Neem deel aan die WAT se nuutskeppingskompetisie

Dit is weer tyd vir die Woordeboek van die Afrikaanse Taal se jaarlikse Nuutskeppingskompetisie.

Dié kompetisie word aangebied in samewerking met Monitor op RSG, die US Woordfees en die ATKV.

Stuur nou jou nuutskepping of nuutskeppings per e-pos aan [email protected] met “Nuutskeppings” in die onderwerpsveld. Die eerste vyf nuutskeppings word reeds op 4 Maart 2019 aangekondig waarvoor RSG-luisteraars kan stem. Die sluitingsdatum vir alle nuutskeppings is op 5 Maart 2019.

Vanaf Maandag 4 Maart word daar elke dag op Monitor vyf woorde gegee waarvoor luisteraars kan stem op RSG se webtuiste by rsg.co.za (kyk by “Kitspeiling”).

Daar is elke dag ʼn kontantprys van R500.00, geskenk deur die ATKV, en die uiteindelike wenner word Vrydag aangekondig. Dié persoon wen vier dae vir vier persone in ‘n ATKV-oord van die wenner se keuse.

Waarvoor moet nuutskeppings gemaak word?

Jy kan ʼn nuwe woord maak vir ʼn nuwe konsep waarvoor daar nog nie ʼn woord bestaan nie, iets soos hommeltuig (“drone”), of jy kan ʼn nuwe woord maak vir iets wat nog nooit voorheen werklik benoem is nie, soos weggenoot vir ʼn eksman of eksvrou, of vonkelwater vir gebottelde water “met prik” soos die Nederlanders sê. Dit kan, maar hoef nie noodwendig ʼn Afrikaanse ekwivalent vir ʼn Engelse woord te wees nie. Dit hoef ook nie te rym, of van die “woepsie-wapsie”-tipe woorde te wees nie.

Prystrekking vir Sanlamprys van R25 000

Op 7 Maart om 13:30 neem Tracey Lange die Prystrekking waar vir die Sanlamprys van R25 000 by die Borg ‘n Woord-stalletjie by die Adam Small-teater by die Woordfees. Maak seker dat jy vir hierdie ronde se prystrekking kwalifiseer deur vroegtydig (weer) ‘n woord te borg of te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.