Meeste finaliste nóg vir Pendorings

Die Pendoring-beoordelaars, voor, links na regs: Freda Raubenheimer, Molefi Thulo (hoofbeoordelaar), Antoinette Johnson, Zwelakhe Tshabangu and Esté de Beer.  Agter, links na regs: Sbu Sitole, Jacque Matthee, Marius van Rensburg, Paul de Klerk, Qingqile Mdlulwa, Susan Aukema and Deon Wiggett (Foto: Verskaf)

Die Pendoring-beoordelaars, voor, links na regs: Freda Raubenheimer, Molefi Thulo (hoofbeoordelaar), Antoinette Johnson, Zwelakhe Tshabangu and Esté de Beer. Agter, links na regs: Sbu Sitole, Jacque Matthee, Marius van Rensburg, Paul de Klerk, Qingqile Mdlulwa, Susan Aukema and Deon Wiggett (Foto: Verskaf)

Vanjaar se Pendoring-beoordelingspaneel moes drie dae lank spook om 108 finaliste, die grootste groep nóg, aan te wys wat om dié gesogte trofee meeding.

Dit is vanjaar die derde keer in Pendoring se 21-jarige bestaan dat meer as 400 reklameskeppers hul advertensie vir dié gesogte beeldjie ingeskryf het, het Wilma de Bruin, mediabestuurder, in ʼn verklaring gesê.

Vanjaar het 447 reklame-agentskappe ingeskryf met die oog op ʼn Pendoring-trofee.

“Die beoordelaars het drie dae lank gekyk en weer gekyk, geluister en weer geluister om uiteindelik tevrede te wees dat hulle die beste uit al die verdienstelike werk gekies het om bekroon te word. Hulle was dit eens dat dit ʼn interessante oefening was om werk in ʼn groot verskeidenheid inheemse tale op gelyke voet te beoordeel,” het de Bruin gesê.

Altesaam 28 reklame-agentskappe het finaliste vir vanjaar opgelewer. Die Vernuf-kategorie was verreweg die sterkste kategorie en skitter met 21 finaliste, en die radio-kategorie is tweede met 16 finaliste.

Joe Public staan weer kop en skouers bo die ander agentskappe uit met 15 finaliste en FCB, Johannesburg, blaas in sy nek met 9 finaliste.

Die Studentekategorieë het 21 finaliste opgelewer. Stellenbosch Academy of Design and Photography loop voor met 6 finaliste, en die Vega School of Brand Leadership, Pretoria, is tweede met 4 finaliste.

Die bekroningsaand vind Vrydag 28 Oktober by Vodacom World in Midrand plaas. Kaartjies is nou te koop by Corrie le Roux. Vir meer inligting, stuur ʼn e-pos na [email protected]  of skakel 011 880 5202. Studente ontvang 25% afslag op kaartjies.

Vir ʼn volledige lys finaliste, besoek Pendoring se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.