[Moet lees] Van die wieg tot in die museum: Afrikaans in een leeftyd

Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

Een Donderdagmiddag ʼn rukkie na werk, hou daar ʼn groot motor voor die Solidariteit-hoofkantoor stil. Die bestuurder het half onseker nader gestaan: “Is dit hier waar ons klere en dinge vir die arm mense kan aflaai?”

Ek het nader gestap, maar niks gesê nie. My woorde raak soms op.

“My ma’t gesê ons moet hierdie boeke sommer ook afgee. Dit het nog aan my pa behoort.”

Ek buk af om te groet. In die kar sit sy vrou, twee laerskoolseuntjies en sy ma. “Ons gaan Australië toe, Oom”, sê een opgewonde. Die ouma sê niks.

Ek vat die kleretas met die boeke; hy vat die sakke met klere, en roep die kinders om te kom help. Die tas is baie swaar. Sy vrou en ma stap ook saam.

“Ja,” sê hy, “ons het maar besluit om te gaan. Die misdaad en al die dinge. Jy weet mos.”

Ek knik, want ek weet mos.

By die Helpende Hand se stoor aangekom, fluit hy verbaas. “Waar gaan al hierdie goed heen?”

Ek begin verduidelik, hou toe maar op toe ek sien sy kop is klaar in Australië.

“Sal jy asseblief die boeke uitpak,” vra hy, “ons het ongelukkig die tas nodig.”

Dis ʼn goeie tas. Ek begin uitpak.

“Jammer vir die moeite, julle moet dit maar vir ʼn museum gee of iets,” sê hy. “Ma het ongelukkig nie plek in haar nuwe huis nie. Sy trek nou na ʼn lekker veilige plekkie.”

Die ouma sê niks. Sy lyk nie baie opgewonde oor die lekker veilige plekkie waar sy nou alleen gaan bly nie. Dit is goeie boeke.

“Pa was baie lief vir Afrikaans,” sê hy. “Natuurlik is ek ook,” voeg hy vinnig by. “Ons gaan nog Afrikaans met hulle praat,” sê hy oortuigend na die kinders se kant toe. Sy vrou lyk nie so seker nie.

Ek pak verder uit. Hierdie boeke is gebrúik. Langenhoven se Spookstories. Die Woordeboeke van die Afrikaanse Taal. FA Venter, Van Wyk Louw, Die Groot Verlange. Die FAK. Een Long Road to Freedom – onoopgemaak. “Dit was ʼn present. My Pa is dood voordat hy dit kon lees,” sê hy half verleë. Hy sê nie hoekom hý dit nie gelees het nie.

Ek en die ouma kyk na die hopie boeke op die tafel. Die man en die vrou kyk vir haar. Sy neem afskeid van iets meer as die boeke. “Sy is nou 83,” sê die man sag. “Hulle was onderwysers.” Hy voel skuldig oor die weggaan.

Ek werk vinnig uit. Sy is gebore in 1925, in die jaar toe Afrikaans ʼn amptelike taal geword het. Binne een leeftyd, van die wieg tot in die museum. Ek sê dit amper vir hom, maar bedink my betyds. Ek tel een van die woordeboeke op, dink aan alles wat agter dit sit. Die reeks is nog nie eers voltooi nie, en die taal word al weer onderdruk, dink ek wrang.

Die ouma tel een van MER op, vryf stadig daaroor, en sit dit neer sonder om daarna te kyk.

Die kinders raak nou woelig. “Ons moet ry,” raak die Pa haastig. Ek wil iets vir sy ma sê, maar my woorde is nog op. Ek weet baie van haar, al het ek haar nog nooit ontmoet nie. Ek wens ek het haar man ontmoet, al ken ek hom nou ook. Ek kan dink hoe mis sy hom in hierdie tyd. Hoe sy al by voorbaat na haar kleinkinders verlang. Ons stap stadig terug, weg van haar lewe af wat nou daar op die oop tafel lê.

By die kar gaan sy staan, en praat vir die eerste keer. “Gee die boeke vir ʼn laerskool,” vra sy. “Nie vir ʼn museum nie; ons taal is mos nie dood nie.”

Ek sien die verlede en die toekoms van Afrikaans in haar oë. Ek verstaan presies, en voel lus om haar te salueer. Ek maak die deur vir haar oop, en terwyl hulle wegtrek wonder ek of daar nie so iets is soos ʼn Taalmisdaad teen die Mensdom nie.

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Afrikaans, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Antoinette ·

So mooi gestel. Ek bid vir ons taal. Ons wat agterbly sal aan die ander kant uitkom. Dalk bietjie stukkend, maar beslis sterker.

Ania ·

Ek het die 4 FA Venter “lande” en nog boeke van Matthee, Mikro, Freda Linde en nog ‘n paar vir my vriendin in Sjina versamel en gestuur. Sy het 4 kinders en hulle is almal BAIE opgewonde oor die boeke.

Somkop ·

Het hierdie gebeurtenis al in 2008 afgespeel? Anders klop die somme nie…Afrikaans lééf en sal blý leef!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.