Luister: Stories uit Afrikaanse gemeenskap moet vertel, gevier word

Susan Lombaard (Foto: Anne Grace Photography)

Elke Afrikaanse gemeenskap moet ʼn oomblik stilstaan en dink waarom hulle Afrikaans is en hoe die taal van hulle gemeenskap lyk.

“Waarom kies jy om Afrikaans te praat, in ʼn Afrikaanse skool of ʼn Afrikaanse boekklub te wees, en wat is die rede dat jy jouself op een of ander manier met ʼn Afrikaanse gemeenskap assosieer? Wanneer jy dit as individu of gemeenskap gedefinieer het, kan ons dit almal saam vier,” sê Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media.

Afrikaans het Woensdag 8 Mei sy 99ste jaar as amptelike landstaal gevier, wat beteken dat dié taal in 2025 sy eeufeeswording herdenk.

Met die oog op die viering van hierdie mylpaal, is die Afrikaans Amptelik 100-veldtog onlangs van stapel gestuur. Die doel met hierdie veldtog is uiteindelik om uiteenlopende fasette van die Afrikaanse taal in die kollig te plaas.

Volgens Lombaard is die viering van een van die grootste mylpale van Afrikaans op twee gebiede vir Maroela Media belangrik.

“Eerstens is die media een van die hoë funksies van ʼn taal, wat ʼn baie belangrike rol vervul. Net soos ʼn taal in die regswese en die onderwys gebruik word, is dit belangrik dat ʼn taal ook op mediagebied funksioneer om as hoëfunksietaal gesien te word.

“Daarom is dit vir Maroela belangrik dat ons Afrikaans is. Ons is nie net Afrikaans omdat ons sommer gekies het om Afrikaans te wees en omdat dit die taal is wat ons praat nie. Dit is vir ons belangrik dat Afrikaans as ʼn mediataal gehandhaaf word.”

Afrikaanse Taalmonument (Foto: Maroela Media)

Die tweede belangrike aspek is dat Maroela Media so ʼn groot Afrikaanse gemeenskap bedien.

“Daar is ongeveer 2 miljoen mense wat in Afrikaans Maroela Media lees, en saam met die lesers is daar omtrent 1,5 miljoen mense wat na Afrikaanse gemeenskapsradiostasies luister. Dit is radiostasies wat inhoud uitsaai wat deur Maroela vervaardig word,” wei Lombaard uit.

Oor die mediahuis se betrokkenheid en deelname aan die Afrikaans Amptelik 100-veldtog, is Lombaard opgewonde. Sy sê daar is reeds ʼn paar projekte wat beplan word, en dit behels onder meer ʼn reeks oor die onvertelde stories van Afrikaans.

“As die projek realiseer, gaan ons dit saam met Ilze Salzwedel aanpak. Die reeks skakel met ʼn boek wat Ilze geskryf het. Sy het ʼn klomp Afrikaanse gemeenskappe reg oor die land en in party buurlande, waaronder Namibië, geïdentifiseer.

“Dit is onbekende taalgemeenskappe waarvan daar nie noodwendig regtig kennis geneem word of waarvan die stories nie alles opgeteken is nie. Een van die stories vertel die verhaal van die Italiaanse gemeenskap, waarvan Dalene Matthee in haar bosroman Moerbeibos skryf, wat verafrikaans het.”

Dit is een van vele gemeenskappe met stories eie aan hulle taal en omgewing wat vertel en gevier moet word, meen Lombaard.

“Wat vir my uiteindelik belangrik is, is dat mense Afrikaans vier op die gebied waar hulle assosieer met die taal. Dit maak nie saak waar jy is of hoe die Afrikaans wat jy praat, lyk of klink nie.”

Besoek Afrikaans Amptelik 100 se webwerf vir meer besonderhede oor die veldtog en hoe om daarby betrokke te raak.

  • Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud met Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media.
  • Lees alle vorige artikels oor Afrikaans Amptelik 100 hier op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marthinus W ·

“…stories eie aan hulle taal en omgewing wat vertel en gevier moet word…” Ongelukkig stel uitgewers nie daarin belang nie. Hulle soek net misdaadrillers en boeke wat vinnig geld kan maak. Verkieslik van reeds-gepubliseerdes; gladnie nuwe skrywers nie.

Leona ·

Die hartseerste is by die restaurant, is daar slegs engels sprekende diensleweraars.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.