‘My besef dat Afrikaans, Christenskap en rugby nie boos is nie’

Myan Subrayan saam met Heyneke Meyer (Foto: Facebook)

Van ʼn jong Durbanse seun wat in die Hindoegeloof grootgeword en geleer het dat Afrikaans en rugby boos is tot ʼn man wat al talle Afrikaanse boeke geskryf het, ʼn Christen is en rugbyspelers met sy motiveringspraatjies help.

Myan Subrayan het ʼn baie lang pad gestap en wil sy storie met ander deel sodat hulle ook kan sien: Wat voorlê, is baie beter as wat al verby is.

Myan Subrayan is ’n motiveringspreker, lewensafrigter en skrywer wat al talle sportsterre soos Chad le Clos, Jannie de Beer en Pierre Spies se biografieë geskryf het. Hy het onlangs ook sy splinternuwe boek, Tamatie Straat, bekendgestel waarin hy die storie vertel wat van hom só ʼn gesogte spreker maak.

Subrayan het grootgeword en skoolgegaan in Durban; dit is hiér waar hy die eerste keer met Afrikaans te doen begin kry het. Maar oor dié taal was Subrayan aanvanklik nie baie positief nie.

“Daar was gesê ons móét dit leer. Ek het eers nie baie daarvan gehou nie, want soos ek grootgeword het, het ons geleer dat Afrikaans die taal van die onderdrukker en rugby die spel van die onderdrukker was. So, ons het nie van Afrikaans en rugby gehou nie,” het Subrayan aan Maroela Media gesê.

Subrayan het dié idee van Afrikaans en rugby gehad vir ʼn groot deel van sy lewe. Hy het ook grootgeword as ʼn Hindoe, maar nadat hy met ʼn vuurwapen in sy huis in Durban aangehou is, het hy herbesin oor sy geloof se beginsels. Subrayan is in 1994 weergebore as ʼn Christen.

Myan Subrayan (Foto: Facebook)

“In Hindoeïsme het ons so iets soos Karma, wat beteken: As jy slegte dinge doen, kry jy slegte dinge; en as jy goeie dinge doen, dan kry jy goeie dinge. Maar ek het besef dit is nie hoe die wêreld werk nie, want slegte dinge gebeur met goeie mense – soos met my. En as jy ʼn kind van die Here is, glo ons nie in ander dinge nie, ons glo in die Bybel en wat die Woord van die Here sê,” het hy gesê.

“In Christenskap het ek vir die eerste keer in my lewe geleer van ʼn God wat vir my soveel liefde gehad het dat Hy aan die kruis gesterf het, en sy lewe vir my gegee het om my sondes skoon te was. Nie een van die 3,3 miljoen gode in Hindoeïsme het, sover ek al gehoor het, vir my gesterf nie, net Jesus Christus.”

Tamatie Straat

Subrayan het gesê sy nuwe boek, Tamatie Straat, wat in Afrikaans geskryf is, se fondament lê ook in Romeine 8:28: “Ons kan nou van een saak seker wees: God gebruik elke ding wat in jou lewe gebeur om sy doel te bereik. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”

Ná die voorval waartydens Subrayan met ʼn vuurwapen in sy huis aangehou is, het hy, sy vrou en sy dogter in 2000 na Nieu-Seeland verhuis, waar Subrayan ʼn sakegeleentheid nagestreef het.

“Om met ʼn vuurwapen aangehou te word is ʼn baie slegte ding, maar daaruit het die Here vir my rigting gegee. En dít was om na Nieu-Seeland te gaan, en vanuit Nieu-Seeland het ek weer my opstanding gekry.”

In Tamatie Straat brei Subrayan meer uit oor die drie fases in jou lewe waarna hy verwys, naamlik verwerping, rigting en opstanding.

“Wat ek mense probeer leer, is: Vanuit ons grootste verwerping gee die Here vir ons ons grootste rigting. En as ons gehoorsaam is om daardie rigting te volg, kan ons voorbereid vir die opstanding wees.”

Tydens Subrayan se tyd in Nieu-Seeland het hy ook ʼn liefde vir Afrikaans ontwikkel, en die idee dat dit ʼn bose taal is, begin verwerp.

“Ek het na ʼn kamp gegaan waar ons ʼn boek wat in jou moedertaal geskryf is, moes saamneem. Ek het nie geweet watter boek om te vat nie en het die kampleier daarvan vertel. Hy het voorgestel ek vat ʼn Afrikaanse boek, maar ek wou nie. Ek het geglo Afrikaans is die taal van die onderdrukker, die taal van boosheid. Maar die kampleier het dit nie daar gelos nie. Hy het vir my ʼn Bybelvers gelees wat sê: ‘Elke knie sal buig en elke tong sal getuig’.”

“Hoe kan jy dan vir my sê Afrikaans is ʼn taal van boosheid? Elke taal is geskep deur die Here,” het die kampleier vir Subrayan gesê.

Myan Subryan saam met Springbok rugbyspelers (Foto: Verskaf)

Subrayan het daardie dag ʼn nuwe uitkyk op Afrikaans gekry en dit begin omarm.

“Daardie dag het die skille van my oë afgeval. Ek het vir die eerste keer in my lewe van daardie dag af Afrikaans met vrede en vreugde gepraat,” het hy gesê. “En weet jy watter sport speel die seuns toe op daardie kamp? Rugby!” het hy gelag.

Subrayan het toe vir die eerste keer ʼn rugbybal gegooi en gevang, en van daardie dag af elke keer Afrikaans gepraat as hy ʼn ander Afrikaanssprekende in Nieu-Seeland raakgeloop het.

“Ek het meer Afrikaans in Nieu-Seeland gepraat as in my hele lewe in Suid-Afrika.”

Subrayan het in Nieu-Seeland groot vriende geraak met voormalige All Blacks-rugbyspelers soos Michael Jones, Inga Tuigamala, Bull Allen en DJ Forbes. Só het hy betrokke geraak by rugby, en voortgegaan om biografieë van talle rugbyspelers en ander sportsterre te skryf. Hy het in 2011 teruggekeer na Suid-Afrika en woon steeds hier.

Myan Subrayan saam met Victor Matfield (Foto: Facebook)

“Wie sou nou kon dink! Hierdie Indiër van Durban, wat glad nie gehou het van rugby nie, het van Nieu-Seeland tot Engeland en terug na Suid-Afrika gegaan om onderhoude te voer met rugbyspelers en om hulle boeke te skryf.”

Subrayan sê dit is juis waaroor sy boek gaan, dat daar beter dinge voorlê as wat al agter jou is.

“Dit gaan oor daardie bemoediging. Ons moet hoop hê. As ons nie hoop het nie, dan is dit die begin van ʼn pad van teleurstelling. Ons moet weet dat God in beheer is. As jy dink jy is self in beheer, is dit ook ʼn pad van moeilikheid. Ons kan ʼn onbekende toekoms in die hande van ʼn bekende God vertrou.”

Volg Myan Subrayan op Facebook of besoek sy webwerf  hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Erik ·

Jy sal vergaan in die lewe Myan. God se seën en liefde vir jou en jou gesin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.