Maretha Maartens: ‘Afrikaans is die taal waarin ek die Here leer ken het’

Maretha Maartens (Foto: Verskaf)

Maretha Maartens se jeugroman Bethel se berg was in 2019 die naaswenner in Lapa Uitgewers se jeugromankompetisie. Sy het vroeër vanjaar ook die Afrikaanse afdeling van Avbob se derde poësiekompetisie gewen met haar gedig, “Peperboom”.

Maartens, ʼn bekende skrywer van Bloemfontein, het al verskeie toekennings vir haar werk ontvang. Sy het tot op hede ongeveer 140 boeke in ʼn verskeidenheid genres die lig laat sien.

Maroela Media het tydens ʼn Zoom-onderhoud met Maartens oor haar skryfwerk en passie vir Afrikaans gesels. Sy het veral gepraat oor deurslaggewende oomblikke wat haar wengedig en jeugverhaal geïnspireer het, die rol van haar ma in hul lewens en raad wat Hennie Aucamp jare gelede met haar gedeel het.

“Ek het vir Avbob se poësiekompetisie ingeskryf omdat ek die neersitplek vir ʼn stukkie van my menswees gevind het, en ek glo ander mense het dit ook so ervaar,” sê Maartens. Haar wengedig is geïnspireer deur ʼn onuitwisbare oomblik tydens haar ma se laaste winter op aarde – die bewustheid van die naderende dood.

Maartens onthou die oomblik nog baie goed, ook dat sy op daardie dag die gesprek kort geknip het.

“Daar was iets in my ma se stem en houding – iets soos afskeid. Die geluid van rou en verlies en van ʼn onomkeerbare wete. Ek het geweet dat ons in die soort oomblik was waarin iemand vir jou sou sê ‘Ek het iets belangriks om vir jou te sê’. Maar ek het haar nie toegelaat om meer te sê nie,” onthou sy.

Maartens onthou haar ma as ʼn sterk en mooi vrou vir wie hulle nooit skaam was nie omdat sy haarself altyd goed versorg het. Sy dink ook terug aan komiese oomblikke waar haar ma se besondere karakter en sin vir humor na vore gekom het.

“Ons het een vakansie langs die see verby Boknes in die Oos-Kaap gery toe my ma skielik van agter die motor uitroep: ‘Boknes? Dis nou vir jou ʼn ander soort nes’.”

Bethel se berg is ook deur ʼn gesprek geïnspireer. Maartens vertel dat sy in 2019 een van die sprekers tydens ’n Vrouedag-geleentheid in Bloemfontein was. Sy het vroeg opgedaag en toe met een van die ander sprekers, wat ook vroeg was, begin gesels.

“Ek het vir haar gevra, soos vir iemand wat jy nie ken nie, of sy al lank in Bloemfontein bly. Sy het haar kop geskud en gesê: ‘Nee, my ma was ʼn hippie’. Hulle het van plek tot plek gereis en sy was in talle skole.”

Maartens het haar onderbreek en gevra dat sy niks verder vertel nie.

“Ek het haar toestemming gevra om dit wat sy met my gedeel het as die vertrekpunt en tema van ʼn jeugverhaal te mag gebruik. Sy het ingestem en só het Bethel se berg, ʼn verhaal oor ʼn hippie-ma en haar kinders, ontstaan.” Maartens beskou dit as een van haar gunstelingverhale wat sy tot dusver geskryf het.

Oor ʼn bestek van vyf dekades het Maartens op verskeie gebiede ʼn bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gelewer. Sy het deurgaans aan haar skryfvernuf geskaaf en skuur, maar tog onthou sy ʼn belangrike les wat Hennie Aucamp haar jare gelede geleer het.

“Hy het een keer vir my ʼn persoonlike brief geskryf. Dit is die brief wat my die meeste geskok het en die meeste vir my ooit beteken het,” sê Maartens. “Hy het vir my gesê: ‘Maretha, jy gebruik te veel byvoeglike naamwoorde en bywoorde’.” Dié raad het haar bygebly.

  • Luister bo aan die berig na die volledige onderhoud met Maretha Maartens. Sy het in ʼn Zoom-onderhoud met Maroela Media gesels oor deurslaggewende oomblikke wat haar wengedig “Peperboom” en jeugverhaal Bethel se berg geïnspireer het.
  • Jy kan Maartens se wengedig ‘Peperboom’ hier op Maroela Media lees.
  • Aspirant- en gevestigde digters het tot 30 November die geleentheid om hul gedigte vir Avbob se vierde poësiekompetisie in te skryf. Alle inskrywings kan aanlyn op Avbob se poësiewebwerf ingedien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
RS

Haar man het baie jare terug vr my gedoop.