“Met” – ʼn huldeblyk aan ʼn afgestorwe voorsetsel

(Grafika: VivA Afrikaans)

Ek kry gister ʼn versoek van ʼn gebruiker: Skryf tog vir ons iets oor “met”. Ek mis tog so vir “met”, dit was vir my so ʼn liewe, onmisbare voorsetsel, maar dit lyk my “met” is helaas in Afrikaans oorle.

Die gebruiker is reg – daar is deesdae ʼn vreemde geneigdheid om “met” weg te laat waar dit ná “saam” moet voorkom, soos in hierdie sinne (onthou, ‘n asterisk voor ‘n taalbousel beteken dit is taalkundig verkeerd):

*Ons ry saam my pelle.
*Ons braai saam die bure.
*Ons eet saam my ma-hulle.

(Let sommer ook op na die spelling van “ma-hulle”. Dis nie “*ma’le” nie.)

Volgens HAT6 is “saam” ʼn bywoord en kan dit een van die volgende drie betekenisse hê:

  1. bymekaar: Ons sit lekker saam op die bank.
  2. met mekaar; wat aan dieselfde handeling deelneem: Ons werk lekker saam.
  3. opgetel: Wat kos al hierdie goed saam?

Dit lyk vir my dis veral by betekenisonderskeid 2 waar die kleitrappery plaasvind.

So werk “saam” as ʼn mens dit reg wil skryf:

Vir betekenisonderskeid 2 kan “saam” op sy eie gebruik word sonder enige verdere entiteit of konsep wat daarna genoem word:

Ons staan saam.
Ons werk lekker saam.
Ons hou lekker vakansie saam.

As ʼn mens vir betekenisonderskeid 2 “saam” wil kwalifiseer deur te sê wie of wat ook aan die handeling deelgeneem het, moet daar ʼn voorsetsel op die “saam” volg. Hierdie voorsetsel is gewoonlik “met”:

Ons werk lekker saam met julle.
Ons ry saam met my pelle.
Ons braai saam met die bure.
Ons eet saam met my ma-hulle.

Ek is nie seker waar die weglating van die “met” vandaan kom nie. Aanvanklik het ek gedink dis dalk Engelse invloed:

We like working with you.
*Ons werk lekker saam julle.

Maar die argument hou nie lekker water nie, want “with” beteken “met”, en as dit Engelse invloed was, sou die “saam” weggeval het:

*Ons werk lekker met julle.

Dit is dan ook ʼn konstruksie wat ʼn mens nogal dikwels hoor in ʼn Engelssprekende se Afrikaans.

Die verklaring wat dalk eerder sin maak, is dat mense skryf soos wat hulle praat.

Ons werk lekker saam met julle.
*Ons werk lekker samejulle.
*Ons werk lekker saam julle.

Oor praattaal kan ek my nie uitlaat nie, maar oor skryftaal kan ek wel. Daardie ou “skoolreël” van “skryf soos jy praat” moet dalk nou ook maar afsterf, want as dit waar is, kan ʼn mens ook skryf oswêklêkîsamjîlî en dan verstaan ons naderhand almal lekker saam nie ʼn woord wat op papier staan nie. Dit is gewoon ʼn onsinnige argument – daar is praattaal en daar is skryftaal, en taalgebruikers weet daar is ʼn verskil. (Ek het ʼn vuil spesmaas mense wat wil skryf soos hulle praat, soek na redes om slordige en onnoukeurige taalgebruik goed te praat.)

Moet nou ook nie kleitrap as jy probeer verduidelik nie. Dit is moontlik om taalbousels ná “saam” te hê wat nie ʼn voorsetsel vereis nie:

Ons braai saam vleis.
Ons eet saam middagete.
Ons oefen saam spiesgooi.
Ons skryf saam ʼn liedjie.
Ons ry saam Pretoria toe.
Ons sing saam tydens kollekte.
Ons staan saam gedurende moeilike tye.
Ons werk saam midde-in rampe.

Moet dus nie vir kinders leer daar mag nie ʼn naamwoordstuk op “saam” volg, of daar moet altyd ʼn voorsetsel ná “saam” wees nie, dis nie waar nie. Die voorsetsel word vereis as ʼn mens die party spesifiseer wat saam aan die handeling deelneem, soos hier bo verduidelik.

Een laaste opmerking oor “saam”, ter wille van Afrikaansonderwysers wat vir tweedetaalsprekers skoolhou:

Waar mense met mekaar praat, en “saam” word deel van die handeling, kom daar ʼn ander betekenisonderskeid aan bod:

  1. Ek praat. (= Ek lei die gesprek.)
  2. Ek praat saam. (= Ek is deel van ʼn gesprek waarby ek nie normaalweg ingesluit sou gewees het nie.)
  3. Ek praat met jou. (= Ek praat en jy luister.)
  4. Ek praat saam met jou. (= Jy praat en ek ondersteun jou standpunt.)

Indien die konstruksie in 4 gebruik word om die betekenis van 3 oor te dra, is dit ʼn taalfout.

Stuiwer gewerp. Mag “met” tog weer uit die dood opstaan en lank en gelukkig saam met ons lewe.

VivA-groete
Sophia

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Afrikaans, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Andries Visagie ·

In die kol! Dis een van my troetelgriewe. Soveel mense het geen taalvaardigheid of trots nie, en dit word al hoe erger. Ek gee nie om wat ander dink nie – my taal is my trots.

lizl ·

Met wat sal ons dit nou vervang…. tong in die kies gevra !

Rooiman ·

Ek hoop al die mense wat die woordjie “met” uitlaat, lees hierdie artikel. Daardie irriterende gebruik om dit weg te laat het my al meermale rooi laat sien. Praat reg, of bly stil; is hoe ek daaroor voel.

Casper Labuschagne ·

By nabetragting gebruik ek self die woord “met” amper uitsluitlik in “saam met” of andersins om te beskryf dat ek iets in ‘n taak gebruik het:

Ek ry saam met my vriende.
Ek doen houtwerk met handgereedskap.
Ek het die berekening gedoen met ‘n sakrekenaar.

Ek vermoed dit is juis die ongemaklik dubbelsinnige gebruik van die enkelwoord “met” in plaas van “saam met” wat mense huiwerig maak om “met” in die eerste plek te gebruik. Die onoordeelkundige gebruik van “met” kan lei tot onbedoelde vertolkings en daarom word van die woord “met” weggeskram. Al drie boonste sinne word dikwels in die spreektaal gebruik met dieselfde bedoeling maar die geskrewe vertolking mag dubbelsinnig voorkom.

Ek ry met Jan.
Ek ry perd met Jan.
Ek ry perd saam met Jan.

Ek het ook so ‘n vermoede die woord “met” word dalk meer in die spreektaal gebruik as in geskrewe vorm.

Johan Strydom ·

Ek het nog nooit gehoor dat iemand “met” weglaat nie, Mens kan nie behoorlik praat of skryf sonder om “met” te gebruik nie.

Madelaine ·

Dankie! Skryf tog ook oor ‘wie’ as betreklike voornaamwoord wat so verkeerd gebruik word!

Adri ·

Dankie hiervoor. Ek kan iets oorkom as mense “met” weglaat. En waag dit nou om daarop kommentaar te lewer! Dan is jy alles wat sleg en lelik is! Om iemand op ‘n taalfout te wys, is erger as om hom te vloek!

Gerna ·

Ek voel ook saam MET jou. Ons hier in NZ probeer suiwer Afrikaans lewendig hou, terwyl dit vir my lyk sommige Suid-Afrikaners probeer enige iets om die taal te verander of wegwens. Ek het Afrikaans ‘n sekere manier geleer, en dit is hoe ek dit vir my twee Kiwi-Afrikaanse seuns probeer lewendig hou….

John ·

Os raak lekke common, dis mar dit e als so sam di lui sms-snelskrif en die woordeboekmakers wat alles wat Kaaps klink nou wil invoeg en enige standvastigheid in Afrikaans as ‘n bedreiging vir die New Age-rioolstroom eien ~ maar te graag die nuwerwetse lig-in-die-broekers omarm…. Eintlik moes hulle vreeslik baie van ‘met’ gehou het, want ‘met’ is die in-ding en apart erg teen die wet en die profete… en ‘met’ is ook nog in Engels ook ~ so ‘n bietjie gisteragtig maar beslis in die mode…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.