Mediese dokter van Kaapstad wen radiodrama-kompetisie

Argieffoto

Argieffoto

‘n Mediese dokter van Seepunt, Ingrid Penzhorn, is die wenner van RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie vir 2014. Haar radiodrama, Ontnugter, is uit sowat 120 inskrywings aangewys as die algehele wenner. Sy ontvang R22 000 se prysgeld.

Die beoordelaars het dit beskryf as ‘n verhaal wat luisteraars se geestessnare sal raak. Ontnugter toon dat suksesvolle mense soos dokters en prokureurs ook probleme het en hoe hoop mettertyd tog seëvier. In hierdie “sterk en sinvolle verhaal” stry ‘n dokter teen verslawing, en meer spesifiek alkoholisme.

Penzhorn se vorige radiodrama, Vlug, is in die 2012-kompetisie met die prys vir beste jong skrywer (jonger as 30 jaar bekroon) en op RSG uitgesaai.

Die tydskrif-joernalis en lektor Martie Swanepoel se radiodrama, Sonate, het die tweede plek gewen. Dit is ‘n roerende verhaal wat die beoordelaars met “sjoe!” laat reageer het. Die stuk handel oor kindermolestering, maar dit word met die nodige sensitiwiteit hanteer.

Swanepoel, wat bekend is om haar artikels in Rooi Rose, Beeld, Sarie en De Kat, is R12 000 ryker.

Zesta Vorster se Ver in die ou Kalahari het die derde plek behaal. Vorster bied dramatiese kunste as skoolvak by verskillende drama-ateljees in Bloemfontein aan. Haar radiodrama handel oor ‘n man en vrou wat na ‘n motorongeluk saam in die motor vasgekeer is. Die luisteraar word verras deur wat in hierdie klein en pynlike ruimte gebeur…

Sy ontvang prysgeld van R8 000.

In die kategorie vir skrywers jonger as 30 jaar het Gerda Kriel met haar debuut-radiodrama, Swanesang, met die louere weggestap. Kriel (27) is ‘n kliniese sielkundige in die Wes-Kaap en het ‘n “lekkerluister-verhaal” geskryf oor alleenheid en jaloesie. Dit is geloof vir sy spesiale soort musikaliteit, sonder dat dit na liriekskrywery klink.

Haar prysgeld is R8 000.

RSG gaan die vier wendramas tydens die eerste Radioteater-seisoen van 2015 uitsaai. Dié seisoen begin in April.

“Die beoordelaars is vanjaar besonder beïndruk deur die aantal gehalte tekste deur jong skrywers,” sê Kobus Burger, uitvoerende regisseur: drama by RSG. “Daar was selfs ‘n debuut-drama deur ‘n 13-jarige dogter, wat passievol radiodrama luister.

“Weer het heelwat deelnemers aan RSG en Sanlam se gratis radiodrama-slypskole vanjaar se kortlys gehaal, wat net bevestig wat ‘n welkome voedingsbron vir nuwe dramaturge hierdie kompetisie geword het.”

Danksy Sanlam se finansiële bystand word die radiodrama-skryfkompetisie weer in 2015 aangebied. Meer inligting sal in Januarie 2015 beskikbaar wees. Besoek RSG se webblad by www.rsg.co.za om op hoogte te bly of sluit by RSG se maandelikse nuusbrief via die webblad aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.