Luister: Taalonderwysers kry eindelik uitsluitsel oor voorgeskrewe boeke


onderwereld-fanie-viljoen

‘Onderwêreld’ van Fanie Viljoen sal weer in 2017 een van die matrikulante se voorgeskrewe werke wees. Foto: Fanieviljoen.co.za

Solidariteit Helpende Hand se Genootskap vir Regte Afrikaanse Taalonderwysers (GeRAT) het die departement van basiese onderwys (DBE) aangevat oor sy stilswye aangaande die voorgeskrewe literêre werke vir 2017. Kort hierna het die departement vinnig gereageer om van die voorgeskrewe werke aan die media bekend te maak.

Die departement van onderwys was tot einde Oktober stil oor wat die voorgeskrewe literêre werk vir Afrikaans-huistaal in 2017 gaan wees. Die vertraging het geweldige druk op onderwysers en skoolhoofde geplaas. Om hierdie rede het GeRAT ’n vergadering met die onderwysdepartement belê om die situasie te bespreek.

Hannie Viljoen van GeRAT en André Stolz van André Stolz Produksie het op 27 Oktober 2016 ’n vergadering met verteenwoordigers van die departement se LTSM en MST Curriculum & Quality Enhancement Programmes gehad. Tydens die vergadering is daar aangedring dat die voorgeskrewe werke bekendgemaak word om verdere probleme te vermy.

Volgens Viljoen het die departement die afgelope agt jaar al gefaal in deeglike kommunikasie aan onderwysers wat hulle genoegsame tyd vir voorbereiding gee. “Tot hier toe en nie verder nie,” sê Viljoen. “Ons is gerat om hierdie sake aan die lig te bring en elke taalonderwyser die nodige steun te gee wat hy of sy verdien. Dit is nie net Afrikaans nie, maar elke taal in Suid-Afrika wat onder die departement se laksheid ly.

“Daar is min dinge wat ’n mens se hare so laat rys as wanneer ’n lid van GeRAT, ’n bekwame onderwyser, vir jou sê ’n provinsiale verteenwoordiger van die departement het vir haar gesê onderwysers moet net “chill oor die voorgeskrewe werke wat dié tyd van die jaar nog steeds nie bekend is nie.”

André Stolz, verantwoordelik vir opvoerings in skole van Afrikaanse voorgeskrewe werke soos Mis van Reza de Wet, Krismis van Map Jacobs van Adam Small en My Japan geskryf deur Schalk Schoombie, meen dat hulle daarin geslaag het om die dringendheid van die saak by die departement tuis te bring.

“Die vergadering met die departement is juis om lig op die onsekerheid te werp. Ek het ʼn versoek gerig dat die direkteur-generaal ons teen Maandagoggend ʼn finale antwoord moet gee,” het Stolz gesê.

GeRAT het onlangs ’n opname onder sy meer as 600 lede (Afrikaans-huistaalonderwysers) gedoen oor die impak van die vertraging op hulle werk. Soveel as 45% van die respondente meen hul voorbereiding word die ergste benadeel, 26% meen hul beplanning en 28% meen die kwaliteit van onderwys word beïnvloed.

Volgens die opname word nie net die onderwysers benadeel nie, maar die hele onderwysstelsel. Probleme wat na vore tree is die gebrek aan genoegsame tyd om voor te berei, begrotings en aanstellings was skole rooi in die gesig laat. Vir 36% van die onderwysers is Mei die laatste datum waarop hulle die lys van voorgeskrewe werke kan ontvang en steeds gehalte onderwys bied. ʼn Verdere 36% glo dat einde Julie ’n aanvaarbare tyd is.

Hierdie inligting is van onskatbare waarde en GeRAT het dit aan die departement verskaf om ’n beter prentjie te skets van wat op grondvlak aangaan. Volgens Hugo Vermeulen van die Skoleondersteuningsentrum van Solidariteit Helpende Hand, sal GeRAT voortaan as waghond optree om seker te maak dat daar nie weer ’n vertraging in die proses is nie.

  • GeRAT bied ʼn verfrisserskursus in die voorgeskrewe Afrikaanse werke vir onderwysers op 25 Januarie by Hoërskool Eldoraigne in Centurion, Gauteng, aan. Onderwysers wat nie die geleentheid kan bywoon nie sal ʼn video-opname van die kursus op GeRAT se webwerf kan bekom. Besoek gerat.co.za vir meer inligting.
  • Hannie Viljoen van GeRAT het met Esté Meyer Jansen in Maroela Media se ateljee gesels oor die impak van die departement se sloerdery om voorgeskrewe leeswerk vir matrikulante bekend te maak op die onderwysers en onderwysstelsel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Basson ·

As ouer met skoolgaande kind is die regte en tydige keuse van hierdie werke baie belangrik, baie dankie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.