Luister: ‘Strandloper’ – ʼn radiovervolgverhaal

Strandloper neem luisteraars na Bloubaai, ʼn kusdorpie waarvan mense droom, maar wat werklik bestaan. Dié fiktiewe dorp is losweg gegrond op Stilbaai se kultuurhistoriese feite en regte mense wat Bettie Kemp, skrywer en vervaardiger van die radiodrama, as kind van dié dorp onthou.

In Bloubaai vind jy die kenmerkende blou baai, wit branders wat omgekrap kan raak as die suidoos waai, vars lug, fynbos, vissershawe waar die skuite in mooiweer uitgaan om kabeljou te vang, en ʼn gemeenskap wat vir mekaar omgee. Soms te veel, dan spat die vonke. Onder die rustige oppervlak is daar egter ook woelinge en ou geraamtes in kaste wat op onmoontlike tye boontoe kom om lewens om te krap.

Soos Tannie Ouvrou se verlede wat sy met haar ywerige hande probeer wegwerk, net om telkens weer deur Strandloper daaraan herinner te word. Jy sal Oom Fred en sy skaduwee Witvoet ook daar kry. Hy baklei teen hotelbaas Jack de Wet wat tradisies vertrap in die naam van vooruitgang. Daar is ʼn petisie wat probeer wal gooi, en dit skeur die dorp.

Tog is daar ook dinge wat hulle saamsnoer. Nie net is dit Afrikaans se eeufeesjaar nie, maar ook Bloubaai se 100ste bestaansjaar, en dié dorp gaan ʼn dubbele viering daarvan maak.

Hulle doen dit op hulle unieke manier met trane, sout soos die see, soos hulle lag en huil. Almal neem deel. Van die jonges Nicolien, Dylan, Bobbi en Strandloper, tot Willie die hawemeester, Engela by haar restaurant, Die Seekat, en Visstok by sy garage.

Dit is egter nie al wat die dorpenaars besig hou nie. Onder die blou waters lê die rykdomme van die see: kosbare perlemoen en skeepswrakke wat gierige hande lok. Hiérin lê een van die dorp se bes bewaarde geheime vasgeknoop. Strandloper se pa het onder raaiselagtige omstandighede gesterf, en almal swyg daaroor. Steeds gee niemand bes nie.

Bettie saam met die “Strandloper”-span. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Strandloper, ʼn radiovervolgverhaal van 120 episodes wat die lewe in al sy vorme en Afrikaans in al sy rykdom weergee, is geskryf en opgevoer deur Bettie Kemp. Bekendes soos Luan Jacobs, Anton Dekker, Stefan Vermaak, RSG se Ria Smit, aanbieder Su-an Müller-Marais, Johny Klein en Izel Bezuidenhout gee lewe aan Bloubaai se karakters.

Tegniese versorging is deur Marius Vermaak en die vervolgverhaal is in Maroela Media se ateljee opgeneem.

Daar sal van Maandag 13 Mei 2024 elke weeksdag ʼn nuwe episode beskikbaar wees om na te luister. Luister na die episodes hier op Maroela Media of op een van die gemeenskapsradiostasies wat die drama uitsaai.

  • Lees die onderhoud met Bettie Kemp oor Strandloper op Maroela Media. Maak seker jy mis nie die video onderaan die artikel waarin Bettie in Maroela se ateljee oor die radiodrama gesels nie.
  • Alhoewel Strandloper gebaseer is op die skrywer se herinneringe van Stilbaai, is die karakters denkbeeldig, en enige ooreenkomste met werklike persone is bloot toevallig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Rooi rissie ·

Wanneer kan ons na hierdie lekker vervolg verhaal begin luister? Eks so opgewonde soos n kind oor n nuwe speelding oor hierdie verhaal kan nie wag om daarna te luister nie.

Christa Steyn-Bezuidenhout ·

Dagsê Rooi rissie

“Strandloper” se eerste episode het Maandag 13 Mei verskyn en jy kan boaan hierdie berig op die IonoFM-skakel klik om daarna te luister.
Daar word elke weeksdag ‘n nuwe episode uitgesaai en dit sal telkens onder “Radio” gepubliseer word.
Kontak ons gerus by [email protected] indien jy nie regkom nie.

Groetnis
Christa
nms Maroela Media

Christa Steyn-Bezuidenhout ·

Dagsê Ilze

Jy kan boaan hierdie berig op die IonoFM-skakel klik om saam na “Strandloper” te luister. Daar verskyn elke weeksdag ‘n nuwe episode en dit sal telkens onder “Radio” op die webwerf gepubliseer word.
Kontak ons gerus by [email protected] indien jy nie regkom nie.

Groetnis
Christa
nms Maroela Media

hantie ·

Ek is mal oor die storie. Kan nie wag vir elke dag se nuwe episode nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit oor naweke en vakansiedae tot die volgende weeksdag om 06:00. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.