Luister: Skerp jou vaardighede op met Skryfnet

Skerp jou vaardighede op met Skryfnet. (Foto: Patrick Fore/Unsplash)

Indien jou lugkastele uit ’n kreatiewe skrywerspen en hope interessante verhale bestaan, is Skryfnet die plek vir jou.

Dié hartsprojek is deur Maroela Media en Akademia van stapel gestuur en fokus op die opleiding, ontwikkeling en skep van skrywers met uitmuntende skryfvaardighede.

Die skryf-slypskool leer mense om op ’n verskeidenheid maniere hul kreatiwiteit in te span om interessante stories neer te pen.

“Die fondasiekursus van Skryfnet is ‘Inleiding tot kreatiewe skryfkuns’. Dié kursus leer jou van ruimte, karakters en storielyn, ’n klomp basiese skryfvaardighede,” het Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, gesê.

Sy lê egter daarop klem dat hoewel mense dalk kan dink dat dié kursus bloot teoreties van aard is, sal die vragvol vaardighede waarmee deelnemers uit die kursus stap, jou aangenaam verras.

Wanneer die grondslag van jou kreatiewe skryfwerk deur dié kursus gevorm is, kan mense hul skryfhorisonne verbreed deur aan meer gespesialiseerde kursusse deel te neem.

“Ons kan sien hoe die kursusse vir mense wat nog altyd gevoel het dat daar ’n boek binne-in hulle is, die vaardighede ontwikkel om daardie boek op papier neer te sit.”

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media (Foto: Simoné Steyn-Venter)

Die kursusse is ontwikkel sodat werkendes met gemak die agt weke lange kursus kan voltooi. Lombaard stel egter voor dat diegene wat ernstig oor die kursus en dít wat dit bied is, voorsorg moet tref vir daaglikse bydraes tot hul skryfontwikkeling gedurende die kursus.

Die kursusse wat deur Skryfnet aangebied word, is ook nie net vir opkomende kreatiewe skrywers bedoel nie.

Leerders kan deelneem aan kursusse wat die kuns om ʼn toespraak te skryf slyp, mense kan ook leer hoe om doeltreffende mediaverklarings te skryf en daar gaan eersdaags die geleentheid wees om ’n kursus in joernalistiek te volg.

Diegene wat daarin belangstel om meer oor Skryfnet en die platform se kursusse uit te vind, kan hierdie webwerf besoek.

  • Luister boaan die artikel na ’n klankonderhoud met Susan Lombaard, die uitvoerende hoof van Maroela Media, oor Skryfnet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.