Nominasies vir ATR se Kokertoekennings nou oop

Marlie Coetzee en Karien Brits is in 2022 met Kokertoekennings vereer. (Foto: Maroela Media)

Sandra Prinsloo, Danny Titus, Shaleen Surtie-Richards, Mariëtta Kruger en Ton Vosloo is onder die invloedryke mense in die taalwêreld wat voorheen deur die Afrikaanse Taalraad (ATR) met ʼn Kokertoekenning bekroon is.

Ander ontvangers van die pryse sluit Marlie Coetzee, Karien Brits, Renaldo Schwarp, Sue Pyler-Slabbert en Barron Hufkie in.

Nominasie vir dié gesogte pryse kan nou ingestuur word, en lede van die publiek word aangemoedig om mense wat ʼn verskil in en met Afrikaans maak, te benoem. Die doel van die Kokertoekennings is om erkenning aan mense te gee wat besondere bydraes tot Afrikaans gemaak het.

Die Kokers word in vier kategorieë toegeken:

  • Kokers vir besondere prestasie

Die prys word jaarliks aan mense oorhandig wat ʼn wesentlike bydrae tot een of meer van die volgende drie subkategorieë gemaak het: Bevordering van Afrikaans, beskerming van Afrikaans en bemagtiging deur Afrikaans. Wenners in hierdie kategorie het gewoonlik ʼn lang betrokkenheid by Afrikaans en die Afrikaanse taalgemeenskap.

  • Spesiale Kokers vir ʼn lewenslange bydrae tot Afrikaans

Toekennings in hierdie kategorie is daarop gemik op afgetredenes of mense aan die einde van hulle loopbaan, te vereer.

  • Jeugtoekennings

Die kategorie dien as aansporingsprys en bekroon jong mense onder 35 wat Afrikaans op nuwe maniere bedink en besig, en wat entoesiasme vir die taal onder ander jeugdiges kweek.

  • Spesiale toekenning vir beste onderwyser

Hierdie toekenning is vir onderwysers wat leerders deur Afrikaans bemagtig en daardeur hul kanse op sukses verhoog.

Finaliste word gekies op grond van die inligting wat deur die nomineerders verskaf is, of wat andersins deur die ATR bekom is. Die Taalraad se keuse is finaal en die wenners word gedurende die Kokergeleentheid bekendgemaak.

Besoek die Afrikaanse Taalraad se Facebook-blad om meer oor die nominasieproses te wete te kom. Die proses behels dat ʼn aansoekvorm ingevul en teen 25 Oktober aan Marekyn Kruger-Evert gestuur word na [email protected].

Vanjaar se wenners sal aan die einde van November aanlyn op die ATR se sosialemediaplatforms bekendgemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.