‘n Afrikaanse brief vir jou uit Duitsland

Alexander Mickel (Foto: Vanessa Ly Pham)

Alexander Mickel (Foto: Vanessa Ly Pham)

Alexander Mickel se brief word gepubliseer net soos hy dit aan ons gestuur het. Die brief is nie geredigeer of teksversorg nie. -Red

Liewe vriende van Afrikaans

My naam is Alexander Mickel. Ek is ʼn Duitser wat besig is om Afrikaans te leer. Ek het van die Russiese studente gelees wat Afrikaans studeer. Ek is ʼn bietjie jaloers dat hulle die moontlikheid het om Afrikaans te studeer :-). Sover ek weet is daar nie Afrikaanse departemente in Duitsland nie en formele onderrig is skaars beskikbaar. Vir my is dit ʼn baie oulike taal wat ek met ʼn groot toewyding leer sonder om ooit ʼn formele onderrig te gehad het! Ek weet nie eens of ek ooit Suid-Afrika toe kan gaan om die taal in haar tuiste toe te pas nie. Nogtans is ek besig met die taal – my Engels het amper “verdwyn”, omdat ek so baie besig is met Afrikaans en ek dink dit spreek boekdele. Daar is geen dag sonder Afrikaans by my nie.

Baie dankie vir Maroela Media dat ek die kans gekry het om ʼn bietjie van my belewenisse te vertel. Dis nou my Afrikaanse droom:

Ek het begin Afrikaans leer uit Engelse oefenboeke. Daar was ongelukkig niks in Duits beskikbaar vir my nie. En ek het probeer baie lees. My Afrikaans het beter geraak; tekste kon ek gou goed verstaan. Toe koop ek my eerste Afrikaanse boek “Geskiedenis van Suid-Afrika. Van voortye tot vandag” deur Fransjohan Pretorius. Ek het vir hom geskryf hoe lekker dit is om sy boek te lees en dat ek baie goed verstaan. Dit was vir hom ʼn groot verrassing om so ʼn e-pos uit Duitsland te kry. Hy het geskryf hy wil graag my e-pos aan die hoof uitvoerende beampte van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns stuur. Toe besluit hulle om my brief in die Akademie se nuusbrief te publiseer (Nuusbrief van Sept. en Des. 2014). As julle belangstel in hierdie nuusbrief, kontak asseblief vir Nellie Engelbrecht by [email protected] Hulle het my vroeëre kontakbesonderhede gepubliseer en ek kon ʼn mooi terugvoer ontvang van Akademielede wat my brief gelees het.

Ek kon nogal met Hermann Giliomee kontak maak, want ek het onder meer sy boek Die Afrikaners gelees! Toe soek ek na wetenskaplike artikels om woorde te leer met betrekking tot my vak (biologie). Ek het vir iemand geskryf wat in SATNT (Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie) gepubliseer het en sy stuur dit aan die SATNT se ‘Publishing Title Operations Coordinator’ wat die hele brief aan die redakteur Prof Kobus Maree stuur wat toe my e-pos na die Akademieraad stuur en uiteindelik het dit weer by my uitgekom. Dit was baie snaaks en daardie dag was regtig wonderlik. Ek moes vinnig besef dit maak nie saak wat ek doen nie, ek sal altyd by die Akademie uitkom :-). Toe vind ek Rina Loader wat in Wenen Afrikaans doseer. Sy het ʼn grammatikaboek vir my gestuur en toe bied sy aan om oefeninge na te lees. Dis als so kosbaar vir my en ek waardeer dit ontsettend baie.

Daar het orals bande van vriendskap ontstaan. Al die mense skryf Afrikaans vir my asof dit mý moedertaal is! Hulle stel my gereeld bloot aan sekere idiome en vaste uitdrukkings. As ek sekere dinge nie verstaan het nie, verduidelik hulle met graagte wat dit beteken. Dit help my om dié mense en hulle taal te leer ken. Ek sien hoe ryk, snaaks en soms hoe kwesbaar Afrikaans is. Ek het aan mense en hulle taal geheg geraak. En dis net dié wat dit spesiaal maak. ʼn Taal is niks sonder die mense wat dit praat nie. Ek leer nie net die taal nie, ek is ook besig met die mense. Afrikaans het so ʼn deel van my lewe geword. Mense sien dit raak hoe baie ek belang stel. Ek het baie oulike en dierbare mense leer ken. Ek het ʼn reusagtige hulpvaardigheid leer ken. Ek het ʼn deel van ʼn gemeenskap geword en ons lag ook te lekker oor my kwinkslae of foute wat soms snaaks is.

Alexander Mickel (Foto: Vanessa Ly Pham)

Alexander Mickel (Foto: Vanessa Ly Pham)

En ek het baie pret met die taal. Het julle geweet Afrikaans bevat woorde wat in my Duitse dialek aangetref word? Die Duitse woord vir “emmer” is “Eimer”, maar in my dialek sê ek “Emmer”. “Traktor” is die Duitse woord vir trekker. Wat dink julle wat sal ek sê? Heeltemal in die kol! “Trecker”! My Engelse en Duitse e-posse bevat Afrikaanse woorde en ek moet altyd drie keer lees voordat ek iets stuur! Duitsers wonder beslis daaroor hoekom skryf ek “kosbaar” in plek van “kostbar”. Of ek gebruik ʼn tweede ‘nie’; die mense dink beslis ek is heeltemal mal! Ek bevorder ook die taal op ʼn piepklein skaal ;-). As ek haarkapper toe gaan en geld vir die meisie gee, sê sy soms “dankie” vir my (sy weet dit laat my glimlag) en een keer het sy “Beie Danki” op die kwitansie geskryf (sy skryf dit soos sy dit gehoor het) en toe lag ons te lekker. Sy het laas probeer “pragtig” sê – was baie snaaks!

Ek wil graag my brief afsluit deur ʼn paar bemoedigende woorde te sê. Ek wil graag mense aanmoedig om hulle eie woorde te gebruik om te sê wat hulle dink of voel. Op die internet kom ʼn mens uit by sekere frases: Afrikaans is hierdie en Afrikaans is daardie. Ja, dis reg, maar dis herhalend, kunsmatig en dis stilstand en ons wil dit nie hê nie! As iets inflasionêr gebruik word, sal ʼn tyd kom waar hulle niks meer werd is nie. Afrikaans is meer as ʼn klomp mooi herhalings! Verwoord eie indrukke! Wees individueel! Vertel jou storie! En as ʼn mens in hierdie geval in staat is om iemand se hartstaal te gebruik, word presies hierdie baie kosbaar en ʼn mens gaan die mense op ʼn ander vlak bereik. In daardie oomblik word ‘n band tussen mense gesmee. En dan behoort dit ook nie belangrik te wees of daar foute is of nie. My Afrikaans is darem ook nie veronderstel dat dit foutloos is nie. Maar ek is seker my Afrikaans sal al die mense bereik wat my toelaat om by hulle harte uit te kom.

Beste wense vanuit Duitsland,
Alex

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

24 Kommentare

Bosbok ·

Dit is nou sowaar n pragtige brief en ek voel sommer trots op my taal. Terselfde tyd het ek skuldig gevoel oor die mooi /groot woorde wat hy gebruik – wat ek self bitter min gebruik of selfs n Engelse woord gebruik. Dankie Alexander vir jou liefde vir my moeder taal en ek hoop jy kan eendag SA besoek – die Kaap in besonders :)

Paul Kruger ·

Herzlichen Dank, Alexander! Meine Situation ist genau die Deiner…nur umgekehrt! Viele Grüße aus Pretoria.

Anélia Marais ·

Alexander – as ek ooit spyt was dat ek my wetenskaplike artikel in die SATNT gepupliseer het nie, sou dit verander het omdat dit gemaak het dat ons mekaar leer ‘ken’ het – al is dit nou net via die elektroniese woord! Jou taalgebruik is so goed – jy sal menige moedertaalskrywer op die neus laat kyk☺ Baie dankie, en ek stem met “Bosbok” saam – jy moet in die Kaap kom kuier!

Peet ·

Alexander, jy maak hierdie Vrydag 17/02/2017. Ek wens ek kon met jou ‘n gesprek voer. Dankie vir jou geesdrif en toewyding. Groetnis.

Patrys ·

WOW! Dankie Alexander vir die besonderse mooi brief in my moedertaal. Dis ongelooflik dat jy jouself die taal leer praat het. Ons het ‘n baie ryk taal en ‘n nog ryker geskiedenis. Alles wat ons daagliks voor veg om te beskerm en te bewaar. Dis ‘n riem onder die hart om te weet iemand soos jy in verre Duitsland ag ons taal so besonders dat jy dit wou leer praat en skryf. Baie dankie! Maak die stryd wat ons voer vir ons kinders en ons nageslag die moeite werd.

Elbie Stewart ·

Hierdie man se gebruik van afrikaans is iets om te bewonder. Daar is duisende afrikaanse moedertaalsprekers wat nie dieselfde woordvernuf het as hierdie vreemdeling nie en dan nog boonop die geskrewe taal verkrag deur die aaklige sogenaamde sms/mxit skryfstyl te gebruik.

Alexander Mickel ·

BAIE DANKIE vir almal wat ‘n kommentaar gelewer het of ‘n kommentaar sal lewer! Ook op Facebook! Ek waardeer dit baie! Ek het geen Facebook nie, maar ek kan julle mooi terugvoer sien! Ek gebruik dus hierdie kans om op Maroela Media baie dankie te sê! Julle woorde beteken baie vir my en hulle raak my ook! Dankie! :-)

Friedrich von Solms ·

As gebore Afrikaans sprekene, woonend in Duitsland, knap gedaan. Ek het ook vele Platdiets vriende, ek beleef ook die ooreenkomste daagliks.

Ludwig Visser ·

Wunderbar, Alex! Ek sou baie graag met hom in gesprek wil tree. Is sy epos-adres iewers beskikbaar? Hy het my moedertaal aangeleer, ek het sy moedertaal aangeleer, so ons sal; lekker kan egsels! As iemand die adres het, laat weet asseblief by [email protected]

Jaco Grobler ·

Fantasties! Eerstens, natuurlik gaan jy Afrikaans gebruik, jy MOET kom kuier, hier by my in Pretoria is jy welkom, jy kan Maroela nader as jy wil kom kuier dan baklei ons onder mekaar by wie jy eerste gaan bly. Jy praat van verwoord jou eie indrukke…my meisiekind was nog klein toe sy eendag naar woord, haar woordeskat was nog beperk. ‘in sluk’ het sy geken want ouers voer jong kinders mos baie en gebruik die woorde gereeld, toe trek sy los met: ‘Mammaaaaaaa, ek wil ‘uitsluk’ Ons het ons papies gelag oor die woord, en gebruik dit natuurlik tot vandag toe nog!

Tascha ·

Lekker lag ek nou vir jou storie al klink dit dalk vir ander na iets wat mens nie regtig op sosiale media moet of mag deel nie…. my seuntjie 6 kan nie opbring sê nie hy verwys na die naar word proses as opkots ek probeer simpatiek voorkom maar innerlik wil ek my pap lag vir die kind!

Rina Kotze ·

Baie trots op jou Alexander.

Ek het Duits as Matriekvak gehad, ‘n derde Taal! Ek praat nog bietje, maar skryf bitter min Duits, maar sing nog bietjie in Duits!

Vielen Dank aus Vredenburg

Gerhard ·

Alexander, kontak vir prof dr. Cilliers Breytenbach by die Humbolt Universiteit. Hy is ‘n Suid-Afrikaner wat al lank daar betrokke is en hy kan jou dalk verwys na iemand on jou verder te help alhoewel jou Afrikaans uitstekend is.

Louis van Biljon ·

Alex, baie dankie vir jou kosbare brief. Ek wag dat jy Suid-Afrika toe kom. Ons huis in Bloemfontein staan oop vir jou. Jy kan bly so lank as wat jy wil. Jy kan my kontak by [email protected]
Baie groete uit Bloemfontein.
Louis van Biljon

Bokkie ·

Dis wonderlik Alexander, ek woon al langer as 20 jaar in Duitsland en is met ‘n Duitser getroud.My man is vlot in Afrikaans en ons huistaal is ook Afrikaans.Ons spot graag deur te sê, sodra jy oor ons deur drumpel stap is jy in Suid Afrika! Hy klink eg Afrikaans en dit het al meermale gebeur dat ek as Duitser gesien word en hy as Suid Afrikaner. Hy praat self s Engels met ‘n Afrikaanse aksent. Dit kom selfs voor dat hy my Afrikaans soms korrigeer. My skoonouers kan al bietjie Afrikaans praat en hulle verstaan alles wat ons so gesels.Heerlik om so iets op Maroela te lees.

Louis C Prinsloo ·

Goeie voorbeeld Alex
Afrikaans is spesiaal ja, elke taal is trots en uniek. Soos jy dit ook stel, kan ek beklemtoon; mense maak ‘n taal. Sodra mense saam kan praat in dieselfde taal, kruip die taal in mens se hart in; tog kan ‘n ander taal nooit moedertaal uitvee nie. Dankie vir jou passie vir afrikaans en mede afrikaans sprekendes

Wilmien ·

Alex, ek het ‘n vriendin in Leipzig, wat hulp-klasse vir Afrikaanse studente gegee het. Sy is nogsteeds daar woonagtig. Ek het saam met haar die klasse bygewoon 1994. Miskien moet jy die Leipzig üni kontak?

Tascha ·

Sjoe dis ongelooflik dat jy jouself kon leer om ons pragtige taal so mooi te kan lees skryf en praat. Ek het as kind aan my Oupa se knie Flaams leer praat, hier en daar verstaan ek nog die taal maar saam praat of dit lees sal vir my soos nag wees. Hou so aan Alexander wel gedaan hier het jy n hele klomp Afrikaanse vriende wat jou met graagte sal ondersteun en help om die ryke kultuur en geskiedenis wat elkeen van ons so wonderlik uniek maak te verstaan. Doen so voort.

Nicolene ·

Alex

Jy is n inspirasie vir so baie! Ongelooflike stukkie afrikaans! Wow jyt my om getik met n veertjie! Welgedaan!

Henrietta Klaasing ·

Wat ‘n inspirasie Alex! Veel beter taalgebruik as sommige jong mense s’n. Ek het in 1957 in “staderd 6” (die agste skooljaar) Duits geneem soos al die kinders in ons skool. Dit was algemeen in Suid-Afrika daardie jare. Ongelukkig veel daarvan verleer deur die jare. Het nog ‘n effense leeskennis. Voorspoed toegewens en ek hoop jy kom eendag nog in SA kuier.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.