ʼn Afrikaanse pyplyn: Die toekoms van Afrikaans in die onderwys

Argieffoto (Foto: Free Photos/Pixabay)

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) het op 21 Mei 2020 Taalportaal en Taalonderrigportaal bekendgestel. Ons het die dag gekies omdat dit Unesco se Wêrelddag vir Kulturele Diversiteit vir Dialoog en Ontwikkeling is, en ons het beplan om ʼn makietie in Pretoria te hou om die geleentheid te vier, maar die koronapandemie het ons planne in die wiele gery. Die virtuele bekendstelling was egter net so ʼn groot sukses, en ons het deelnemers van oral oor die wêreld gehad wat die sessie meegemaak het.

Die sprekers wat by die geleentheid sou optree, het ingestem om steeds met ons hulle kennis en wysheid te deel. Dr Theuns Eloff van die Dagbreek Trust en die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO) was ons gasspreker. Ons het hom gevra om oor drie sake te praat:

  1. Watter uitdagings staar Afrikaans in die onderwys in die gesig?

Dr Theuns het hier drie uitdagings uitgelig:

  • Enkeltalige Afrikaanse skole is onder druk om dubbelmedium te word, en dit is bewys dat dubbelmediumskole maar eintlik uiteindelik verengels.
  • Kleuterskole verengels, wat beteken dat kinders wat eintlik Afrikaans moet begin skoolgaan, verengels. Die eienaars van hierdie kleuterskole, veral in die stede, meen dat hulle nie genoeg inskrywings gaan hê as hulle die kleuterskole Afrikaans hou nie, en kort voor lank verengels die hele skooltjie.
  • Universiteite verengels. Dit is net die NWU se Potchefstroomkampus en die Universiteit Stellenbosch wat nog volledige grade in Afrikaans aanbied.
  1. Wat doen die TAO om hierdie uitdagings die hoof te bied?

Die TAO se oogmerk is om die pyplyn vir Afrikaanse onderwys in stand te hou. Dit kom daarop neer dat ʼn leerder van kleuterskool af tot op tersiêre vlak in Afrikaans opgelei moet kan word, want as hierdie pyplyn iewers breek of lek, verloor ons sprekers aan Engels. Die TAO het twee strategieë om hierdie oogmerk te bereik:

  • Help skole en universiteite wat reeds Afrikaans is om Afrikaans te bly. Dit word gedoen deur seker te maak dat Afrikaanse skole se getalle sodanig is dat provinsiale onderwysdepartemente nie rede het om druk op skole te plaas om dubbelmedium te word nie, en om die gehalte van onderrig in hierdie skole so goed te maak dat ouers dit as voordelig beskou om hulle kinders by dié skole in te skryf.
  • Help om privaat inrigtings te skep wat enkeltalig-Afrikaans is. Hieruit het die Afrikaanse Onderwysnetwerk en die MOS-inisiatief gevloei wat skoolonderrig in medium Afrikaans ondersteun en versterk. Die TAO ondersteun ook Akademia en Sol-Tech, wat reeds hulle spore as Afrikaanse opleidingsentra verdien het.
  1. Hoekom het die TAO by VivA betrokke geraak?

VivA het spesifiek ten doel om Afrikaans se hoë funksies (d.i. navorsing) uit te brei. ʼn Taal sterf gewoonlik “van bo af” – as hy van sy hoë funksies ontneem word (soos navorsing op universiteitsvlak), verloor hy vinnig sy ander funksies ook en eindig hy gewoonlik as ʼn spreektaal wat nog net onder gesinslede by die huis gepraat word. VivA se oogmerke om Afrikaans se grammatika te beskryf en om navorsing oor Afrikaans te akkommodeer en aan te moedig, pas netjies in by die TAO se visie om die hele pyplyn vir Afrikaans in stand te hou.

VivA is baie dankbaar vir hierdie ondersteuning, en sien uit daarna om saam met die TAO aan die volgende fase van die projek te werk, naamlik die uitbou van hierdie navorsing en die beskikbaarstelling van die inhoud aan die hele taalgemeenskap.

Dr Theuns se hele toespraak is op YouTube beskikbaar. Klik hier om daarna te kyk.

In die volgende blog plaas ons prof Gerhard van Huyssteen, die projekleier vir Taalportaal en Taalonderrigportaal, se verduideliking oor hoe VivA se navorsingsprojek hierdie pyplyn-idee ondersteun.

VivA-groete

Sophia

Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
BoerSonderRoer

Afrikaans is die taal van die toekoms.

melaney

Afrikaans is ‘n pragtige taal, maar net wanneer dit ‘suiwer’ gepraat word.

Anel

Afrikaanse kinders en jongmense is veral gesog in die buiteland ook. Omdat hulle hardwerkend is en hulle nie steur aan allerhande fieterjasies nie. Het dit ondervind toe ons dogter gaan au pair het. Die agentskap het gesê dat daar groot aanvraag na ons Arikaanse jongmense is en dat hulle eerste keuses is. Selfs ons afgestuurde, Afrikaanse jongmense. Om in Afrikaans groot te word, skool te gaan en te studeer berei ons jongmense uitstekend voor vir die grootmens wêreld. Afrikaanse jingmense staan ook altyd uit as goed gemanierd, goed op gevoed en goed gebalanseerd. Trots Afrikaans.