Moedertaaldag en die belangrikheid om te lees

Argieffoto (Foto: szymonpacek, Pixabay)

Deur Izak de Vries, bestuurder: bemarking en kommunikasie by Lapa Uitgewers

Vandag is Moedertaaldag. Wat beteken dit?

Die woord moeder-taal vertel reeds vir ons iets. Medici, opvoedkundiges en sielkundiges omarm deesdae al hoe meer die belang van die eerste 1 000 dae – van bevrugting tot die jongeling se tweede verjaarsdag. In daardie tyd groei die brein die heel meeste.

Reeds in die ma se liggaam hoor die kind die ritmes van taal en ervaar die kind klanke. Práát met jou baba in die maag, sê dokters deesdae. Of, lees boeke. Ritmiese rympies, klanke, patrone, alles word deur die moeder oorgedra selfs voor die baba gebore word.

Wanneer die moeder dan voortgaan om ná geboorte boeke te lees, rympies te lees, stories te vertel, word die moeder se taal vasgelê.

Babas kan baie tale aanleer wanneer hulle klein is, tot ses jaar oud. Daar is egter ’n voorwaarde: Die persoon wat ’n sekere taal praat, moet konstant daardie taal praat met die jongeling. ’n Afrikaanse ma moet Afrikaans bly praat met die baba en later die jong peuter, al is sy byvoorbeeld met ’n Engelse man getroud. Die Engelse pa moet dan konstant Engels praat. As daar ’n au pair is wat Sotho-sprekend is, bou dit in die kontrak in dat sy slegs Sotho met die baba mag praat.

Elke taal wat konstant deur een persoon gepraat word, registreer in daardie wonderlike klein brein van die baba.

Daarom is boeke ook so ontsettend belangrik. Aanvanklik is ’n boek iets wat die ouer voorlees. Dan word kartonboekies speelgoed. Dit is goed as die baba die boeke kou, só ervaar die kleinding die boekheid van die boek. As die ouer voorlees uit die boek, kom klanke ook daarmee saam.

Talle kleintjies leer later om woorde en klanke na te boots. Dit is alles bitter belangrik vir leesvaardighede op skool.

’n Kind wat met boeke speel, het reeds die ruimtelike ervaring van die boek. ’n Kind aan wie boeke voorgelees word, het reeds die gevoel van taal en klank.

Maroela Media het al by verskeie geleenthede berig oor die belang van leesvaardighede. Hierdie berig, wat reeds in 2015 verskyn het, vertel mooi hoe belangrik fisiese oefening en ruimtelike vaardighede vir die jong leerder is. Ouers kan gerus weer die berig lees, want daar is steeds baie waarhede in.

Die probleem met die huidige skoolkurrikulum is dat alles baie teoreties is. Die kurrikulum erken al die mooi goed waaroor dr. Marisa van Niekerk (hierbo) berig het, maar daar is soveel uitkomste en soveel voorgeskrewe inhoud, dat alles slegs bolangs gedek word. Dit is waarom ons kinders nie met begrip leer lees nie, tensy hulle ’n baie goeie onderwyser het wat meer doen as wat die kurrikulum vra.

Dit is hoe skokverslae uiteindelik op Maroela Media beland dat slegs 22% van Graad 4-leerders met begrip kan lees.

Is daar iets wat ouers kan doen daaraan?

  • Ja, begin vir jou kind lees die oomblik wanneer jy besef jy, of jou vrou, is swanger. Die pa se stem wat stories lees en vir die baba stories vertel, is net so belangrik as die ma s’n.
  • As julle albei Afrikaans is, praat Afrikaans. Kinders tel vinnig ander tale op, die brein is soos ’n spons op daardie ouderdom.
  • As julle verskillende tale praat, konsentreer daarop dat jy net een taal met die kleinding praat. So sal die brein – reeds voor geboorte tale en ritmes leer vaslê en dit met een ouer verbind.
  • Laat die baba met boeke speel. So word ruimtelikheid aangeleer.

Dit is goed om jongmense attent te maak op ander tale. As ’n kind se moedertaal stewig is, sou dit verkeerd wees om die knaap nie bekend te stel aan ander tale nie.

Maja Sereda is oorspronklik van Pole maar woon reeds sedert 1989 in Suid-Afrika. Haar liefde vir die Suid-Afrikaanse tale het gemaak dat sy ’n woordeboek saamgestel het vir japsnoete van drie jaar en ouer. My eerste woordeboek is ’n vrolike en prettige woordeboek vol kleurryke illustrasies in vier tale: Afrikaans, Engels, Xhosa en Zoeloe. Dit is volgens verskillende temas gerangskik. Van die temas sluit in: klere, kos, tuin, teenoorgesteldes, voëls, diere, skool, my liggaam en my familie. Daar is nou ’n tweede weergawe ook beskikbaar, wat Afrikaans, Engels, Sepedi en Zoeloe bevat.

Dus: Lees, lees en lees. Lees voortdurend voor uit goeie kinderboeke, as die liefde vir stories vroeg reeds begin, dan kweek jy ’n leser.

Maar wat van die skool?

Hoe gaan jy verhoed dat jou kind op Graad 4 nie kan lees met begrip nie?

Die antwoord is voor die hand liggend. Laat die knaap lees. Enige boek is goed. Daar is egter deesdae ook puik hulpmiddels wat spesifiek gemik is op leesbevordering.

Een daarvan is die Leer my lees-reeks met Tippie die olifant as hoofkarakter. Hierdie vrolik geïllustreerde leesreeks stel die beginnerleser aan eenvoudige klanke bekend en is uiters gewild.

Met jare se ervaring in buitengewone onderwys waar kinders met lees- en spelprobleme sukkel om te leer, wil Jose en Reinette Palmer met die Leer my lees-reeks ’n liefde vir lees by kinders kweek. Hierdie leesreeks met prettige illustrasies is saamgestel sodat dit nie net pret sal wees om te lees nie, maar ook woordeskat en leesbegrip sal bevorder.

Dit is nie handboeke nie. Juis nie. Elke boek in die reeks bevat:

  • ’n kort, eenvoudige en prettige storie wat gemik is op die ontwikkeling van leesvaardighede vir beginners;
  • helder, kindervriendelike illustrasies;
  • ’n woordeskatlys, ’n lys met die enkelvoud, meervoud en verkleinwoord, begripsvrae en ’n bladsy met “voltooi die sinne” gebaseer op die leesstuk.

Uiteindelik maak die boeke kinders lus om nog te wil lees en stel die ouer, terapeut en onderwyser in staat om begrip en woordeskat speel-speel by die kind vas te lê.

Boonop is die reeks uitstekende waarde vir geld – dit is een van die mees bekostigbare Afrikaanse beginnerleesreekse wat tans op die mark is! Daar is reeds vier verskillende vlakke in hierdie reeks om die jong leerder te help om die klank en ritme van Afrikaans met begrip te kan lees.

***

WEN!

LAPA uitgewers gee, ter viering van Moedertaaldag, drie kopieë van weg van My eerste woordeboek deur Maja Sereda en ook van Leer my lees vlak 4. Stuur ʼn e-pos aan [email protected] voor 23 Februarie 2018 en laat weet ons waarom jy graag een van dié boekpryse wil wen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Paul ·

As dit onder andere beteken om ook te juig oor anglisismes of woorde wat direk deur die AWS uit Engels oorgeneem is, dan nee, dit is verseker nie iets om te vier nie.

Petra ·

Ek stem saam met die artikel, ons pas dit toe met ons jong kinders en sien reeds die goeie resultate.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.