Navorsingsprojek oor Afrikaanse aanspreekvorme

Argieffoto

“Moenie my jy-en-jou nie” is ʼn ou uitdrukking in Afrikaans. Is dit hoe ons vandag nog voel? Of hou ons daarvan om baie formeel as “u” aangespreek te word? Help prof. Bosman om uit te vind!

Prof. Nerina Bosman van die Departement Afrikaans by die Universiteit van Pretoria is besig met ’n omvattende navorsingsprojek oor aanspreekvorme in Afrikaans. Hiervoor het sy geldelike steun by die Nasionale Navorsingstigting gekry. Haar medespanlid is prof. Annél Otto van die Nelson Mandela Universiteit.

Hulle is tans besig om uitgebreid inligting in te samel oor die maniere waarop ons mekaar in Afrikaans aanspreek. Dit gaan oor aanspreekvorme soos “u” en “jy”, die sogenaamde sydelingse aanspreekvorme (“Mamma, sal mamma my help asseblief?”), die gebruik van “oom” en “tannie” (en allerlei variante wat moontlik is, soos “uncle”, “oompie”, “auntie”, “antie”, “tante”, “tant” en so meer).

Hulle is ook geïnteresseerd in interetniese aanspreekvorme (dus oor rasgrense heen) soos “baas”, “nooi”, “miesies”, “master” en natuurlik baie meer. Aanspreekvorme kan as barometer dien vir verhoudings in ’n samelewing. Prof. Bosman en Otto wil daarom ook graag weet hoe die vorms (miskien) verander het of aan’t verander is. Sê kinders byvoorbeeld nou vir hulle ouers “jy”? Hoe staan dit met Afrikaanse kinders in ʼn Engelse skool: sal hulle die onderwyser in die Afrikaanse klas dalk “jy” en “jou”?

Die navorsers het ’n elektroniese vraelys opgestel, maar sal ook graag onderhoude voer met geïnteresseerdes. Prof. Bosman nooi dus belangstellendes uit om aan haar te skryf by [email protected], of per gewone pos aan Departement Afrikaans, Universiteit van Pretoria, 0002. Almal wat Afrikaans (kan) praat, is uiteraard baie welkom om deel te neem!

Klik hier om aan die opname deel te neem, dit sal jou net ‘n paar minute lank neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Statistikus ·

Dit is biografiese inligting wat ons benodig om vas te stel watter kontrei se mense watter tipe aanspreekvorme gebruik.
Dit is tog immers waaroor die projek handel.

Statistikus ·

Dit is biografiese inligting wat ons benodig om vas te stel watter kontrei se mense watter tipe aanspreekvorme gebruik.
Dit is tog immers waaroor die projek handel.

Statistikus ·

Ons benodig daardie biografiese inligting juis om te bepaal watter aanspreekvorme deur wie in watter kontrei gebruik word.

George ·

Brei hierdie projek uit na ‘n ondersoek oor die “roekelose” gebruik van beroepsomskrywings as titels. Die mees misbruikte “titel” is “advokaat” of “Adv.” soos so baie van sommiges met ‘n “LL.B” graad doen en dan in ‘n “winkel” werk. ‘n Advokaat is iemand wat in die Hooggeregshof as advokaat praktiseer en niks anders nie. Sodra jy in ‘n “winkel” begin werk is jou beroepsomskrywing “winkelassistent” en word jy nie aangespreek as Advokaat nie.

Pierre ·

Voorwaar ‘n interessante studieprojek – ek sou graag die bevindinge na die voltooiing van die projek wou lees. Interessant vir my is dat kinders en jongmense, volgens my alledaagse waarnemening, deurgaans van die “sydelingse” aanspreekvorm gebruik maak. Dan ook die tipiese Afrikaanse reeds gryswordendes wat lustig “oom” of “tannie” waar hulle liefs moes “u” – nogal n irriterende klippie in die skoen!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.