Meer as tegnologie nodig om meertaligheid te bevorder

(Foto: Giovanni Gagliardi /Unsplash)

Die Verenigde Nasies (VN) berig dat 40% van die bevolking nie toegang het tot opvoeding in die taal wat hulle praat nie; gevolglik gaan daar byna elke twee weke ʼn taal verlore.

Taaldiversiteit word toenemend bedreig namate al hoe meer tale verdwyn, maar die uitwerking van Covid-19, veral op die gebied van onderwys, het opnuut beklemtoon hoe noodsaaklik moedertaalonderrig en tegnologie vir die bevordering van meertaligheid is.

Daarom is die tema vanjaar vir Internasionale Moedertaaldag, wat sedert 1999 jaarliks op 21 Februarie deur die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) gevier word, die rol van tegnologie om meertaligheid se grootste uitdagings aan te pak.

Melanie Buys is hoof van ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS). (Foto: Verskaf)

Die Covid-19-pandemie het onderwysers en leerders sedert 2020 onverwags genoodsaak om af te sien van hul tradisionele manier van skoolgaan en dit met aanlyn klasse, taal-toeps, video-oproepe en ander kanale van tegnologie aan te vul.

Volgens Melanie Buys, hoof van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), het tegnologie baie moontlikhede gebring wat vantevore ondenkbaar was, veral met betrekking tot moedertaalonderrig in skole. Die groei van die SOS se Wolkskool is een só ʼn voorbeeld waar tegnologie ʼn resep vir meertalige sukses was.

“Afrikaanse skole het tydens die pandemie suksesvol tegnologie in werking gestel deur dié platform, wat ontwikkel is om Afrikaanse skole, onderwysers en leerders te ondersteun en te versterk deur hulle met vaardighede wat relevant is vir die Vierde Industriële Rewolusie (4IR) toe te rus, te gebruik.”

Buys verduidelik die waarde van die Wolkskool is dat alles in Afrikaans beskikbaar is, maar skole kan ook van Engelse opsies gebruik maak om te verseker dat leerders in hul moedertaal leer. Die Wolkskool is tans 50 skole en 35 000 leerders sterk en maak gebruik van die sogenaamde “flipped classroom” of “omgekeerde klaskamer” om tyd in die klaskamer te spaar en te fokus op dieper leer, eerder as blote kennisoordrag.

dr-jaco-deacon-fedsas

Dr. Jaco Deacon van Fedsas. Foto: Facebook.

Verder toon die SOS se matriekverslag jaarliks hoe leerders wat in hul moedertaal onderrig word, beter akademies presteer en ook ʼn geborgenheid voel teenoor hul skool. Die positiewe invloed van moedertaalonderrig op prestasie is weer bevestig deur die feit dat Afrikaanse skole in 2021 ʼn slaagsyfer van 84,9% behaal het, 8,5% hoër as die nasionale gemiddeld.

Volgens dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), is dit belangrik om te onthou dat die werklike voordele van moedertaalonderrig slegs ontsluit word wanneer kinders gehalte-onderrig in hul moedertaal ontvang. Hy benadruk ook dat tegnologie niks beteken in die hand van iemand wat nie weet hoe om dit te gebruik nie. “Tegnologie op sy eie gaan vir skole en meertaligheid niks beteken nie. Die doeltreffende gebruik daarvan in die hand van ʼn onderwyser wat weet hoe om dit te benut, sal egter vir ons oplossings bied.”

Deacon sê nog ʼn uitdaging vir volhoubare moedertaalonderrig in Suid-Afrika is te min skole. “Daar is eenvoudig nie genoeg skole om gehalte-moedertaalonderrig in al 11 tale ʼn werklikheid te maak nie. Die uitdaging vir die Nasionale Departement van Basiese Onderrig en die provinsiale onderwysdepartemente is dus om skole te bou en bestaande skole behoorlik te finansier.”

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU). (Argieffoto.)

Die uitdaging van gehalte-moedertaalonderrig is volgens Deacon ook nie net een vir die staat nie. “Elke rolspeler betrokke by onderwys moet hul kant bring om toe te sien dat wanpresterende skole behoorlik begin funksioneer. As ons net die bestaande skole almal al op dieselfde vlak kan kry, sal dit ʼn geweldige hupstoot wees vir veral kinders se vroeë onderrig. Gehalte-onderrig in hul moedertaal op laerskool sal weer bydra tot beter prestasie op hoërskool, beter matriekuitslae en meer leerders wat hul skoolloopbane voltooi.”

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê ook daar moet hande geklap word vir die manier waarop baie onderwysers soomloos oorgeskakel het na aanlyn klasse en tegnologie tydens die pandemie benut het, hoewel dit terselfdertyd slegs ʼn hulpmiddel vir kommunikasie is en nie die persoon wat dit gebruik, kan vervang nie.

alana-bailey-afriforum-featured

Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum. (Foto: Reint Dykema)

Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum, voeg by dat die idee om tegnologie te gebruik om moedertaalonderrig te bevorder tans min Suid-Afrikaanse skole se werklikheid, maar wel ʼn klomp se droom, is. “Dit is uiters belangrik dat tale saam met tegnologie moet groei en ontwikkel, maar só ʼn tema gaan meer oor die bewusmaking van die potensiaal wat tegnologie inhou en is nie die werklike uitdagings waarmee talle skole sukkel nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.