Massas huiswerk: Hoe om massanaamwoorde uit te ken

Argieffoto (Foto: StockSnap, Pixabay)

Kry vanoggend ʼn navraag van ʼn gebruiker: Wat is “huiswerk”? Dis vroeg en ek is nog deur die blare, en ek wil antwoord “ʼn pyn in die dinges”, maar toe besef ek sy praat van woordsoorte, nie betekenis nie. Watter woordsoort is “huiswerk”, wil sy weet.

In verlede week se blog het ek gewys hoe ʼn mens abstrakte selfstandige naamwoorde in ʼn sin identifiseer. Hierdie week gesels ek vinnig oor massanaamwoorde en hoe om hulle in ʼn sin uit te ken.

ʼn Massanaamwoord (let op, nie “massanaam” nie; massanaamwoorde is ʼn soort “noun”, nie ʼn soort “name” nie) is ʼn woord wat ʼn ding benoem wat in ʼn massa voorkom en nie telbaar is nie. Dit sluit in goed soos grondstowwe (goud, platinum), materiaal (sand, glas, sement), gasse (suurstof, waterstof) en vloeistowwe (melk, koffie, bier). Nietelbaarheid is hier die deurslaggewende faktor.

Wat behels nietelbaarheid? ʼn Ding wat nie in eenhede verdeel kan word nie, en waarvan daar dus nie een of twee of tien eksemplare kan wees nie, is nie telbaar nie. Omdat dit nie telbaar is nie, kan die woord wat hierdie ding benoem nie ʼn meervoud kry nie, en die woord kan ook nie ʼn onbepaalde lidwoord (ʼn) kry nie. Onthou, abstrakte selfstandige naamwoorde benoem ook goed wat nie telbaar is nie, maar dié goed is ook nie sintuiglik waarneembaar nie (soos liefde of venyn). Massanaamwoorde benoem goed wat nie telbaar is nie, maar dit is wel sintuiglik waarneembaar.

Die vetgedrukte woorde in die volgende sinne is massanaamwoorde:

  • Suid-Afrikaners eet heeltemal te veel vleis.
  • Die reuk van koffie maak sommer my dag beter.
  • Die lug in hierdie vertrek is lanklaas gesirkuleer.
  • In daardie geweste boer hulle hoofsaaklik met wild.
  • My ma maak haar pasteie eerder met lam as met skaap.
  • Ek is nou al so moeg vir huiswerk ek kan skree.

As ʼn mens meervoude vir die vetgedrukte woorde in hierdie sinne gee, lewer dit telkens ʼn ongrammatikale konstruksie op.

  • Suid-Afrikaners eet heeltemal te veel *vleise.
  • Die reuk van *koffies maak sommer my dag beter.
  • Die *lugte in hierdie vertrek is lanklaas gesirkuleer.
  • In daardie geweste boer hulle hoofsaaklik met *wilde.
  • My ma maak haar pasteie eerder met *lammers as met *skape.
  • Ek is nou al so moeg vir *huiswerke ek kan skree.

Dieselfde gebeur as jy ‘n onbepaalde lidwoord voor die massanaamwoord plaas. ʼn Mens kan gewoon nie in enige van hierdie sinne *ʼn vleis, *ʼn koffie, *ʼn lug en so aan skryf nie.

Moet nou nie deurmekaar raak nie. ʼn Mens kry ʼn meervoud vir lam (lammers) en jy kan skryf ʼn lam. Maar dan is dit ʼn soortnaamwoord wat ʼn soort dier benoem en nie ʼn soort vleis soos in die sin hier bo nie. Dieselfde geld vir ʼn voorbeeld soos “Ek het vier kerries by die potjiekoskompetisie geproe” of “Bring asseblief vir my drie koffies”. In hierdie gevalle is kerries en koffies soortnaamwoorde wat onderskeidelik beteken “vier verskillende kerriedisse” en “drie koppies koffie”. (Les: Woordsoorte kan net binne konteks vasgestel word.)

Dis die laaste voorbeeldsin oor die huiswerk wat die meeste verwarring veroorsaak. ʼn Mens wil na huiswerk verwys as ʼn versamelnaamwoord, omdat dit ʼn naam is vir ʼn versameling goed (in hierdie geval ʼn versameling werk wat jy by die huis of in die huis doen, afhangend daarvan of jy ʼn leerder of ʼn huisskoonmaker is). Maar dit is gewoon nie hoe woordsoorte werk nie. ʼn Versamelnaamwoord is ʼn baie spesifieke morfosintaktiese bousel soos ʼn swerm spreeus of ʼn trop beeste. Woorde wat ʼn ding aandui wat net in ʼn massa, groep of geheel voorkom, soos bagasie, toerusting, gereedskap of huiswerk, is massanaamwoorde. Toets maar: Hulle kan nie in eksemplare verdeel kan word nie, net soos goud, sand, vleis en lug, en het gevolglik nie ʼn enkelvoud en meervoud nie. ʼn Mens kan gewoon nie skryf *ʼn bagasie, *ʼn toerusting, *ʼn gereedskap of *ʼn huiswerk nie. (Moenie verneuk nie, tas is nie ʼn eksemplaar van bagasie nie!) Jy kan ook nie skryf *bagasies, *toerustings, *gereedskappe of *huiswerke nie.

Een laaste ding: Telbaarheid en aanduidings van volume is nie dieselfde ding nie. ʼn Mens kan sê baie bagasie, min toerusting, ‘n bietjie gereedskap en ʼn klomp huiswerk. Dit beteken nog nie die bagasie, toerusting, gereedskap of huiswerk is telbaar nie. Die onbepaalde lidwoord voor bietjie en klomp beteken ook nie die reël oor ʼn voor massanaamwoorde is verkeerd nie. Dis in hierdie geval ʼn bietjie en ʼn klomp, steeds nie *ʼn gereedskap of *ʼn huiswerk nie.

Mag jy hierdie naweek die massanaamwoord in jou huis vryspring.

VivA-groete
Sophia

Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Rubrieke, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae