ʼn Visie vir onderwys in die digitale era

Daan Potgieter, die uitvoerende hoof van die Afrikaanse Onderwysnetwerk, het tydens die bekendstelling van VivA se Taalportaal en Taalonderrigportaal gesels oor die uitdagings en moontlikhede wat die vierde nywerheidsrewolusie vir die onderwys bied.

Die pandemie, die omvang en die aard daarvan, het die hele onderwyslandskap geskud, meen hy. Die geykte onderwysmodelle wat nou al dekades, indien nie eeue nie, gevolg word, het geblyk ontoereikend te wees in hierdie omgewing waar skole moes sluit en leerders geen fisieke kontak met onderwysers kon hê nie.

Volgens Daan het die pandemie ons ʼn unieke geleentheid gebied om nuwe onderwysmodelle te ontwikkel waarmee die krag van digitale hulpbronne ingespan kan word, maar terselfdertyd het dieselfde pandemie die volgende uitdagings uitgewys:

  • Suid-Afrika is onvoorbereid op die moontlikhede wat ʼn digitale onderwysruimte bied.
  • Daar is ʼn enorme gaping tussen mense wat toegang het tot digitale inligting en die platforms waarop digitale inligting geplaas word, en dié wat nie het nie, hetsy weens ʼn gebrek aan data of weens ʼn gebrek aan toerusting soos skootrekenaars of tablette.
  • Daarbenewens is die aard van die inhoud wat op hierdie platforms gehuisves word, ʼn uitdaging, want dit help nie ons sit die huidige patroon voort waar ons aan leerders inligting gee en dan bloot van hulle verwag om dit weer te gee nie. Leerders moet inhoud kry wat relevant, toepaslik en toepasbaar is.

Die Afrikaanse Onderwysnetwerk het juis ten doel om met vennote in die onderwys- en taalwêreld – waarvan VivA een is – inhoud te skep wat relevant is vir die eeu waarin ons ons bevind, en het reeds met rolspelers soos dataverskaffers in gesprek getree om maniere te vind waarop hierdie platforms vir almal toeganklik gemaak kan word.

Nog ʼn oogmerk van die AON is om onderwysers se potensiaal te ontwikkel om leerinhoud op ʼn innoverende manier by leerders uit te kry, en om leerders vaardig te maak om hierdie kennis op digitale platforms te gaan ontsluit sodat die hele leerproses vir leerders en ouers toeganklik raak.

Te midde van hierdie pandemie moet die onderwyssektor dus ernstig besin, nie net oor die “hoe” nie, maar ook die “wat” van onderwys, oor die onderwysmodelle wat ons tans het en dié waarna ons streef, sodat die onderwyser in die klas sy of haar taak en roeping ten volle kan uitleef, en die leerders ten beste daarby kan baat.

Kyk gerus na Daan se hele gesprek op die video:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.