Maak kinders lief vir woordeboeke, sê ATKV

 

Bladsy uit die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) (2013)

Bladsy uit die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) (2013)

Malala Yousafzai, Nobelpryswenner vir Vrede, het in haar toespraak aan die Verenigde Nasies gesê dat ons boeke en ons penne die kragtigste wapens is. Woordeboeke is deel van hierdie arsenaal.

“Dit is vir die ATKV belangrik dat kinders van jongs af liefgemaak moet word vir woorde en woordeboeke,” sê Karien Brits, bestuurder: taalaangeleenthede by die ATKV. “Die ATKV wil op internasionale woordeboekdag hulde bring aan al die leksikograwe wat in al 11 amptelike tale werk om die woordeskat in hierdie tale op te teken en almal aanmoedig om woordeboeke te gebruik.”

Internasionale woordeboekdag word op 16 Oktober gevier omdat dit die verjaarsdag is van Noah Webster, beroemde Amerikaanse woordeboekmaker.  Webster is in 1758 gebore en was ʼn briljante student wat op 15-jarige ouderdom aan die Yale Universiteit begin studeer het. Later word hy die samesteller van die eerste Amerikaanse woordeboek, en hy word daarom beskou as die vader van die Amerikaanse leksikografie.

Daar is verskillende soorte woordeboeke, onder meer eentalig (verklarend), tweetalig, meertalig en vakkundig. Dit  gee vir ons inligting oor die betekenis, herkoms, spelling en uitspraak van woorde. Dit verg besonderse vakmanskap en jare se harde werk om die woordeboeke saam te stel.

Die ATKV beskou die werk van leksikograwe en taalkundiges as onontbeerlik in die uitbouing van Afrikaans en gee daarom ook jaarliks erkenning aan woordeboekmakers tydens die ATKV-Woordveertjies. Vanjaar het die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, Deel XIV, S – SKOOI,  uitgegee deur die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, met die hoed in die veer weggestap in die kategorie Woordwystoekenning vir Woordeboeke en Taalgidse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.