gebruik. Dié toestelle word al hoe meer benut, en sal later selfs in Afrikaans kan praat. Maar om dit op ʼn verantwoordelike wyse te implementeer behoort vloektaal deeglik ondersoek te word.

“Hoe moet sulke robotte vloek hanteer, verwerk en verstaan? Óns moet hulle leer om dit te doen. Dit gaan nie vanself gebeur nie.”

Van Huyssteen vertel dat die idee aan ʼn vloekwoordeboek deur twee motiverings gedryf word, naamlik die herkoms van woorde en betekenisverandering.

“Benewens hierdie interessanthede wil ons probeer om so objektief as moontlik ʼn taboewaarde aan woorde toe te ken,” vertel hy. “Sodra dit bepaal is, kan vloektaal op ʼn verantwoordelike wyse gebruik word.”

Van Huyssteen moedig hiermee taalgebruikers aan om die webwerf met ʼn oop gemoed te besoek, te registreer as gebruiker en aktief aan blitspeilings deel te neem.

  • Gerhard van Huyssteen het ʼn draai in Maroela Media se ateljee gemaak en met Christa Steyn gesels oor die navorsing wat hy gedoen het oor taboewoorde en wat die nut van hierdie navorsing kan wees. Luister na die onderhoud boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

André-Chris ·

Dankie aan hom ook vir al die leenwoorde uit Engels wat hulle in die AWS opgeneem het. In plaas van nuwe woorde in Afrikaans skep het die mense nou lui geraak en gryp nou sommer daardie Engelse woord wat in die AWS staan. ons lees mos heelparty van daardie woorde ook hier op die webwerf.

André-Chris ·

In heelparty gevalle bestaan daar reeds ‘n mooi alternatiewe beskrywende Afrikaanse woord, waarom nie dit gebruik nie? Wat noop ons so na die Engels toe, wat het van ons kreatiewe Afrikaanse woordskeppers geword?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.