Ma trek nuwe taalbaadjie vir Scrabble aan

Krabbel, soos wat Sanet du Toit se weergawe bekendstaan, is in ooreenstemming met die oorspronklike weergawe en riglyne (Foto: Verskaf)

Sanet du Toit, ʼn ma van Monumentpark in Pretoria, het ʼn paar jaar gelede besluit om self ʼn Afrikaanse stel van die gewilde woordbouspeletjie Scrabble te maak.

Dit volg nadat sy winkels gefynkam het, maar telkens met leë hande moes terugkeer huis toe.

“Ek het uit pure frustrasie vir my en my man ʼn Engelse weergawe gekoop,” sê sy. Die oorspronklike Afrikaanse stel is vir ʼn geruime tyd nie meer in die handel beskikbaar nie.

Du Toit dink met heimwee terug aan die dae toe hulle by haar skoonouers op die plaas gaan kuier en ure lank om die Scrabble-bord deurgebring het.

“Toe ek en my man mekaar meer as 20 jaar gelede leer ken het, was dit altyd vir my lekker om by sy ouers op die plaas in die Kalahari te gaan kuier,” onthou sy. “Hulle kon ure lank Scrabble speel. As die familie saam met vakansie gaan, is dit die eerste speletjie wat ingepak word.”

Sy dink veral terug aan haar skoonpa en sy kreatiewe pogings om woorde te bou.

“My skoonpa is eintlik ‘berug’ vir al die Afrikaanse woorde wat hy kan optower. Ons terg hom graag as hy keel skoonmaak en begin met: “ʼn Mens kry mos …”, want dan weet ons hier kom ʼn nuutskepping,” vertel Du Toit.

Aanvanklik het sy en haar man die Engelse bord gebruik, maar in Afrikaans gespeel. Sy het egter opnuut besef dat ʼn Afrikaanse weergawe meer geskik sal wees as hulle gesin dit saam wil speel.

‘n Volledige Krabbel-stel sluit ʼn sakkie teëltjies, staanders en ʼn Afrikaanse bord in en word teen R300 verkoop (Foto: Verskaf)

“Toe ons kinders ouer geword en begin lees het, het ek en my man besef ons moet dit eers in Afrikaans met hulle speel, anders sou dit baie jare geneem het voor die kroos kon deelneem,” vertel Du Toit. Sy het ʼn laaste poging aangewend om dit aan te koop, maar uiteindelik moed opgegee en besluit om dit self te maak.

Krabbel, soos wat haar weergawe bekendstaan, is in ooreenstemming met die oorspronklike weergawe en riglyne.

“Ek het eers vir ons teëltjies gemaak met die Afrikaanse letterverdeling en -waardes,” verduidelik Du Toit. Hulle het steeds die Engelse bord gebruik, omdat dit nie die telling van woorde beïnvloed nie.

“Die eerste probeerslag was baie primitiewe, handgemaakte teëltjies,” onthou sy. “Ek het toe in 2017 ʼn meer duursame gehalteproduk ontwikkel en vanjaar begin om ook die bord in Afrikaans te maak.”

Du Toit se poging om in haar eie gesin se behoeftes te voorsien was nie uniek nie. Kort voor lank het sy dit ook vir ander Scrabble-liefhebbers begin maak. Du Toit bestuur self die projek en huiwer nie om soms die kroos in te span nie.

“As die werk baie word of ek ʼn klomp bestellings op een slag kry, span ek my kinders in om die teëltjies vir my te verpak – natuurlik teen vergoeding,” skerts sy.

Du Toit bied verskeie opsies aan kliënte. ʼn Sakkie met 102 teëltjies is R120, dan kan jy op jou bestaande bord speel. Die volledige stel sluit ʼn sakkie teëltjies, staanders en ʼn Afrikaanse bord in en word teen R300 verkoop. ʼn Houtkissie waarin die stel pas, is beskikbaar teen ʼn ekstra bedrag van R120.

Indien jy belangstel, laat weet gerus vir Sanet du Toit by 083 274 9891 of stuur ʼn e-pos na [email protected]. Jy kan haar ook op Facebook en Instagram volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaco ·

Geagte Maroela Media, ek ondersteun bogenoemde persoon 100%, en ek verstaan ekonomiese druk,, maar wat is die huidige stand van “kopiereg”/”patentreg” op sogenaamde idee. Ek is nie ‘n prokureur nie, maar die idee self klink asof dit probleme in die regsveld kan veroorsaak?

Jaco ·

Waarom is die Afrikaanse Scrabble gestop? O wag ja, Afrikaans is mos die taal van die onderdrukker. In die koloniale ryke van Brittanje, Frankryk en Portugal was Engels en Frans en Portugees mos net gewone tale en was daar mos geen onderdrukking nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.