Namibiër maak digdebuut op 79

Prof. Andree-Jeanne Tötemeyer en haar man, prof. Gerhard Tötemeyer. (Foto: Verskaf)

“Jakkals nooi vir Gansie: “Kom eet
vanaand by my. Daar’s heerlike ou kossies en uintjies uit
die vlei.”
“Nee dankie,” sê die Gansie, “al staan jy
op jou kop.
As ek vanaand by jou kom eet, eet jy my
seker op.”

Ons almal ken dié alombekende kinderrympie waar Gansie vir Jakkals mooi laat verstaan dat sy nie vir skelmstreke val nie.

Maar het jy geweet dat dit deur Henriëtta Christiana Neethling (1864-1955) geskryf is? En dat haar kleindogter van dié skryfgene oorgeërf het?

Prof. Andree-Jeanne Tötemeyer (79), Neethling se kleindogter, se jarelange droom om haar eie kinderversebundel te publiseer, het onlangs waar geword. Kaalvoet in die reën en ander verse vir kinders is ʼn versameling verse wat sy oor 25 jaar geskryf het, maar in laaie gebêre of op haar rekenaar gestoor het.

Tötemeyer is in Augustus 2019 tydens die Windhoek Woordfeesprys bekroon met die prys vir Afrikaanse poësie in die kategorie vir volwassenes. Elizma Theron, uitvoerende hoof van Netwerk, ’n organisasie wat by die fees betrokke is en met veral bemarking van die geleentheid help, sê die toekenning het gelei tot Tötemeyer se bundel.

“Die prys wat aan Tötemeyer toegeken is, het in ʼn groot mate die publikasie van haar bundel geïnspireer. Die verskyning van Kaalvoet in die reën en ander verse vir kinders moet nou behoorlik gevier word,” sê Theron.

“Jakkals nooi vir Gansie” het in Neethling se bundel Skoenlappers en bye verskyn. Van haar gedigte is in DJ Opperman se Kleuterverseboek en Klein Verseboek opgeneem. Neethling was ook bekend vir haar komposisies en van haar musiek word nou in die Konserwatoriumbiblioteek in Stellenbosch bewaar.

Tötemeyer is die vierde generasie wat by die skryf van kinderliteratuur betrokke is. Buiten haar ouma was haar oumagrootjie, Maria Murray-Neethling (1831-1912), en haar ma, Helene Pienaar-de Klerk(1905-1997), ook skrywers.

Murray-Neethling het meer as 30 boeke in Nederlands en Engels geskryf, die meeste daarvan word by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein bewaar. Sommige van haar werk was geskik vir jonger lesers, soos die boek Zondag Achtermiddag en Aangename Zondagen, ʼn versameling gedigte en stories. Die herdruk hiervan het in 1898 verskyn, dus reeds voor die Anglo-Boereoorlog.

Murray-Neethling was met ds. Johannes Henoch Neethling (1826-1904) getroud. Hy was veral bekend vir sy aandeel in die stigting van die Teologiese Kweekskool in Stellenbosch (1859), die bou van die Moederkerk in Stellenbosch (1863), Meisieskool Bloemhof (1875) en Stellenbosch Gymnasium (1866) (die huidige Paul Roos Gimnasium) waaruit Victoria Kollege (1887), wat nou die Universiteit Stellenbosch heet, voortgespruit het. Ds. Neethling is met ’n standbeeld langs die Moederkerk in Stellenbosch vereer. Hy was goed bevriend met ds. Andrew Murray en het in 1852 met sy suster, Maria, getrou.

Pienaar-de Klerk was bekend vir haar kinderpoësie, verhale en toneelstukke, sowel as radiovervolgverhale vir kinders. Sy was ook ʼn aktrise en radiopersoonlikheid. Tötemeyer volg in die voetspore van haar ma en skryf ook verhale, toneelstukke en nou eindelik poësie vir kinders.

Tötemeyer het in 1984 haar doktorsgraad behaal, sy is ʼn lid van internasionale organisasies soos die Vereniging vir kinderboeke, skrywers en illustreerders (SCBWI), en het oor die jare meer as 90 referate wêreldwyd gelewer by konferensies, seminare en simposia.

Sy het ook al verskeie pryse en eerbewyse ontvang waaronder die Suid-Afrikaanse Biblioteekvereniging se Silwer Jubilee-prys vir beste student by die Universiteit Stellenbosch in 1968, ʼn senior navorsingstoekenning by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Biblioteek- en Inligtingkunde (SAILIS) in 1994 en in 2008 is Tötemeyer deur die Namibiese Kinderboekforum vereer vir haar lewenslange bydrae tot die ontwikkeling van kinderliteratuur en die bevordering van ‘n leeskultuur onder Namibiese kinders.

Kaalvoet in die reën en ander verse vir kinders is geskik vir ouers, grootouers, opvoeders, kleuterskool-, preprimêre en laerskoolonderwysers. Dit is gepas vir voorlees aan kinders, vir die onderrig van en voordrag vir skoolgaande laerskoolkinders en vir selflees deur kinders tussen 10 en 12 jaar.

Die bundel bestaan uit 147 rympies, versies en gedigte. Daar is agt afdelings wat volgens bepaalde ouderdomsgroepe en/of temas gegroepeer is en enkele verse in Engels is ingesluit vir die gebruik in dubbelmediumskole. Illustrasies is deur Heidi Louw gedoen. Lesers kan ʼn e-pos stuur by [email protected] om meer oor die bundel te wete te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Marianna

Baie geluk Prof Andree-Jeane. Ons het sulke boeke vir kinders in Namibia nodig.